Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
‘Wit man het woede gebring,’ sê Malema by hof

“Woede is gebring deur die wit man. Mishandeling is gebring deur die wit man. Moord is gebring deur die wit man. Die doodmaak van kinders is gebring deur ’n wit man. Hier in Suid-Afrika is daar geen swart man wat geweld begin het nie."

So het Julius Malema, leier van die EFF, aan ’n skare van sy ondersteuners buite die landdroshof in Randburg gesê.

Hy en Mbuyiseni Ndlozi, ’n parlementslid vir die party, het Dinsdag op aanklag van aanranding in die hof verskyn.

Hulle word daarvan aangekla dat hulle in 2018 ’n polisielid op Winnie Madikizela-Mandela se begrafnis aangerand het. AfriForum het druk op die nasionale vervolgingsgesag (NVG) uitgeoefen om Malema en Ndlozi te vervolg.

EFF-ondersteuners buite die landdroshof in Randburg waar hul leier, Julius Malema, en Mbuyiseni Ndlozi, ’n parlementslid vir die party, Dinsdag op aanklag van aanranding verskyn het. Foto: Melinda Stuurman

Die twee was vroegoggend reeds in die hof, maar die verrigtinge het eers veel later begin omdat die media aanvanklik toegang tot die hof geweier is.

Dit was weens ’n gebrek aan ruimte in die hof om almal te akkommodeer, terwyl Covid-19-maatreëls nog gevolg moet word.

Die media is later toegelaat om ’n formele aansoek te bring om die hofverrigtinge af te neem nadat Malema laat hoor het: “Die media kan nie gekeer word om die wit man se getuienis af te neem nie, maar wanneer ons getuig, mag almal sien.”

Terwyl adv. Laurence Hodes SC, Malema en Ndlozi se regverteenwoordiger, die kwessie van die media met die landdros en staatsaanklaer bespreek het, het Malema rustig in die gange van die hof saam met die res van sy regspan en ’n handjievol EFF-ondersteuners gesit.

Hy het selfs in ’n stadium een van sy lyfwagte gestuur om vir hom biltong te gaan koop en luidkeels gekla dat daar te veel vet aan is.

Toe die hofverrigtinge hervat is, het die staatsaanklaer volgehou die saal is te vol.

Julius Malema en Marshall Dlamini, sekretaris-generaal van die EFF, Dinsdag in die hof. Foto: Melinda Stuurman

Hierop het Malema en sy ondersteuners gevra die agterste ry, wat vol verteenwoordigers van AfriForum was, moet die hof verlaat omdat hulle nie “direkte familie” van een van die beskuldigdes is nie en, volgens hulle, onnodig ruimte opneem.

Die EFF-lede het opgestaan en op lede van AfriForum geskree totdat die staatsaanklaer gevra het die AfriForum-afvaardiging moet die hof verlaat om ruimte te skep.

Malema en Ndlozi het gesê hulle moet saam met hul ondersteuners buite gaan wag. “Gaan kyk na die verrigtinge op jul goedkoop selfone,” het Ndlozi aan die AfriForum-lede gesê.

Die twee het volgehou hul ondersteuners in die hofsaal, onder wie Floyd Shivambu, die EFF se adjunkleier, is direkte familie en hoef daarom nie die hof te verlaat nie.

Die verrigtinge is tot 28 Oktober uitgestel vir verhoor en daar is Dinsdag aan die media se saak gehoor gegee.

As die feit dat ek opstaan teen ’n wit man van my ’n fascis maak, is ek ’n trotse fascis. Ek sal nooit bang wees om op te staan teen ’n wit man nie. Waarom is julle bang om te sterf? Julle gaan in elk geval eendag sterf – sterf eerder van ’n koeël as ’n verkoue.
Julius Malema spreek sy ondersteuners buite die hof toe. Foto: Melinda Stuurman

Die landdros het beslis dat slegs een uitsaai-mediahuis in die hof mag wees en dat geen fotograwe tydens die verrigtinge toegelaat sal word nie.

As daar plek vir joernaliste is, sal hulle verwelkom word, maar andersins sal hulle nie toegelaat word om die verrigtinge by te woon nie. Dit mag ook nie regstreeks uitgesaai word nie.

Ná Dinsdag se verrigtinge het Malema sy ondersteuners toegespreek.

“As die feit dat ek opstaan teen ’n wit man van my ’n fascis maak, is ek ’n trotse fascis. Ek sal nooit bang wees om op te staan teen ’n wit man nie. Waarom is julle bang om te sterf? Julle gaan in elk geval eendag sterf – sterf eerder van ’n koeël as ’n verkoue."

Malema het ook verwys na die geweld by die landdroshof in Senekal in die Vrystaat.

“Polisielede is bang vir wit mense. Hulle het misluk om die wit mense te stop toe hulle die hof in Senekal verontagsaam en ’n polisievangwa aan die brand gesteek het.”

Ernst Roets van AfriForum wat ook Dinsdag by die hof was. Die AfriForum-afvaardiging is gevra om die hof te verlaat toe die aanklaer gekla het dat die hof volgens die Covid-19-regulasies te vol is. Foto: Melinda Stuurman
Ondersteuners hou ’n EFF-vlag buite die hof omhoog. Foto: Melinda Stuurman
’n EFF-ondersteuner hou ’n plakkaat buite die hof op waarop staan: “Senekal we are coming for you.” Foto: Melinda Stuurman
Julius Malema en sy medebeskuldigde, Mbuyiseni Ndlozi, wag dat die hofverrigtinge begin. Foto: Melinda Stuurman
Julius Malema in die hof. Foto: Melinda Stuurman
Julius Malema (regs voor) en sy regspan in die hofgange. Foto: Melinda Stuurman
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.