Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Winnie Rust Trust sal goeie werk voortsit, hoor hof

Die Rust-familie wil nie hê hul tragiese verhaal moet in die pad staan van ander hoopvolle stories wat in die land kan ontvou nie.

So het Helena Reid, dogter van die vermoorde Afrikaanse skrywer Winnie Rust, Woensdag gesê nadat haar ma se moordenaars onder meer lewenslange tronkstraf opgelê is.

Regter Elize Steyn het Nigel en Johannes Plaatjies in die hooggeregshof in Kaapstad gevonnis nadat sy hulle op 4 Desember 2017 skuldig bevind het.

Hulle het Rust op 11 Mei 2016 in haar huis vasgebind en verwurg of versmoor. Daarna het hulle ’n brandende kers voor ’n oop gasstoof gelos in ’n poging om die huis af te brand.

Hulle is ook aan roof met verswarende omstandighede, diefstal en bedrog skuldig bevind.

Reid het ná afloop van die saak ’n verklaring in die hof voorgelees oor hoe die saak hulle geraak het. Sy het gesê te midde van hul rouproses sal hulle Rust se nalatenskap nie laat vergaan nie.

“Ons glo steeds in die waardes waarvoor Winnie Rust gestaan het tyde van haar dood. Ons kies, om soos sy, met oop arms te leef en nie met geslote deure en harte nie. Wat sy vir Nigel Plaatjies gedoen het, was bewonderenswaardig en ons as familie wil graag haar positiewe nalatenskap laat voortleef, ten spyte van haar gewelddadige dood,” het Reid gesê.

Hartseer familielede van wyle Winnie Rust troos mekaar nadat Nigel en Johannes Plaatjies onder meer tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis is. In die middel staan Helena Reid en haar man, Gordon. Foto: Jaco Marais

Om dit te verseker het die familie die Winnie Rust Trust gestig sodat hulle kan voortgaan met die werk wat sy begin het, “en sodat ons, waar moontlik, kan aanhou om vir jong benadeelde Suid-Afrikaners geleenthede te skep”.

Reid het verder die speurders, die staatsaanklaers en die staatspatoloë wat aan die saak gewerk het, spesiaal bedank en gesê hulle het toegang tot ’n regverdige regsproses gehad.

“Ons as familie is ook dankbaar dat die spanning van die verhoor nou verby is en dat ons onversteurd kan begin fokus op genesing en herstel. Hoewel die versoeking daar is om ons wonde te lek, wil ons probeer om die teenoorgestelde te doen.”

Nigel Plaatjies word geboei nadat hy onder meer lewenslange tronkstraf opgelê is. Foto: Jaco Marais

Van Rust se kinders en haar skoonseun, Gordon, het die verhoor getrou bygewoon. Haar familie, onder wie van haar kinders en kleinkinders, was Woensdag ook daar vir die vonnisoplegging.

Steyn het bevind daar is geen wesenlike en dwingende faktore om van die minimum voorgeskrewe vonnis van lewenslange gevangenisstraf af te wyk nie – nie eens Nigel se jeugdigheid nie.

Nigel en Johannes Plaatjies word na hofsaal 6 in die hooggeregshof in Kaapstad vir hul vonnis gebring. Foto: Jaco Marais

Steyn het gesê Nigel het gehelp om die wrede moord te beplan en hy het nie in die saak getuig nie. Hy het vier verskillende weergawes gehad oor wat daardie dag gebeur het. ’n Mens kan dus nie glo wat hy sê nie.

Steyn het gesê Rust het Nigel vertrou en hom moreel en finansieel bygestaan. Sy was ’n weldoener aan hom en sy gesin, en hy het dit misbruik.

Volgens haar het nie een van die beskuldigdes berou getoon nie. Johannes het nog om verskoning gevra toe hy ter versagting getuig het, maar Nigel het nooit getuig nie en het ook geen teken van emosie gedurende die verhoor gewys nie, selfs nie toe ontstellende getuienis gelewer is nie.

Vonnisse

Regter Elize Steyn het Nigel en Johannes Plaatjies soos volg gevonnis:

Nigel Plaatjies:

  • Roof met verswarende omstandighede: 15 jaar;
  • Moord: lewenslank;
  • Diefstal: vier jaar;
  • Bedrog: vier jaar; en
  • Drie aanklagte van bedrog: vyf jaar.

Johannes Plaatjies:

  • Roof met verswarende omstandighede: 15 jaar;
  • Moord: lewenslank;
  • Diefstal: twee jaar;
  • Bedrog: vier jaar; en
  • Drie aanklagte van bedrog: vyf jaar.

Al die vonnisse word samelopend met die lewenslange vonnis uitgedien.

Meer oor:  Johannes Plaatjies  |  Winnie Rust
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.