Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Xander Bylsma se pa verkoop hul plaas

Die dubbele moordsaak teen Xander Bylsma (20) het blykbaar sy pa, Monté, se toekomsdrome vernietig dat sy seun die boerdery op hul familieplaas in die Vryburg-distrik mettertyd sou oorneem.

Monté het die plaas onlangs verkoop en die roerende bates op ’n private veiling van die hand gesit. Dis nie seker of hy nog in die Vryburg-omgewing woon nie, maar Monté is blykbaar van plan om na George in die Suid-Kaap te verhuis. Hy was nie Woensdag telefonies bereikbaar nie.

Monté Bylsma se drome oor ’n toekoms op die familieplaas in die Vryburg-distrik in Noordwes is vernietig.Foto: Felix Dlangamandla

Bylsma jr. word aangekla weens die moorde op Sharnelle Hough (17), sy eksmeisie, en Marna Engelbrecht (16), sy kleinniggie. Die twee boesemvriendinne is in Mei 2018 in die meisieskoshuis by die Hoërskool Stella vermoor. Hulle is verwurg.

Bylsma het ure ná die moorde ’n bekentenis afgelê waarin hy sekere erkennings gemaak het. Nou ontken hy egter skuld. Hy beweer hy was bedwelm deur ’n oordosis angsmedikasie en dat hy voorgesê en gedreig is wat om in die bekentenis te sê.

Tydens Bylsma se borgtogverhoor in Desember 2018 het dit aan die lig gekom dat hy reeds op die familieplaas saam met sy pa boer en dat hy die plaas waarskynlik later sou erf. Bylsma se ouers en grootouers het blykbaar reeds enorme bedrae aan sy regskoste bestee.

Intussen sal sy derde regspan wat hy pas aangestel het, op 29 Julie die moeilike taak hê om Bylsma te verdedig terwyl die staat sal voortgaan om hom te kruisondervra.

Xander Bylsma in Mei in die hooggeregshof in Mmabatho, Noordwes, nadat sy tweede regspan hulle aan die saak onttrek het.Foto: Susan Cilliers

Bylsma se verhoor het in Maart begin, maar sy twee vorige advokate en twee prokureurs het hulle almal aan sy saak onttrek.

Conrad Bester, ’n prokureur van Jan Kempdorp in die Noord-Kaap, en adv. Sakkie Nel van Kimberley is onlangs as sy nuwe regspan aangestel ná die hoogdrama in Mei toe Bylsma se tweede regspan hulle onttrek het.

Bester en adv. Johan Smit SC, die staatsaanklaer, het Woensdag gesê hulle is gereed om einde Julie met Bylsma se binneverhoor in die hooggeregshof in Mmabatho, Noordwes, voort te gaan.

Die binneverhoor is om die toelaatbaarheid van Bylsma se bekentenis en uitwysings te toets noudat hy skuld ontken. Verskeie getuies is reeds geroep, asook Bylsma self.

Adv. Johan Smit SC (links), die staatsaanklaer in die Bylsma-moordverhoor, en Adriaan Janse van Rensburg, Bylsma se vorige prokureur, vroeër vanjaar in die hooggeregshof in Mmabatho. Janse van Rensburg het hom intussen aan Bylsma se saak onttrek.Foto: Susan Cilliers
Marna EngelbrechtFoto: Verskaf
Sharnelle HoughFoto: Verskaf

Dis juis terwyl hy kruisondervra is dat sy vorige regspan blykbaar etiese probleme begin ondervind het. Bylsma het onder kruisondervraging beweer Chris Saunders, die private speurder wat hom glo voorgesê het, het bygesit terwyl kol. Corrie Coghlan die bekentenis by hom afgeneem het in die Vryburg-polisiekantoor.

Bylsma het beweer hy het sy regspan daarvan gesê, maar dat hulle dit nooit in die hof geopper het nie. Niven Rai en Adriaan Janse van Rensburg, Bylsma se advokaat en prokureur, het hulle die volgende dag aan die saak onttrek weens “botsende belange”.

Bylsma het ook onder kruisondervraging toegegee hy kan nie onthou watter vrae alles aan hom gestel is of nie, voordat hy die bekentenis afgelê en uitwysings gedoen het. Dít nadat hy lank volgehou het omtrent al die vrae, veral dié waarin sy regte aan hom voorgehou moes word, is nié aan hom gestel nie. Later het hy egter toegegee hy het dalk net gedink dis nie aan hom gevra nie omdat hy nie kan onthou nie.

Bylsma se eerste advokaat, Ferdi van Heerden, het in Desember 2018 aan sy saak onttrek nadat Bylsma hom die trekpas gegee het, vermoedelik omdat Van Heerden geweier het om ’n borgtogaansoek te bring.

Adv. Niven Rai is toe aangestel en het ’n borgtogaansoek gebring, maar Bylsma is borgtog geweier. Moolman Wessels, Bylsma se eerste prokureur, het hom ook vroeër vanjaar aan die saak onttrek weens “botsende belange”, waarna Janse van Rensburg in sy plek aangestel is.

Meer oor:  Xander Bylsma  |  Stella-Moorde  |  Verkoop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.