Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Xander: ‘Speurder se bandopnemer was 40 minute af’

Die private speurder teenoor wie Xander Bylsma glo gebieg het oor die moorde wat hy gepleeg het, het sy bandopnemer na bewering sowat 40 minute lank afgeskakel om Bylsma voor te sê.

So het adv. Niven Rai, Bylsma se regsverteenwoordiger, Woensdag in die hooggeregshof in Mmabatho, Noordwes, aangevoer.

Bylsma (19) word sedert Dinsdag daar verhoor weens die moorde op Sharnelle Hough (17), sy voormalige meisie, en Marna Engelbrecht (16), sy kleinniggie.

Xander Bylsma Woensdag in die hooggeregshof in Mmabatho. Foto: Felix Dlangamandla

Die twee boesemvriendinne se lyke is op 26 Mei 2018 in hul koshuis by die Hoërskool Stella gevind. Albei is verwurg en het beserings op ander plekke as hul nekke gehad. Dit dui op ’n waarskynlike struweling met ’n aanvaller voordat hulle dood is, het die staatspatoloog dr. Tromp Els Dinsdag getuig.

Die staat voer aan Bylsma was die aanvaller, maar hy ontken dit. Bylsma beweer Chris Saunders, die private speurder, het hom voorgesê waaroor om te bieg en gedreig hy sal sy ouers vermoor as hy nie ’n bekentenis daaroor by die polisie aflê nie. Saunders ontken dit.

’n Bandopname van die gesprek tussen Bylsma en Saunders waarin Bylsma op die oog af bieg, staan nou sentraal om te bepaal wie jok: Saunders of Bylsma.

Saunders beweer die opnemer was aangeskakel sedert hy Bylsma op 26 Mei op sy pa, Monté, se plaas in die Vryburgdistrik gaan haal het tot in Vryburg waar hy Bylsma jr. na die polisiekantoor geneem het om ’n bekentenis af te lê.

LEES OOK: ‘Xander was onder invloed van pille toe hy bieg’

Saunders beweer hy het die bandopnemer net ’n kort rukkie van sowat ’n minuut by Vryburg afgeskakel, voordat hy dit weer aangeskakel het.

Rai het Woensdag aangevoer dis onmoontlik dat die bandopname net 83 minute lank kan wees indien dit net vir so ’n kort rukkie afgeskakel is. Saunders het volgens sy eie getuienis reeds begin opneem op die Bylsmas se plaas waar hy sowat 20 minute vertoef het voordat Bylsma jr. saam met hom Vryburg toe gery het.

Saunders ontken dit en sê sy opdrag en betaling het gekom van Richard Hobson, wat destyds voorsitter van die Hoërskool Stella se beheerliggaam was.

Dit is volgens Saunders sowat 140 km van die plaas tot in Vryburg. Intussen het Saunders nog 4 minute by ene Bertus stilgehou en 5 minute vertoef om brandstof in te gooi.

Bylsma het reeds in sy borgaansoek in Desember 2018 aangevoer Saunders het hom op die pad tussen Ganyesa en Vryburg voorgesê en gedreig. Rai skat Saunders se opnemer was omtrent 40 minute afgeskakel vir dié doel. Hy wou Woensdag by Saunders weet hoe hy geweet het om die opnemer weer die spesifieke oomblik by Vryburg aan te skakel toe Bylsma verder gebieg het. “Bylsma het toe vir die eerste keer gebieg dat hy Sharnelle eers bewusteloos gewurg het voordat hy haar (aan ’n trapreling in die koshuis) opgehang het. Dis omdat jy hom dit voorgesê het terwyl die opnemer afgeskakel was,” het Rai aangevoer.

Hy het gesê Saunders het die “polisie se werk probeer oorneem”, maar Saunders sê hy het deurentyd saam met die polisie gewerk.

Rai het Woensdag probeer wys dat Saunders deurentyd ’n agenda gehad het om ’n bekentenis uit Xander te dwing, onder meer omdat Stefans Engelbrecht, Marna se pa, in die bandopname genoem het hy betaal Saunders.

Saunders ontken dit en sê sy opdrag en betaling het gekom van Richard Hobson, wat destyds voorsitter van die Hoërskool Stella se beheerliggaam was.

Die verhoor duur voort.

Meer oor:  Xander Bylsma  |  Stella-Moorde  |  Hof  |  Getuienis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.