Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Wildboer van Limpopo se moordenaars gevonnis

Meer as vier jaar nadat ’n gesiene wildboer van Limpopo op sy plaas vermoor is, is sy twee moordenaars skuldig bevind en gevonnis.

John-Paul Johannese en Ruben Miles (33), wat al voorheen weens etlike misdrywe tronkstraf uitgedien het, is verlede Donderdag in die streekhof in Modimolle skuldig bevind aan die moord op Piet Venter (51).

Mona Oosthuizen (51) in 2015 buite die landdroshof in Bela-Bela, Limpopo. Foto: Theana Breugem

Venter is op 13 November 2015 in sy huis op die wildplaas Chabeng Hunting Safaris in die Rooibergdistrik vermoor.

Hy is oorval, vasgebind en met ’n serp verwurg. Luidens die klagstaat het hy versmoor. Sy lyk is daarna in ’n mat toegedraai. ’n Kluis met geld, patrone en ’n vuurwapen is kort ná sy moord in ’n veld buite Bela-Bela gekry.

Venter was skatryk en is deur vriende beskryf as “ ’n man met ’n goeie hart”.

Hy het kort voor sy moord wild verkoop en het duisende rande daarvoor gekry.

Streeklanddros Pieter Manthatha het Johannese en Miles ook skuldig bevind aan sameswering tot moord, huisbraak met die opset om diefstal te pleeg en roof met verswarende omstandighede.

Johannese is tot effektief 30 jaar tronkstraf en Miles tot effektief 20 jaar tronkstraf gevonnis.

Johannese het vier vorige veroordelings. Hy het al tronkstraf uitgedien vir roof met verswarende omstandighede, aanranding, diefstal en bedrog.

Miles het al weens huisbraak tronkstraf uitgedien.

Die twee mans se medebeskuldigdes, Mona Oosthuizen (51), haar seun, Christopher Joubert (22), en Louisa Rico (44) is elk ’n opgeskorte vonnis opgelê.

Oosthuizen was Venter se vriendin toe hy vermoor is. Sy is skuldig bevind aan sameswering tot diefstal en is tot drie jaar tronkstraf, wat in geheel vir vyf jaar opgeskort is, gevonnis.

Piet Venter (51) is in November 2015 op sy wildplaas in die Rooibergdistrik in Limpopo vermoor.
Louisa Rico (44) toe sy in 2015 weens die moord in die landdroshof in Bela-Bela verskyn het. Foto: Theana Breugem

Joubert, wat vantevore op die plaas gewerk het, is ook skuldig bevind aan sameswering om diefstal te pleeg en is ’n boete van R6 000, of drie jaar tronkstraf, wat in geheel vir vyf jaar opgeskort is, gevonnis. Hy was 18 toe Venter vermoor is.

Rico, wat ’n vriendin van Oosthuizen is, is ook aan sameswering om diefstal te pleeg skuldig bevind. Haar straf is ook drie jaar tronkstraf, wat vir vyf jaar opgeskort is.

Johan du Toit (64), wat destyds ook in hegtenis geneem is, het ’n ooreenkoms met die staat aangegaan en was een van die staat se belangrikste getuies. Die Pos, ’n plaaslike koerant, het berig Du Toit het aan die hof gesê dat die plan om Venter te vermoor en te beroof beraam is nadat Venter nie geld vir Rico wou leen nie. Dit moes glo soos ’n plaasmoord lyk.

Venter was ongetroud.

Meer oor:  Wildboer  |  Limpopo  |  Moordenaars
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.