Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Woede oor 2 van Machadodorp borgtog kry

Die besluit om borgtog toe te staan aan twee veiligheidsbeamptes wat na bewering ’n lid van die gemeenskap in Machadodorp, Mpumalanga, aangerand het, het Vrydag oproer buite die landdroshof in Belfast veroorsaak.

’n Vragmotor is op die N4 naby Machadodorp uitgebrand tydens die drama by die landdroshof in Belfast.Foto: Verskaf
Die pad is met klippe besaai by die afdraai na Machadodorp. Volgens die polisie in Mpumalanga het inwoners met woede gereageer nadat twee verdagtes in ’n aanrandingsaak in Belfast borgtog toegestaan is. Foto: Verskaf

Op die N4 naby Machadodorp is ’n vragmotor wat dwars oor die pad getrek is, aan die brand gesteek. Volgens brig. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie in Mpumalanga, hou dit verband met die drama buite die landdroshof.

Bruce Botha (29) en Wayne Swart (20), wat aangekla word van aanranding met die doel om ernstig te beseer, is Vrydag R500 borgtog elk in die landdroshof in Belfast toegestaan. Die staat het nie die aansoek teengestaan nie.

Toe die betogers van die hof se besluit hoor, het hulle oproerig geraak en klippe na die hof geslinger. Die polisie het rubberkoeëls geskiet in ’n poging om die skare te kalmeer.

Nadat die betogers in bedwang gebring is, kon Botha en Swart saam met familie en vriende die hofperseel ongesiens in ’n bakkie verlaat, terwyl die betogers steeds struggle-liedere gesing het en op en af in die straat gemarsjeer het.

Poppy Moila, die EFF se voorsitter in Nkangala, het aan joernaliste gesê om borgtog aan die beskuldigdes toe te staan, wetende dat die beweerde misdaad ’n rassistiese aanval was, plaas die regstelsel onder verdenking.

“As dit ’n swart persoon was wat ’n wit persoon aangerand het, sou die situasie anders gewees het. Dit is tyd dat Suid-Afrikaners met waardigheid behandel word,” het Moila gesê.

Botha en Swart was albei baie wreed, het Moila gesê en verwys na die voorval wat Maandag op video vasgelê is.

“Jy kan sien hulle het dit sonder skaamte gedoen, want hulle het baie mooi geweet dat daar niks met hulle sal gebeur nie. Hulle het geweet hulle sal borgtog kry as hulle by die hof kom.”

Monica Nyuswa, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag in Mpumalanga, het gesê die staat het nie borgtog teengestaan nie omdat albei beskuldigdes eerste oortreders is, nie ’n vlugrisiko is nie en bekend is in hul gemeenskap.

Inwoners van Machadodorp het Dinsdagaand egter die dorp ingevaar en ’n winkel en vragmotors gebrand.

Beeldmateriaal wys hoe die twee mans glo probeer om die ander persoon in hegtenis te neem en hom na ’n bakkie te sleep. Omstanders maak beswaar oor die hantering van die man.

Kol. Mtsholi Bhembe het aan News24 gesê albei beskuldigdes werk vir ’n plaaslike veiligheidsmaatskappy en dat hulle deur ’n winkeleienaar ontbied is nadat die man in die video in ’n rusie met ’n werknemer van die winkel betrokke geraak het.

Pat Ngomane, LUR vir gemeenskapsveiligheid, sekuriteit en skakeldienste in Mpumalanga, het gesê die aanval toon vigilante optrede, wat nie geduld kan word nie, al voel mense hoe sterk oor enige kwaaddoenery.

Die ANC het in ’n verklaring gesê hy is geskok oor die aanval wat lyk of dit deur rassisme aangevuur is.

“Hul skaamtelose minagting van polisielede op die toneel, wat duidelik met hulle probeer redeneer het, toon hul minagting vir die wet,” het Pule Mabe, ANC-woordvoerder, gesê.

“Sulke optrede het geen plek in die samelewing nie en diegene wat glo dat hulle bo die wet verhewe is, moet skaam kry om hulself Suid-Afrikaners te noem.”

Albei veiligheidsbeamptes is kort ná die voorval in hegtenis geneem, maar ondanks die inhegtenisnemings, het die gemeenskap reg in eie hande geneem en die winkel en twee vragmotors afgebrand nadat hulle ’n pad na die dorp versper het.

Botha en Swart sal na verwagting weer op 28 September in die hof verskyn.

Meer oor:  Machadodorp  |  Belfast  |  Aanranding  |  Rassisme  |  Borgtog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.