Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Xander ‘het al vriende in tronk gemaak’
Xander Bylsma in September buite die landdroshof in Vryburg. Foto: Simon Sonnekus

Xander Bylsma (19) het al ’n paar vriende in die Rooigrond-gevangenis naby Mahikeng gemaak en deel sy geld met hulle, sê sy ma, Mercia.

Bylsma verskyn weer Vrydag in die landdroshof in Vryburg in Noordwes in verband met die moord op sy eksmeisie, Sharnelle Hough (17), en sy kleinniggie, Marna Engelbrecht (16).

Die twee meisies se lyke is in Mei in hul koshuis by die Hoërskool Stella naby Vryburg gevind.

Die boesemvriendinne, wat albei in gr. 11 in dié skool was, is vermoedelik verwurg. Die bevindinge van die nadoodse ondersoek sal eers later in die hof bekend gemaak word.

Sharnelle Hough, haar pa, Ronnie, en haar boesemvriendin, Marna Engelbrecht. Marna was gek oor diere en wou ’n veearts word.Foto: Verskaf

Bylsma het nog nie om borgtog aansoek gedoen nie. Dis onwaarskynlik dat hy dit Vrydag sal doen, sê ’n betroubare bron.

Bylsma is ure nadat die meisies se lyke gevind is, in hegtenis geneem nadat hy sekere bekentenisse teenoor die polisie gemaak het. Die inhoud daarvan is onbekend. Dit sal moontlik later in die verhoor as getuienis aangebied word.

Mercia sê sy sal weer Vrydag by die hof wees om haar seun te sien.

“Ek kon hom vier weke laas in die tronk besoek omdat ek nie weer verlof by die werk kon neem nie. Dis ’n baie slegte tyd vir my. Xander se pa (Monté) kry ook baie swaar.”

Mercia en Monté is jare gelede geskei. Monté was nog met elke hofverskyning in Vryburg om sy seun te ondersteun.

Volgens Mercia het haar seun baie gewig verloor.

“Broeke wat hom vroeër gepas het, val nou van sy lyf af. Dit gaan emosioneel nie goed met hom nie.”

Sharnelle Hough het daarvan gedroom om ’n fotograaf te word. Foto: Verskaf

Die aanklagte teen Bylsma sal na verwagting Vrydag formeel aan hom gestel word. Lt.kol. Amanda Funani, polisiewoordvoerder in Noordwes, sê die polisieondersoek is nou afgehandel.

Sharnelle en Marna se families was ook nog met elke hofverskyning daar. Die meisies se familielede en die Bylsmas praat nie met mekaar by die hof nie.

Ronnie Hough, Sharnelle se pa, het vroeër gesê dit is vir hom te traumaties om nou al die polisiedossier te lees omdat hy nie wil weet hoe sy dogter gely het voordat sy gesterf het nie. Hough het gesê hy sal wag om dit te hoor as die verhoor eers begin en dat hy Bylsma in die oë wil kyk.

Hough wou nie uitwei oor die rede vir hoekom hy vir Bylsma sowat ’n maand voor die moorde gevra het om liewer sy verhouding met Sharnelle te beëindig nie.

Stefans Engelbrecht, Marna se pa, is sku vir die media. Volgens Hough is hy ook “teen die grond”.

Hough het kort ná die meisies se dood met die Bylsmas gepraat. “Hulle was self heeltemal in die duister oor wat gebeur het en het ook baie onbeantwoorde vrae.”

Meer oor:  Xander Bylsma  |  Stella-Moorde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.