Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Xander vir sielkundige waarneming verwys

Xander Bylsma (19), Stella se vermeende dubbele moordenaar, gaan nou vir sielkundige waarneming verwys word om te bepaal of hy strafregtelik aanspreeklik gehou kan word vir die moorde.

Bylsma het Vrydag in ’n netjiese wit hemp en groen das in die landdroshof op Vryburg in Noordwes verskyn weens die moorde op Sharnelle Hough (17), sy eksmeisie, en Marna Engelbrecht (16), sy kleinniggie. Marna en Sharnelle, wat boesemvriendinne was, se lyke is einde Mei in die Hoërskool Stella se meisieskoshuis gevind.

Xander Bylsma (19) tydens sy hofverskyning in Vryburg op 6 Augustus. Foto: Simon Sonnekus

Die twee gr. 11-leerlinge is vermoedelik verwurg.

Bylsma het enkele ure nadat die lyke gevind is, sekere erkentenisse teenoor die polisie gemaak, maar die inhoud daarvan is nog nie bekend nie. Hy is toe in hegtenis geneem en sedertdien in aanhouding.

Mercia Bylsma het haar seun se klere vir die hof Vrydag al vroegoggend vir hom gebring. Sy pa, Monté, het ’n paar skoene gebring. Die egpaar is jare gelede geskei.

“Ek is baie gespanne,” het Mercia gesê waar sy by die hof gewag het om haar seun te sien. “Ek het vir hom kos, klere en ’n cappuccino gebring.”

Mercia het gesê sy het haar hare korter gesny omdat Xander sy hare kort moes sny sedert hy in die Rooigrond-gevangenis naby Mahikeng aangehou word. Xander se ouers is ná die hofverrigtinge toegelaat om hom in die polisieselle te gaan sien.

Die saak is einde September uitgestel sodat die akte van beskuldiging (met die aanklagte) Vrydag op Xander bedien kon word. Sy advokaat, Ferdi van Heerden, het egter Vrydag ’n aansoek gebring dat Xander vir 30 dae vir sielkundige waarneming in die Sterkfontein- psigiatriese hospitaal in Krugersdorp aan die Wes-Rand opgeneem word. Van Heerden het gesê dit moet ingevolge wetgewing gedoen word indien daar ’n vermoede bestaan dat iemand weens geestelike ongesteldheid of ’n gestremdheid nie aanspreeklik gehou kan word vir ’n misdryf nie.

Die staatsadvokaat, Dalton Tshinyani, het gesê reëlings sal nou in samewerking met die direkteur van openbare vervolging getref word om ’n bed vir Bylsma te kry sodra een by Sterkfontein beskikbaar raak.

Volgens Tshinyani is die akte van beskuldiging gereed, maar die stel van die aanklagte aan Bylsma is nou uitgestel weens die aansoek dat hy vir waarneming verwys word. Die polisie-ondersoek is reeds afgehandel. Xander verskyn weer op 6 November in die hof.

Sharnelle se stiefma, Anna, het met trane in haar oë by die hof gesê die seer van haar dood word met elke hofverskyning opnuut oopgekrap. Sharnelle se oupa, Gielie Hough (82), het gesê dat die moord op sy kleindogter die “hardste slag” is wat hom nog in sy lewe getref het. “Ek was vir niks bang nie en is deur baie dinge. Sharnelle was so vriendelik en nooit dikbek nie. Ek was baie na aan haar, haar ouers het by ons gewoon toe sy gebore is. My broer, Koos, het drie weke ná die moord op Sharnelle ’n hartaanval gekry. Ek dink dit was weens die skok.”

Gielie sê sy vrou, Lientha (Sharnelle se ouma), het Alzheimer se siekte. “Sy verstaan niks hiervan nie, dis dalk genadig.”

Sharnelle en Marna se pa’s, Ronnie Hough en Stefaans Engelbrecht, was albei ook by die hof. Ronnie het vroeër gesê sy pragtige dogter, wat ’n fotograaf wou word, het “nie verdien om so te sterf nie”.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.