Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Wyle Yolanda Botha se huis aan staat verbeur
Wyle Yolanda Botha in Desember 2012 afgeneem nadat die nasionale vervolgingsgesag se beslagleggingseenheid by haar huis in Jawnostraat opgedaag het om ’n opname van haar bates te maak. Sy het kort tevore vir die eerste keer op aanklagte van korrupsie, bedrog en geldwassery in die hof verskyn. Foto: Emile Hendricks
Wyle Yolanda Botha se huis in Jawnostraat sal eersdaags op ’n openbare veilig verkoop word nadat dit aan die staat verbeurd verklaar is. Daar is bevind die aanbouing aan die huis was Botha se vergoeding vir korrupte dade. Foto: Emile Hendricks

Wyle Yolanda Botha, ANC-LP en mede-beskuldigde van John Block, ’n eertydse provinsiale ANC-leier, se veelbesproke huis in Jawnostraat sal eersdaags op ’n openbare veilig verkoop word.

Dit volg op ’n bevel Vrydag in die Noord-Kaapse hooggeregshof waarin haar huis en aandele in Jyba Beleggingstrust aan die staat verbeurd verklaar is.

Regter Mpho Mamosebo het in haar uitspraak bevind Botha het destyds as Noord-Kaapse departementshoof van maatskaplike ontwikkeling ampsmisdrywe gepleeg.

Sy het vergoeding ontvang vir haar politieke invloed en mag as departementshoof om Trifecta bo ander mededingers te bevoordeel en die staat te benadeel. Sy het ’n korrupte verhouding met Trifecta-direkteure gehad – sy was te koop.

Botha het met die ondertekening van kontrakte vir haarself opgetree. Dit was ’n botsing van belange.

Block en Christo Scholtz, uitvoerende hoof van Trifecta, is ná Botha se dood aan korrupsie en geldwassery skuldig bevind.

Block het onbehoorlike vergoeding ontvang vir sy politieke invloed om hoogs betalende huurkontrakte tussen 2005 en 2006 in Trifecta se guns te beklink.

Hoewel Botha voor die uitspraak in die strafregtelike verhoor dood is, het adv. Hendrik van der Linde, SC, vir die staat versoek dat die ongunstige bevindings teen haar oorweeg word.

Sommige huurkontrakte met Trifecta is sonder oortuigende redes van vyf na tien jaar verleng, en die jaarlikse verhoging is van 8 tot 9,5% verhoog. In sommige gevalle is huurkontrakte onderteken voordat Trifecta die betrokke geboue besit het. Die staatsdepartemente het Trifecta ook vir okkupasie betaal voordat hulle ingetrek het.

Nóg die ANC nóg Trifecta se boeke weerspieël die sogenaamde skenking van R15 000 in kontant.

Regter Mamosebo het bevind die bouwerk van R1,2 miljoen aan Botha se huis was vergoeding vir korrupte dade. Die sogenaamde “lening” van R500 000 om die bouwerk te regverdig, is eers ná die parlement se ondersoek te berde gebring. Trifecta se ouditeur was onbewus van die sogenaamde leningsooreenkoms.

Die bouwerk is onder ’n ander projeknaam verdoesel.

Nóg die ANC nóg Trifecta se boeke weerspieël die sogenaamde skenking van R15 000 in kontant. Die geld was vir Botha bedoel.

Die 10%-aandele wat Botha se familietrust in die Shosoloza Trust (later Trifecta Investment Holdings) gehad het, is nie aan die parlement verklaar nie. Net haar familielede is as begunstigdes benoem.

Botha se ma, Gesiena Botha, verweerder en eksekuteur van die boedel, kon nie bewys dat sy sonder haar dogter se huis nie ’n heenkome het of nie voldoende inkomste het om in ’n ouetehuis te woon nie.

Adv. Anwar Albertus, SC, het vir Gesiena Botha opgetree.

Meer oor:  Yolanda Botha  |  Noord-Kaap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.