Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Wynplaas in Durbanville kry interdik teen BLF, grondbesetters

’n Wes-Kaapse wynlandgoed het ’n dringende interdik teen die Black First Land First (BLF)-party en ander bekom nadat pamflette glo versprei is waarop die grondbesetting van wynplase aangehits word.

Die hooggeregshof in die Wes-Kaap het Woensdag ’n finale interdik aan D’Aria Vineyards (Edms) Bpk van Bellville toegestaan nadat BLF nie die tussentydse bevel van 3 April teengestaan het nie, sê Hans Ehrich, die landgoed se regsverteenwoordiger.

Die wynplaas is tussen Durbanville en Bloubergstrand geleë. 

Die tussentydse bevel is op minstens agt plekke teen die plaas se heining opgesit en gereeld geïnspekteer om te verseker dat dit nie verwyder word nie totdat die finale bevel toegestaan is.

Die aansoek om ’n interdik was om BLF en “alle ander persone wat sonder toestemming” die perseel wil betree of beset, te verhoed om dit te doen en om “die eiendom te beskerm”, lui die hofstukke.

Johan von Waltsleben, ’n direkteur en bestuurder van die wynplaas, het in ’n aanvullende verklaring gesê werknemers het hom vroeër die jaar ingelig dat ’n derde party dokumente onder hulle versprei.

Hiervolgens was BLF in die laaste fase van ’n “proses om plaasgrond af te neem” en ondersteuners moenie wag vir die parlement om onteiening sonder vergoeding goed te keur nie, maar onmiddellik optree.

Von Waltsleben het gesê die klem was op plase naby stede, soos D’Aria – en Durbanville, wat onder Bellville val, was die volgende teiken.

“Die plaasbesettings in dié omgewing sou in April 2019 plaasvind.

“Die dokument toon ook dat die eiendom ‘toegeken’ is aan (vermoedelik) ondersteuners van die eerste respondent (BLF). Die eiendom sal in 400 eenhede opgedeel word met ’n man, genaamd Patrik as die koördineerder van die herverdeling,” het die bestuurder verduidelik.

Johan von Waltsleben, wingerdboukundige op D’Aria met een van die wynplaas se talle wyntoekennings. By hom is Marius Labuschagne van Durbanville, stigter van die Novare SA Terroir-toekennings, en Johan se seun, Rudi, wynmaker op D’Aria. Foto: Esmé Erasmus

Wat vir D’Aria nog verder kommerwekkend was, is dat ’n wynplaas naby Stellenbosch reeds in Julie 2018 ná beweerde aanhitsing van BLF beset is.

“Soos ek verstaan, het die eienaar totaal beheer oor die plaas verloor nadat duisende mense dit beset het,” het Von Waltsleben se verklaring gelui en bygevoeg dat hulle dus nie BLF se dreigemente as niksseggend kan beskou nie.

“ ’n Grootskaalse besetting sal vernietigend vir die applikant wees. Boerderybedrywighede sal waarskynlik tot ’n stilstand kom, wat tot onberekenbare finansiële en reputasieskade sal lei,” lui die hofstukke.

Dit verduidelik dat die landgoed ’n gemengde onderneming is, met ’n wingerd, wynkelders wat nasionaal en internasionaal uitvoer, ’n proekamer, restaurant en 12 gastehuisies.

D’Aria
D’Aria

Daarby verskaf dit werk aan 60 mense, byna almal enkel-broodwinners.

Daar bly ook 12 families (35 mense) op die perseel, waarvan almal ’n lid het wat op die plaas werk.

Ook afgetrede werknemers bly nog daar.

“As die eiendom beset word, sal al die werknemers en oudwerknemers hul werk, voordele en huise verloor en die respondent (BLF) se dreigemente verontrus die werknemers,” lui die hofstukke.

Die plaas het ook nie die infrastruktuur om 400 besetter-families te onderhou met elektrisiteit, drinkbare water of rioolvuilverwydering nie.

“Die beoogde besetting van die plaas is onwettig. Die polisie tree ook nie op teen besetters sonder ’n hofbevel nie.

“Dit moet beklemtoon word dat die applikant nie van plan is om die eiendom net doodeenvoudig oor te gee nie,” sluit D’Aria se hofstukke af.

Dele van die “dokumente” wat glo deur BLF onder plaaswerkers in die Wes-Kaap versprei is.

Meer oor:  Grondbesetters  |  Blf  |  D’Aria Vineyards  |  Hans Ehrich  |  Wes-Kaap  |  Wynplaas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.