SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Hof
Xander gekap oor ‘nuwe onthullings, teen-strydighede’

Xander Bylsma (20) het Vrydag vir die eerste keer getuig dat hy en Sharnelle Hough enkele ure voor haar dood seksuele omgang in ’n bakkie naby haar skoolkoshuis in Stella gehad het.

Dit was een van ’n paar nuwe onthullings waaroor adv. Johan Smit SC, vir die staat, hom in sy moordverhoor in die hooggeregshof in Mmabatho, Noordwes, gepeper het.

Xander Bylsma deel Vrydag ’n ligte oomblik in die hof met sy ouers, Monté en Mercia.Foto: Felix Dlangamandla

Smit het Bylsma daarvan beskuldig dat hy ’n leuenaar is. Hy het gesê dit kan nie wees dat al die ander getuies lieg en net Bylsma die waarheid praat nie.

Bylsma het sy ontkenning van enige betrokkenheid by die moorde op Sharnelle (17) en Marna Engelbrecht (16) Vrydag ’n stappie verder geneem deur te beweer dat Brandon Victor (19), ook ’n vriend van Sharnelle, die eintlike skuldige is.

Die boesemvriendinne is op 26 Mei 2018 in die meisieskoshuis van die Hoërskool Stella vermoor.

Xander Bylsma Vrydag in die getuiebank in die hooggeregshof in Mmabatho in Noordwes.Foto: Felix Dlangmandla

Smit het Vrydag in Bylsma se kruisondervraging talle teenstrydighede tussen sy jongste weergawe en sy vroeëre getuienis uitgewys. Bylsma het byvoorbeeld in sy borgtogverklaring gesê hy en Sharnelle het die dag vóór die moorde seksuele omgang gehad.

Vrydag het hy vir die eerste keer getuig dat hulle in die vroeë oggendure op 26 Mei 2018 omgang gehad het terwyl hulle enkele ure voor haar dood in sy bakkie naby die koshuis gesit en kuier het.

Hoewel Bylsma beweer dat die gebeure daardie aand en oggend “in sy geheue gegrafeer is”, het hy gesê hy is nie meer seker presies hoe laat hy op die oggend van 26 Mei uit Stella weg is nie.

Kapt. Johann Botes, ’n kundige in die ontleding van selfooninligting, het vandeesweek getuig dat die laaste aktiwiteit van Bylsma se selfoon wat torings in Stella opgetel het, was om 03:30.

Anastasia VisserFoto: Susan Cilliers

Bylsma het egter Vrydag getuig dat hy tussen 02:00 en 03:00 uit Stella weg nadat hy en Sharnelle “een en ’n halfuur lank” in die bakkie gekuier en gevry het.

Smit het hom gekap omdat in ’n bandopname van vroeër gehoor kan word hoe hy aan ’n private speurder gesê het dat hy tot 03:30 daar was.

“Dit klop ook nie met u getuienis in die binneverhoor (vroeër) dat u en Sharnelle twee en ’n half uur lank in die bakkie gekuier het nie.”

Smit het Bylsma daarvan beskuldig dat hy doelbewus jok oor die tye “om so ver as moontlik” te kom van die tye toe boodskappe op die oggend van 26 Mei 2018 vanaf Sharnelle se selfoon na haar pa, Ronnie, gestuur is.

Die meisies se moordenaar het vermoedelik dié boodskappe om onderskeidelik 03:42 en 04:17 gestuur om die indruk te wek dat hulle selfdood gepleeg het.

Sharnelle HoughFoto: Verskaf
Marna EngelbrechtFoto: Verskaf

Smit het ook verwys na Bylsma se vroeëre borgtogverklaring waarin hy beweer het dat hy en sy voormalige vriendin, Anastasia Visser, in 2015 “bitter” uitmekaar is en dat die hof haar getuienis versigtig moet benader.

Vrydag het Bylsma getuig daar was nie “probleme tussen hulle” nadat hulle uitgemaak het nie en dat sy vorige advokaat, Niven Rai, “die verkeerde afleiding” gemaak het dat daar bitterheid was.

Visser het vandeesweek getuig oor ’n telefoongesprek enkele dae voor die moorde tussen haar en Bylsma, waarin hy glo gesê het hy kan nie aanbeweeg sedert hy en Sharnelle in Maart/April 2018 uitgemaak het nie. Hy het glo ook gesê hy sal Sharnelle se lewe “hel” maak en haar tot selfdood dryf.

Bylsma ontken al dié uitlatings en beweer hy het Visser in die gesprek net raad oor ’n tugverhoor gegee.

“Hoekom sal sy doelbewus jok indien julle op ’n vriendelike voet was en sy selfs raad by jou gevra het?” wou Smit weet. “U is die een wat lieg. Hoe het sy geweet om na selfdood te verwys, terwyl u (twee dae later) in u bekentenis geskryf het u wou Sharnelle help om selfdood te pleeg?”

Bylsma ontken ook Victor se getuienis vandeesweek dat Bylsma Sharnelle glo enkele ure voor haar dood uitgeskel het en gesê het hy hoop dat sy “gaan hou van wat hy vanaand gaan doen”.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.