Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Winnie Rust se dogter lewer roerende pleidooi
Winnie Rust. Foto: Verskaf

Die Afrikaanse skrywer Winnie Rust se dogter, Helena Reid, het Maandag ’n roerende pleidooi ter strafverswaring vir haar ma se moordenaars in die hooggeregshof in Kaapstad gelewer.

Hierdie “eerste lady” van Wellington wat haar lewe daaraan gewy het om lig in ander se lewens te bring, is in ’n brief van ses bladsye wat Reid voorgelees het, geprys vir haar bydrae tot die gemeenskap, die kultuur en die sterk matriarg wat sy in haar familie was.

Reid het vertel van die skade wat Nigel en Johannes Plaatjies, wat in Desember 2017 aan die moord op Rust in haar huis op 11 Mei 2016 skuldig bevind is, hul familie aangedoen het.

Sy het gesê Rust was deur haar man, kinders, kleinkinders en lede van die gemeenskap geliefd. Sy was sentimenteel en het graag briewe en foto’s van haar familie gehou sodat haar kleinkinders eendag kon weet waar hul wortels is.

“Dat my ma so ’n donker dood sou sterf, is so onversoenbaar met die mens wat sy was,” het Reid gesê.

“Die moorddadige manier waarop my ma gesterf het, het ’n donker skadu oor haar lewe gewerp, haar lewe wat gekenmerk was deur lig.”

Reid het gesê haar ma het met ope arms geleef en het gekies om haarself in Nigel Plaatjies te belê.

Nigel en Johannes Plaatjies in die hooggeregshof in Kaapstad. Foto: Jaco Marais

Nigel was 12 jaar deel van die Rust-gesin, en verskyn saam met hulle op doopfoto’s.

“Dit is ondenkbaar om te dink dat Nigel, die opgeskote kind, uiteindelik my ma se gewetenlose moordenaar sou word.”

Reid het gesê Nigel was soos ’n kind in haar ma se huis en het gereeld ’n bord kos gedeel, waarna Rust hom met sy huiswerk gehelp het.

Sy het selfs reëlings begin tref sodat hy sy rybewys kon kry omdat hy hom as ’n polisieman wou bekwaam.

“Sy’t vir jou geleenthede geskep waaroor ander kinders in jou gemeenskap slegs kon droom en vir hulle het jy ’n simbool van hoop geraak,” het Reid gesê.

“Terwyl jy agterbaks in skadu’s haar dood beplan het, beplan sy jou blink toekoms.”

Terwyl jy agterbaks in skadu’s haar dood beplan het, beplan sy jou blink toekoms.

Reid het gesê die familie het deur die hele hofsaak nooit die indruk gekry dat Nigel spyt is oor wat hy gedoen het nie, en ná twee jaar het hy ook nog nooit om vergifnis gevra vir die onreg wat hy hulle aangedoen het nie.

“Ons samelewing moet toesien dat ons oumas tot elke prys beskerm word – hulle is die kwesbare hart van ons gemeenskap.”

Die familie het die hof versoek om die swaarste moontlike straf op te lê.

Hierna het ’n hartsvriendin, Eugenie Wiggins, en ’n oud-burgemeester van Wellington, Herman Bailey, oor Rust se bydrae tot die gemeenskap en die literêre wêreld getuig.

Die saak is tot Dinsdag uitgestel wanneer Nigel na verwagting ter versagting van vonnis sal getuig.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.