Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Xander se advokaat 'teleurgesteld' nadat hy onttrek

Xander Bylsma (20) se advokaat, Niven Rai, is “teleurgesteld” nadat hy Woensdag die tweede advokaat geword het wat hom aan Bylsma se moordsaak onttrek.

“Dis weens ’n belangebotsing binne die regskonteks waaroor ek nie meer besonderhede kan gee nie,” het ’n emosionele Rai gesê nadat die saak in die hooggeregshof in Mmabatho uitgestel is.

“Ek het baie geheg geraak aan Xander. Ons is op goeie voet uitmekaar en ek sal kontak met hom behou om te hoor hoe die saak vorder.”

Xander Bylsma en sy adv. Niven Rai, wat nou onttrek het. Foto: Susan Cilliers

Rai het Bylsma Woensdag omhels en lank met hom gesit en gesels in die beskuldigdebank. Dit het gelyk asof albei na aan trane was. Bylsma se prokureur, Adriaan Janse van Rensburg, het ook Woensdag aan die saak onttrek, om dieselfde rede as Rai.

Bylsma se vorige prokureur, Moolman Wessels, het vroeër vanjaar onttrek weens ’n “vertrouensbreuk”. Ferdie van Heerden, Bylsma se eerste advokaat, het reeds in 2018 onttrek, vermoedelik omdat hy geweier het om ’n borgtogaansoek vir Bylsma te hanteer.

Rai het dit toe behartig, maar Bylsma is borgtog geweier.

Regter Ronald Hendricks het die verhoor Woensdag uitgestel na 29 Julie tot 2 Augustus, sodat Bylsma se nuwe regspan genoeg tyd kan hê om voor te berei.

Adv. Johan Smit SC, die staatsadvokaat, en Adriaan Janse van Rensburg, Xander Bylsma se prokureur, wat ook nou aan sy saak onttrek het. Foto: Susan Cilliers
Xander Bylsma en sy adv. Niven Rai, in ’n emosionele oomblik in die getuiebank Woensdag, kort voordat Rai bekend gemaak het hy onttrek aan Bylsma se saak. Foto: Susan Cilliers

Bylsma sal verder kruisondervra word oor sy bekentenis wanneer die verhoor hervat.

Hy staan verhoor weens die moorde op Sharnelle Hough (17), sy voormalige meisie, en Marna Engelbrecht (16), sy kleinniggie. Die twee boesemvriendinne is die laaste naweek in Mei 2018 in hul koshuis by die Hoërskool Stella verwurg. Hoewel Bylsma ’n bekentenis afgelê het, ontken hy nou skuld. Hy sê hy het erken hy het Marna versmoor en Sharnelle gewurg en opgehang omdat die private speurder Chris Saunders gedreig het om sy ouers te vermoor indien hy dit nie doen nie. Saunders ontken dit.

Die onttrekking van Bylsma se regspan kom ná ’n dramatiese wending in die saak toe Bylsma Dinsdag in sy binneverhoor oor die toelaatbaarheid van sy bekentenis en uitwysings verrassende nuwe getuienis gelewer het. Hy het beweer hy kon nie die waarheid praat toe hy die bekentenis afgelê het nie omdat Saunders teenwoordig was toe kol. Corrie Coghlan dit by die Vryburg-polisiekantoor by hom afgeneem het. Bylsma beweer nou hoewel hy Rai oor dié omstandighede ingelig het, het sy regspan dit nog nooit in die hof geopper nie.

Familie van die vermoorde meisies lees berigte oor die saak in Woensdag se Beeld. Van links is Gert Pretorius, sy pa, Gert sr. en ma, Elize. Foto: Susan Cilliers

Bylsma het ook Dinsdag onder kruisondervraging toegegee dat Coghlan en kol. Dawie Lange in wie se teenwoordigheid hy die uitwysings gedoen het, moontlik alle vrae, ook oor sy regte, aan hom gestel het. Rai het Coghlan en Lange vroeër tydens kruisondervraging daarvan beskuldig dat hulle byna al die vrae nié aan Bylsma gestel het nie.

Ronnie en Sonja Hough, Sharnelle se ouers, het Woensdag gesê die uitstel beteken dat die saak nie nou vinnig tot ’n punt sal kom nie. “Ek kan my dogter se dood nie verwerk nie; ek kry berading,” het Sonja gesê. Monté Bylsma, Xander se pa, was baie emosioneel. “Ek is teleurgesteld, maar ons sal nou ’n nuwe regspan aanstel. Ek glo steeds in my seun se onskuld.”

Adv. Johan Smit SC, die staatsaanklaer, sê die staat het gehoop om in die volgende twee weke ver te vorder met die verhoor. “Al ons getuies is gereed; ons berei al maande voor. Adv. Rai het die etiese ding gedoen om te onttrek. Dis maar die derde keer in my 44 jaar as staatsadvokaat dat ’n regspan in hierdie stadium van ’n saak onttrek.”

Smit het onlangs afgetree as direkteur van openbare vervolging in Noordwes.

Xander Bylsma se regspan, Adriaan Janse van Rensburg (links) en adv. Niven Rai, by adv. Johan Smit SC, die staatsaanklaer. Foto: Susan Cilliers
Xander Bylsma het koponderstebo in die beskuldigdebank gesit nadat dit Woensdag bekend geword het sy tweede regspan gaan nou ook onttrek. Foto: Susan Cilliers
Xander Bylsma se tweede regspan wat nou ook onttrek het weens “’n konflik van belange”, adv. Niven Rai (links) en Adriaan Janse van Rensburg. Foto: Susan Cilliers
Xander Bylsma se ma, Mercia, hou hom Woensdag styf vas in die hof. Foto: Susan Cilliers
Sharnelle Hough
Marna Engelbrecht
Meer oor:  Xander Bylsma  |  Niven Rai  |  Regsspan  |  Hof  |  Stella-Moordverhoor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.