Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Xander ontken gesprek met vriendin oor Sharnelle
Xander Bylsma Maandag in die hooggeregshof in Mmabatho. Foto: Deaan Vivier

Xander Bylsma (21) ontken dit dat hy ooit aan ’n voormalige vriendin van hom gesê het hy gaan Sharnelle Hough se lewe “hel maak en haar tot selfmoord dryf”.

Anastasia Visser (19), die vriendin, het Dinsdag in die hooggeregshof in Mmabatho, Noordwes hieroor getuig. Bylsma se verhoor in verband met die moord op Sharnelle (17), sy eksmeisie, en Marna Engelbrecht (16), sy kleinniggie, het vandeesweek hervat.

Die twee boesemvriendinne was albei in gr. 11 in die Hoërskool Stella toe hulle in die vroeë oggendure van Saterdag 26 Mei 2018 in die meisieskoshuis verwurg is. Bylsma ontken skuld.

Visser het Dinsdag getuig Bylsma het haar twee dae voordat die moorde gepleeg is, gebel en dat hy glo woedend was omdat hy agtergekom het Sharnelle het foto’s van haarself aan ene Brandon, glo haar nuwe kêrel, gestuur.

Volgens Visser het sy verstaan Sharnelle het die foto’s aan Brandon gestuur terwyl Sharnelle en Bylsma nog in ’n verhouding was.

Charnelle en Bylsma het hul verhouding sowat ’n maand voor die moorde beëindig. Sharnelle het glo kort daarna ’n verhouding met Brandon aangeknoop.

Adv. Sakkie Nel, Bylsma se regsverteenwoordiger, het in kruisondervraging aan Visser gesê Bylsma sal ontken wat sy getuig het naamlik dat hy onder meer aan haar gesê het hy kan nie aanvaar dat Sharnelle “aanbeweeg” het (nadat hulle uitgemaak het nie) of dat hy Sharnelle se lewe “hel sal maak” en haar “tot selfmoord sal dryf”.

Hy het alles gesê soos wat ek getuig het.

Bylsma sal beweer hy is nie die een wat Visser op 24 Mei 2018 gebel het nie, maar dat sy hóm gebel het om raad te vra oor ’n tugproses teen haar by haar koshuis.

“Daar was nooit tugstappe teen my nie, Xander het my eerste gekontak,” het Visser geantwoord. “Hy het alles gesê soos wat ek getuig het.”

Nel het Dinsdag ook aangevoer Bylsma sal dit ook ontken dat hy en Sharnelle ooit gepraat het oor ’n vroeëre gesprek tussen Sharnelle en Visser waartydens die twee meisies Sharnelle en Bylsma se verhouding bespreek het.

Volgens Bylsma het hy sy beweerde verhouding met Visser verbreek omdat hulle nie in dieselfde omgewing gewoon het nie.

Visser het in kruisondervraging in reaksie hiérop volgehou daar was nooit ’n vaste verhouding tussen haar en Bylsma nie, hoewel hulle “van mekaar gehou het”.

Bylsma beweer ook dit was Visser wat weer omstreeks Februarie 2018 met hom kontak gemaak het nadat hulle vir ’n tyd lank nie gepraat het nie en nie andersom soos Visser getuig het nie.

Meer oor:  Xander Bylsma  |  Sharnelle Hough  |  Noordwes  |  Mmabatho  |  Stella-Moorde  |  Verhoor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.