Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Xander het Marna glo ‘gevloek, lelike boodskappe gestuur’

Xander Bylsma het Marna Engelbrecht glo sowat twee maande voordat sy vermoor is, “gevloek en lelike boodskappe aan haar gestuur”.

Xander Bylsma het Marna Engelbrecht glo twee maande voor haar dood gevloek en “lelike boodskappe” aan haar gestuur. Foto: Verskaf

Dit was na bewering so erg dat Marna (16) se pa, Stefans, Bylsma gebel en daaroor gekla het.

Dié getuienis is Maandag in die hooggeregshof in Mmabatho aangehoor waar Bylsma (20) tereg staan weens die moorde op Marna, sy kleinniggie, en Sharnelle Hough (17), sy meisie óf voormalige meisie.

Bylsma beweer hy en Sharnelle het op 23 Mei 2018, enkele dae voordat sy op 26 Mei vermoor is, opgemaak, maar dié getuienis word betwis.

Marna het glo nie ooghare vir Bylsma gehad nie. Sy en Sharnelle is vroeg die oggend van Saterdag 26 Mei in die Hoërskool Stella se meisieskoshuis verwurg.

Bylsma ontken skuld en het verlede Vrydag vir die eerste keer onder kruisondervraging beweer Brandon Victor (19), wat by Sharnelle vlerk gesleep het, het haar vermoor.

Bylsma het Maandag erken Stefans het hom gebel om te kla oor sy boodskappe aan Marna.

“My pa (Monté) het gesê ek kan van mense dink wat ek wil, maar nie sê wat ek wil nie. Ek en Marna het mekaar daarna op ons selfone geblok.”

Adv. Johan Smit SC, vir die staat, het op die laaste dag van kruisondervraging aan Bylsma gesê hy hét vir Marna en Sharnelle vermoor, en waar ook al sy getuienis met dié van die staatsgetuies verskil, dit verwerp moet word.

Smit wou onder meer by Bylsma weet of hy lief vir Sharnelle was en “nie kon wag” om haar die aand van 25 Mei 2018 weer te sien nadat hulle twee dae tevore opgemaak het nie. “Ja,” het Bylsma geantwoord.

Getuienis is vroeër gehoor dat hulle hul verhouding van omtrent ’n jaar teen omstreeks Maart of April 2018 beëindig het. Smit wou by Bylsma weet hoekom hy nie so gou moontlik nadat hy en Monté se opleidingskursus vroeg die Saterdagaand van 25 Mei klaar gemaak het, na Sharnelle in Stella “gejaag” het nie.

Xander Bylsma in die hooggeregshof in Mmabatho.Foto: Felix Dlangamandla

“U was dan so opgewonde om haar te sien? Hoekom was dit dan vir u belangriker om eers met u vriende te kuier voordat u net na 01:00 (op 26 Mei) in Stella aangekom het?”

Bylsma het verduidelik Sharnelle moes uit die meisieskoshuis sluip om hom te sien en dat hulle eers moes wag om seker te maak die koshuisvader by die seunskoshuis langs die meisieskoshuis slaap al.

“Weet u wat sou ek gedoen het?” was Smit se reaksie hierop. “Ek sou by die koshuis gesit en dopgehou het wanneer die koshuisvader se ligte afgaan.”

Bylsma het geantwoord “hy stem nie daarmee saam nie”.

Sy getuienis is Maandag afgehandel.

Adv. Sakkie Nel, vir Bylsma, sê die verdediging wil Dinsdag ’n DNS-kundige roep.

Meer oor:  Hoërskool Stella  |  Sharnelle Hough  |  Xander Bylsma  |  Marna Engelbrecht  |  Stella  |  Mmabatho  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.