Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Xander getuig hoe hy ‘gebreek’ en alles erken het
Xander Bylsma praat Dinsdag in die Noordwes-hooggeregshof in Mmabatho met sy pa, Monté. Foto: Felix Dlangamandla

“Hy het my die hele tyd gevra hoekom ek dit gedoen het en my gelei en gelei en gelei. Ek het moeg geraak van dronkgeit (sic), naarheid en stres, ek het gebreek van frustrasie en toe gee ek hom die antwoorde wat hy wil hê.”

So het Xander Bylsma (20) Dinsdag in die Noordwes-hooggeregshof in Mmabatho getuig oor wat gebeur het toe hy op 26 Mei 2018 saam met die private speurder Chris Saunders na die Vryburg-polisiekantoor gery het. Hy het getuig hoewel hy “niks te doen gehad het” met die moorde op Sharnelle Hough (17), sy eksmeisie, en Marna Engelbrecht (16), sy kleinniggie, nie, het hy tog gebieg.

Dít omdat Saunders hom glo bly pols en gedreig het om Bylsma se ouers te vermoor indien hy nie skuld beken nie.

Die boesemvriendinne se lyke is vroeg die oggend van 26 Mei 2018 in die meisieskoshuis by die Hoërskool Stella gevind. Hulle is albei verwurg.

Bylsma het Dinsdag getuig in sy binneverhoor oor die toelaatbaarheid van sy bekentenis en uitwysings. Hy ontken nou skuld.

Hy het sy vuurwapen uitgepluk, gesê ek het sy dogter vermoor en dat hy antwoorde soek.

Hy het getuig iemand het hom vroeg die oggend van 26 Mei gebel om te sê Sharnelle het selfmoord gepleeg.

“Ek was emosioneel omdat ek baie lief vir haar was, toe drink ek tien Serdep-pille (angsmedikasie). Dit het my baie moeg, ’n bietjie dronk en naar gemaak. Dit was asof ek daar was, maar ook nie. Ek het baie opgebring.”

Bylsma het getuig hy was in dié toestand toe Stefaans Engelbrecht, Marna se pa, later die oggend op die Bylsmas se plaas in die Vryburgdistrik opdaag. “Hy het sy vuurwapen uitgepluk, gesê ek het sy dogter vermoor en dat hy antwoorde soek. En as ek nie alles erken nie, sal hy my en my pa doodskiet. Hy het my heen en weer geklap.”

Volgens Bylsma het Engelbrecht vir Saunders na die plaas laat kom. Saunders het Bylsma na die Vryburg-polisiekantoor geneem. “Ek het vir mnr. Saunders gesê ek het glad niks daarmee (Sharnelle en Marna se dood) te doen nie. Hy het gesê ek moet net skuldig pleit sodat ons dit oor en verby kan kry, omdat daar videografiese bewyse en vingerafdrukke van my is. Ek was baie geskok en het begin stres. Ek was bang of my pa-hulle orraait is. Ek het nie geweet of Stefaans sal teruggaan (plaas toe) nie.”

Bylsma het getuig Saunders het hom besonderhede oor die moordtoneel gegee wat hy later in sy bekentenis moes herhaal. “Ek was nie bewus dat hy ons gesprek (op band) opgeneem het nie. Ek neem aan hy het dit afgeskakel terwyl hy my voorgesê het, want dis nie in die opname nie.”

Bylsma het getuig hy was steeds “dronkerig en naar” toe hy op 27 Mei 2018 uitwysings gedoen het. “Ek kon die uitwysings doen omdat ek ’n prentjie in my kop gehad het oor wat mnr. Saunders my vertel het.”

Die binneverhoor duur Woensdag voort.

Meer oor:  Stella-Moorde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.