Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Windbuks-saak: Vrou op borgtog vrygelaat

Die vrou wat na bewering ’n huurder, wat glo rumoerig was, met ’n windbuks doodgeskiet het, is Vrydag in die landdroshof in Pretoria op borgtog van R5 000 vrygelaat. Sandra Swart (30), wat sedert die voorval bykans twee weke in aanhouding was, word egter aan verskeie borgtogvoorwaardes onderwerp.

Sy is op 9 Februarie in hegtenis geneem op ’n klag dat sy die 49-jarige Claude Lombard doodgeskiet het. Volgens bronne is hy hoog in sy bolyf getref.

Haar prokureur, Latham Dixon, het ’n verklaring in die hof voorgelees, waarin Swart sê dat sy reeds sewe jaar saam met haar man en dogter op die hoewe in Olympus in die ooste van Pretoria woon. Daar is ook ses ander huurders.

Die swembad op die hoewe is byna teenaan Swart-hulle se huis en die ooreenkoms is dat diegene wat tot die instandhouding van die swembad bydra, dit mag gebruik.

Volgens Swart was daar reeds verskeie vergaderings oor die instandhoudingswerk, veral omdat Lombard glo glad nie daartoe bygedra het nie en daar oor die “afgelope jare” verskeie voorvalle was waarin hy tot byna teenaan hul huis sou kom en drink.

Sandra Swart Vrydag in die landdroshof in Pretoria. Sy word beskuldig dat sy Claude Lombard met ’n windbuks doodgeskiet het: Foto: Isabel Venter

Hulle moes hom na bewering al talle kere stilmaak en/of vra om te loop. Die betrokke Sondagoggend het dit glo weer gebeur. Swart moes Lombard glo weer vra om sagter te wees en nie so naby aan hul huis te kom nie.

Die egpaar het om 17:00 televisie gekyk.

“Ek en my man wou net ’n rustige namiddag geniet. Die volgende oomblik hoor ek ’n rumoer en harde geraas buite. Ek het op die balkon uitgegaan en een van ons bure (Lombard) by die swembad naby ons voordeur en leefarea gesien,” lui Swart se verklaring.

Sy het hom gevra om nie so te raas nie of die perseel te verlaat.

“Hy het baie aggressief geraak en vir my gesê: ‘F** jou.’ Hy het na die lapa beweeg en aangehou mompel en my gevloek. Ek het leë bottels langs die swembad opgemerk en weens sy (Lombard se) aggressiewe toon en gepraat het ek afgelei dat hy onder die invloed van alkohol is.

“Uit pure frustrasie en weens die persoonlike verbale aanvalle het ek die windbuks gegryp wat altyd op die balkon staan om rotte en slange te verjaag.

“Die gevolg is die voorval wat ek die res van my lewe sal berou,” het Swart bygevoeg.

Sy sê dis ’n baie ou windbuks wat nie met gas werk nie en waaraan geen verbeterings aangebring is nie. Dit benodig nie ’n lisensie nie. Sy het nog nooit met die windbuks geskiet nie en nie eens geweet of dit gelaai is nie.

Sandra Swart Vrydag in die landdroshof in Pretoria. Sy word beskuldig dat sy Claude Lombard met ’n windbuks doodgeskiet het: Foto: Isabel Venter

Sy het op die balkon gestaan, sonder haar bril wat haar dus swaksiende gelaat het, en ’n skoot gekiet, erken Swart.

“Ek het nie eens gekorrel nie. Ek is onseker of die koeël wel die oorledene getref het, en, as dit het, was dit ’n fratsongeluk,” lui haar verklaring.

Eers toe die polisie omstreeks 21:00 opgedaag en haar in hegtenis geneem het, het sy uitgevind dat Lombard dood is.

“Ek het nie beplan om hom te ‘vermoor’ nie. Weens die voorval en my aanhouding kry ek angsaanvalle en ly aan slapeloosheid.”

Kagiso Rancho, staatsaanklaer, het nie Swart se vrylating op borgtog teengestaan nie. Hy het ter stawing hiervan ’n verklaring van die ondersoekbeampte ingelees wat bevestig dat Swart haar volle samewerking aan die polisie gee, die windbuks en haar paspoort reeds by die polisie ingehandig is en dat die beskuldigde nie ’n vlugrisiko is nie.

Sy het ook geen vorige veroordelings of hangende sake nie.

Landdros Thandi Theledi het borgtog toegestaan. Omdat die aanklag “baie ernstig is”, het sy verskeie voorwaardes bygevoeg.

Sy het gelas dat Swart by haar ma buite Pretoria moet gaan bly en nie op die hoewe mag kom nie.

Sy moet haar een maal per week by die polisie aanmeld en mag geen kontak met die staatsgetuies, insluitende Lombard se vrou, hê nie.

Die saak is daarna tot April vir verdere ondersoek uitgestel wat die ballistiese en lykskouingsverslag sal insluit.

Meer oor:  Sandra Swart
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.