Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Xander bieg nie meer oor Stella-moorde

Die bekentenis wat Xander Bylsma vroeër oor die moorde op Sharnelle Hough en Marna Engelbrecht afgelê het, is moontlik in die weegskaal.

Dít nadat hy Dinsdag in ’n verrassende wending in die Vryburg-landdroshof skuld ontken het aan die moorde op die meisies. Betroubare bronne naby aan die ondersoek meen dit is ’n sterk aanduiding dat die toelaatbaarheid van die bekentenis wat Bylsma kort ná die moorde afgelê het, asook die uitwysings wat hy op die moordtoneel gedoen het, in ’n binneverhoor tydens die verhoor (later) betwis kan word.

Xander Bylsma in die landdroshof op Vryburg. Hy het onskuldig gepleit nadat hy vroeër ’n bekentenis afgelê het. Foto: Simon Sonnekus

Sharnelle (17), Bylsma se voormalige meisie, en Marna (16), sy kleinniggie, is op 26 Mei vanjaar vermoedelik in hul koshuis by die Hoërskool Stella in Noordwes verwurg. Die moord op die twee gr. 11-meisies, wat ook boesemvriendinne was, het skokgolwe deur die plattelandse gemeenskap gestuur.

Die twee aanklagte van moord teen Bylsma (19) is Dinsdag die eerste keer formeel aan hom gestel. Adv. JJ Smit SC, direkteur van openbare vervolging in Noordwes, het daarna vir nog ’n verrassing gesorg toe hy gesê het Bylsma gaan ook gevra word om te pleit. “Onskuldig,” het Bylsma geantwoord.

Moolman Wessels, sy prokureur, het nie beswaar aangeteken nie, maar gesê Bylsma sal (vir eers) sy swygreg uitoefen. Die moordsaak is na die hooggeregshof in Noordwes in Mmabatho oorgeplaas, waar Bylsma op 6 Desember sal verskyn. Die verhoor sal waarskynlik eers vroeg volgende jaar begin.

Die verwagting was dat Bylsma eers op die aanklagte teen hom sou pleit nadat hy in die Sterkfontein- psigiatriese hospitaal in Krugersdorp, Gauteng, geëvalueer is en die verhoor begin het.

Die hof het hom in Oktober daarheen verwys vir 30 dae se sielkundige waarneming, maar daar is nog nie ’n bed beskikbaar nie. Smit het Dinsdag tydens die hofverrigtinge gesê daar is geen aanduiding dat Bylsma nie nou die verrigtinge kan verstaan nie en dat hy daarom kan pleit. “Sy toerekenbaarheid ten tyde van die misdrywe moet egter nog (in Sterkfontein) bepaal word.”

Volgens Smit is besluit om Bylsma nou te laat pleit, sodat die saak na die hooggeregshof oorgeplaas kan word in die hoop dat die beskikbaarheid van ’n bed vir hom in Sterkfontein groter voorkeur sal geniet.

Mercia Bylsma praat met Xander voordat hy verskyn. Foto: Simon Sonnekus

Monté en Mercia Bylsma, Xander se ouers, was al vroeg Dinsdagoggend by die hof met klere en skoene vir sy verskyning. Hy het dit aangetrek net voordat hy van die polisieselle na hof B geneem is.

Mercia het ook ’n Pick n Pay-sak vol kos vir hom geneem. “Ek het alles op sy wenslysie gebring – sjokolade, koekies en tjippies,” het Mercia gesê.

Sy het Maandag vertel hoe sy vir Sharnelle mis en dat die blondekopmeisie se dood ’n groot leemte in haar lewe laat. Volgens Mercia het Xander baie maer geword in die tronk. “My eie kind is ook van my weggeruk.”

Mercia het vir Xander gesê “sterkte, seun”, net voordat hy die hof in is.

Sy het hom agterna in die hofgange omarm en teen haar vasgedruk net voordat hy na die polisieselle terug is.

Mercia en Monté Bylsma praat met Xander se regsverteenwoordiger, Moolman Wessels, buite die hof. Foto: Simon Sonnekus

Sy en Monté was opsigtelik emosioneel ná die verrigtinge en het net hul koppe geskud op ’n vraag of die skielike pleit onverwags was. Monté het gesê dit maak seer wanneer mense hulle oor die moorde uitlaat sonder dat hulle weet wat gebeur het. “Nie eens ons weet wat gebeur het nie.”

Stefaans Engelbrecht, Marna se pa, het die verrigtinge ook bygewoon, maar wou nie agterna kommentaar lewer nie.

Sharnelle se ouers, Ronnie en Sonja Hough, en stiefma, Anna Hough, was nie Dinsdag by die hof nie omdat hulle net ’n uitstel verwag het. Ronnie het telefonies gesê hy is verbaas dat Xander skuld ontken, nadat hy die bekentenis afgelê het.

Volgens kapt. Markus Ferreira, die ondersoekbeampte, is die polisieondersoek afgehandel. Daar word nog net gewag op die uitslag van DNS-toetse op onder meer die tou waarmee Sharnelle aan ’n trapreling by die koshuis opgehang is, en die lus van die handsak wat om Marna se nek gevind is. Hul moordenaar wou hul dood vermoedelik na selfdood laat lyk deur die indruk te wek dat hulle hulself opgehang het.

Xander bly in aanhouding in die Rooigrond-gevangenis naby Mahikeng.

Onskuldig-pleit is onversoenbaar met bekentenis

Dr. Llewellyn Curlewis, strafregkenner aan die Universiteit van Pretoria, sê ‘n onskuldig-pleit is onversoenbaar met 'n bekentenis. “Bylsma kan wel sy pleit na skuldig verander wanneer die verhoor begin en sy regspan miskien behoorlike insae in die dossier gehad het. Indien die pleit van onskuldig egter bly staan, is die logiese gevolg dat die toelaatbaarheid van die bekentenis in ‘n binneverhoor betwis sal word.”

Curlewis meen dis hoogs ongewoon en prosedurieël voortydig dat Bylsma nou al pleit terwyl nog gewag word op die sielkundige evaluering of hy toerekenbaar was tydens die misdryf. “Die doel met die evaluering is juis om te bepaal of iemand tereg kan staan op misdrywe. Noudat die aanklagte aan Bylsma gestel is en hy onskuldig gepleit het, beteken dit hy staan reeds tereg op die moordklagte nog voordat bepaal is of hy hoegenaamd kan.”

Curlewis sê dit kan allerlei regsprobleme skep indien wel bevind word Bylsma was nie toerekenbaar nie. “Dan het hy reeds onskuldig gepleit en sal hy teoreties gesproke onskuldig bevind kan word sonder ‘n verhoor. Dit beteken hy sal nooit weer op die aanklagte verhoor kan word nie.”

Meer oor:  Xander Bylsma  |  Stella-Moorde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.