Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Windbuks-saak: ‘Niemand weet nog hoe huurder dood is’

Niemand het glo gesien hoe Sandra Swart vir Claude Lombard raakskiet nie – óf weet of die windbuksskoot wat sy Sondag glo geskiet het, regtig sy dood veroorsaak het nie.

Claude Lombard. Foto: Facebook

So sê die 30-jarige vrou se familielede en regsverteenwoordiger nadat sy Sondag op ’n klag van moord in hegtenis geneem is.

Swart het Dinsdag in die landdroshof in Pretoria verskyn waar die klagstaat gelui het dat sy Claude Lombard (49) met ’n windbuks doodgeskiet het.

“Ek dink nie sy weet eens hoe die windbuks werk of dat sy ooit voorheen daaraan geraak het nie. Sy en haar man het nie ander vuurwapens in die huis nie. Die windbuks staan by die voordeur vir slange, omdat hulle op ’n hoewe bly. Dis ’n klein kaliber,” sê ’n nabye familielid wat anoniem wil bly.

Swart se prokureur, Latham Dixon, wou nie kommentaar lewer op die bewerings nie, omdat die saak teen sy kliënt nog aangehoor moet word.

Hy het wel gesê 'n lykskouingsverslag is nog nie beskikbaar nie en “dus kan niemand in die stadium sê hoe hy dood is en of dit weens ’n skietwond is nie”.

Verskeie mense het Netwerk24 gekontak om “Sandra se weergawe” te stel, veral nadat hulle gehoor het sy moet tot later die maand in aanhouding bly voordat sy ’n formele borgtogaansoek kan bring.

Sandra Swart. Foto: Facebook

Daar is vroeër berig die Swart-gesin huur ’n huis op ’n hoewe in Olympus, in die ooste van Pretoria. Die swembad is byna teen hul huis. Daar is ook ander huurders in kothuise op die hoewe, waarvan Lombard een was.

Dit is ’n gemeenskaplike swembad, dus is die ooreenkoms met die huurders glo dat almal finansieel bydra tot die instandhouding daarvan. Swart se man het dit egter glo meestal uit sy eie sak versorg, omdat nie almal by dié ooreenkoms gehou het nie.

“Daar was gereeld mense wat by die swembad raas en kuier. Net as dit erg raak, het Sandra-hulle die mense gaan stilmaak,” sê die bron na aan die Swart-egpaar.

Oor die afgelope Sondag se gebeure sê sommige hulle hoor dat Lombard die middag by die swembad lawaai het. Swart het hom glo gaan stilmaak.

’n Foto vanaf die lapa op die hoewe, wat die afstand toon wat Sandra Swart se huis vanaf die swembad is. Foto: Verskaf

“Mnr. Lombard het blykbaar vir Sandra gevloek. Sy het in die deur van haar huis gestaan, die windbuks gevat en ’n skoot geskiet. Sy het nie haar bril opgehad nie en kan nie goed sien daarsonder nie. Dit klink of sy nie eens bedoel het om die sneller te trek nie.

“Mnr. Lombard het sy bottel drank, wat langs die swembad gestaan het, opgetel, omgedraai en weggestap. Sandra-hulle het eers besef iets is fout toe die ambulans later opdaag,” vertel die familielid.

Vriende van die Swart-egpaar sê haar man is “in flarde”.

“Hy is stukkend oor Sandra. Hy ry al die pad tronk toe om vir haar goedjies te vat. Hy sê sy hart breek vir die huurder (Lombard) se mense. Hy sê dis nie asof hulle kwaai buurmanskap gehad het nie,” vertel een.

Hy is stukkend oor Sandra. Hy ry al die pad tronk toe om vir haar goedjies te vat.

Lombard se familie het vroeër egter vertel die oorledene het wel gehelp om die swembad in stand te hou en juis Sondag daarheen gestap om chloor in te gooi.

Volgens hul inligting het Swart hom by die swembad weggejaag.

“En toe skiet sy hom sommer net,” was die weergawe wat Lombard se niggie, Tokkie du Preez, gehoor het.

Volgens haar het Lombard se vrou, Sanet, gesê dit lyk of hy in die mond geskiet is.

Du Preez het Lombard beskryf as ’n “sagte mens wat sy laaste stukkie brood sou uitdeel”.

Meer oor:  Sandra Swart  |  Claude Lombard  |  Olympus  |  Pretoria  |  Windbuks  |  Doodgeskiet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.