Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
‘Xander se optrede ná moorde dui ook op sy skuld’
Xander Bylsma en sy ma, Mercia, omhels mekaar Maandag in die hof. Foto: Felix Dlangamandla
Netwerk24 Felix Dlangamandla

Dit is uiters vreemd dat Xander Bylsma (20) “die liefde van sy lewe” nooit vroegoggend op 26 Mei 2018 gebel het nadat hulle glo ure tevore opgemaak het nie.

Dít terwyl hy Sharnelle Hough (17) deur die loop van die vorige aand en oggend ses keer gebel het, het regter Ronald Hendricks Maandag in die hooggeregshof in Mmabatho, Noordwes, gesê.

Die enigste afleiding wat hieruit gemaak kan word, is dat Bylsma vroegoggend reeds geweet het Sharnelle is dood, en dat hy nié eers later die oggend daarvan gehoor het soos hy beweer nie.

Hendricks het Bylsma Maandag skuldig bevind aan die moorde op Sharnelle, sy eksmeisie, en Marna Engelbrecht (16), sy kleinniggie. Hendricks het Bylsma se getuienis dat hy en Sharnelle kort voor die moorde opgemaak het, verwerp, onder meer omdat haar profielfoto op haar selfoon een was van haar en Brandon Victor, die nuwe liefde in haar lewe.

Hendricks het in sy uitspraak bevind selfoondeskundiges se getuienis strook met verskeie ander getuienis oor Bylsma se bewegings die oggend van die moorde, en dat hy op die moordtoneel was.

“Bylsma se selfoon was om 03:26 op 26 Mei 2018 laas aktief in Stella. Dit beteken nié hy het net daarna gery nie, hy was net nie op sy selfoon nie. Sy selfoon was die eerste keer weer om 05:00 aktief in die Vryburg-omgewing. Dit strook met die tye wat die moorde in Stella gepleeg is.”

Die moorde is vermoedelik tussen 03:30 en 04:30 gepleeg.

Xander Bylsma
Xander Bylsma Maandag in die hooggeregshof in Mmabatho, Noordwes. Foto: Felix Dlangamandla
Netwerk24 Felix Dlangamandla

Hendricks het Bylsma se alibi dat hy glo net ná 04:00 op 26 Mei by ’n plaashek sowat 60 km van Stella was en ’n Volvo-vragmotor daar sien uitry het, verwerp. Die opsporingstelsel in dié vragmotor wys dit het wel om 04:22 by die plaashek uitgery.

Hendricks het die staat egter gelyk gegee dat dié alibi bekook is. Bylsma het die vragmotor wat aan sy ma, Mercia, se werkgewer behoort, vermoedelik later in Vryburg gesien. Hy het toe ’n berekening gemaak om uit te werk wanneer die vragmotor by die werkgewer se plaas weg is “om sover moontlik weg te kom van die tyd wat die moorde in Stella gepleeg is”, het Hendricks bevind.

Hy het ook die getuienis van Anastasia Visser en Victor aanvaar dat Bylsma vóór die moorde onder meer gesê het hy sukkel om “aan te beweeg” nadat hy en Sharnelle uitgemaak het, dat hy gedreig het om haar lewe hel te maak en haar tot selfdood te dryf.

“Die inhoud van dié gesprekke (wat Bylsma nou ontken) strook ook met die inhoud van sy bekentenis, en dat hy die moord op Sharnelle soos selfdood wou laat lyk.”

Hendricks het gesê Visser kon slegs geweet het van foto’s waarna Bylsma in hul gesprek verwys het, indien hy dit self vir haar gesê het. Bylsma het vir Visser gesê hy is kwaad oor die gewaagde foto’s van haarself wat Sharnelle vir ander seuns gestuur het, en dat hy daardie foto’s vir haar pa, Ronnie, sal stuur. “Hy het toe ook (van die moordtoneel) ’n halfnaakfoto van Sharnelle na haar pa gestuur,” het Hendricks bevind.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.