Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Xander se regspan: ‘Brandon kon Sharnelle ook vermoor’

Xander Bylsma (20) se regspan sal aanvoer dat Brandon Victor (19) “redelik moontlik” betrokke kon wees by die moord op Sharnelle Hough.

Adv. Sakkie Nel, Bylsma se regsverteenwoordiger, het Woensdagmiddag in die hooggeregshof in Mmabatho, Noordwes, gesê dit is omdat Victor getuig het hy kon ook Sharnelle se selfoon met sy vingerafdruk oopmaak.

Brandon Victor
Xander Bylsma se regspan sal aanvoer Brandon Victor kon Sharnelle dalk vermoor het. Hier is hy Woensdag in die hooggeregshof waar hy getuig het.Foto: Susan Cilliers

Victor en Sharnelle (17) was romanties verbind toe sy en Marna Engelbrecht (16), haar boesemvriendin, op 26 Mei 2018 vermoor is. Albei is in die Hoërskool Stella se meisieskoshuis verwurg.

Victor het Woensdag onder meer getuig dat Bylsma, die moordverdagte, Sharnelle glo enkele ure voor haar dood geskel en gesê het hy “hoop sy gaan hou van wat hy vanaand gaan doen”. Bylsma en Sharnelle het hul verhouding sowat ’n maand voor die moorde verbreek.

Die vermoede is dat Sharnelle en Marna se moordenaar ná hul dood boodskappe van Sharnelle se selfoon gestuur het om die indruk te wek dat sy en Marna hul eie lewe geneem het.

Victor het Woensdag getuig hy en Sharnelle se selfone was so gestel dat hulle mekaar s’n met hul vingerafdrukke kon oopmaak.

Nel het in kruisondervraging gesê Bylsma sal aanvoer hy was in die tyd toe die boodskappe op 26 Mei 2018 in die vroeë oggendure van Sharnelle se foon gestuur is, 64 km van die koshuis naby ’n plaas en dat hy dit dus nie kon stuur nie.

“As Sharnelle toe dood was, kon u vingerafdruk mos haar selfoon oopmaak,” het Nel onder kruisondervraging aan Victor gesê.

Xander Bylsma Woensdag in die hof.Foto: Susan Cilliers

Nel het gesê Bylsma sal ontken dat hy ooit die Vrydagaand vir Sharnelle geskel het. Hy sal aanvoer hy het haar net gebel om te reël om klere af te gee. Volgens Bylsma het hy en Sharnelle enkele dae tevore opgemaak, maar het Sharnelle nie geweet hoe om Victor te hanteer nie omdat hy ook met haar wou uitgaan.

Victor het dit Woensdag ontken en gesê Sharnelle wou nie eers met Bylsma vriende wees nie. Hy het getuig Bylsma het hom die Vrydag voordat Sharnelle vermoor is, telefonies gedreig dat hy Sharnelle moet “uitlos” en dat hy hom sal “bliksem”.

Nel het Victor onder kruisondervraging ook gepeper oor hoekom hy nie meer besorgd was nie nadat Bylsma vir Sharnelle glo so geskel het. “U het nie die koshuisvader of ander volwassenes daarvan vertel nie, en kan nie onthou of u vroegoggend vir Sharnelle ’n boodskap gestuur het om te vra of sy oukei is nie.”

Victor het getuig hy het die gesprek vertolk dat Bylsma sy eie lewe wou neem en nié dat hy iemand anders leed wou aandoen nie.

“Sharnelle het gesê sy is orraait, ek was moeg en deur die mis toe ek net wakker geword het die volgende oggend.”

Xander Bylsma Woensdag in die hof.Foto: Susan Cilliers

Volgens Victor het hy eers toe die koshuisvader vroeg Saterdagoggend na hom kom en Marna se selfoonnommer vra, vermoed alles is nie pluis nie.

“Die koshuisvader het gesê hy sal later weer met my praat. Ek het aangeneem hy het reeds vir die ander volwassenes op die perseel gesê wat aangaan. Toe Marna en Sharnelle nie opdaag om saam met die bus na Koster te ry nie, het ek gevrees Xander het hulle ontvoer.

“Ek het Sharnelle se pa (Ronnie) se selfoonnommer gekry en hom ’n paar keer probeer bel. Ek kan nie onthou of ek hom in die hande gekry het nie. Die koshuisvader was nie op die bus nie, maar ek het afgelei hy het reeds geweet wat aangaan weens ons gesprek vroeër.”

Die verhoor duur voort.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.