Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Woede by Jacobsdal-hof oor moord op tienermeisie

’n Skare woedende betogers van die ANC het Donderdag op die landdroshof in Jacobsdal in die Vrystaat toegesak waar die vermeende ontvoerder en moordenaar van Desireé Settley, ’n 16-jarige skoolmeisie, om borgtog aansoek gedoen het.

Die vermoorde Desireé Settley (16), wie se lyk by ’n kanaal in Jacobsdal gekry is. Foto: Verskaf
Desireé Settley (16)Foto: Verskaf

Kol. Thandi Mbambo, polisiewoordvoerder in die Vrystaat, het bevestig dat die 30-jarige Johannes Thapelo Diamonds op aanklagte van ontvoering en moord in die landdroshof verskyn het.

Dit kom nadat ’n erg ontbinde lyk Woensdag by Malatsi-kanaal in Jacobsdal gevind is, wat volgens alle aanduidings dié van die skoolmeisie is, het Mbambo gesê.

Die lyk is vir ’n forensiese nadoodse ondersoek na Bloemfontein geneem.

Diamonds was Dinsdag aanvanklik net op ’n aanklag van ontvoering in hegtenis geneem. Die klag van moord is sedertdien bygevoeg.

Die plakkershut waarin die vermoorde Desireé Settley (16) saam met haar ouers gebly het.Foto: Verskaf

Pascal Mlozana, ANC-raadslid van wyk 2 in Riemvasmaak in Jacobsdal, beweer Desireé het twee weke gelede saam met ’n man uit ’n kroeg, waar sy die laaste keer gesien is, verdwyn.

Mbambo het gesê die polisie het talle leidrade opgevolg nadat haar familie haar verdwyning op 31 Januarie uit die kroeg by die polisie aangemeld het.

Die saak is Donderdag tot 25 Februarie uitgestel.

“Die ondersoek duur voort en ’n nadoodse ondersoek sal gedoen word om die oorsaak van haar dood vas te stel,” het Mbambo gesê.

Betogers drom Donderdag saam by die landdroshof in Jacobsdal.Foto: Verskaf

Volgens Mlozana was Desireé in gr. 10 aan die Panorama Gekombineerde Skool in Jacobsdal. Sy het saam met haar ouers, Eliza Settley en Jan Motshabi, in ’n plakkershut gebly.

Sy sal waarskynlik Saterdag begrawe word.

Mlozana het gesê die betoging by die hof was om te keer dat die vermeende moordenaar borgtog kry.

“Die mense is so kwaad en dreig om die man aan die brand te steek.”

Hulle beoog om weer met sy volgende verskyning te betoog.

* Na verneem word het Diamonds, oorspronklik van Petrusburg, by ’n wynmakery in Jacobsdal gewerk.

Hy word in Kimberley aangehou, sê Mlozana.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.