Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
‘Xander was onder invloed van pille toe hy bieg’

Xander Bylsma (19) het glo tien keer sy normale dosis angsmedisyne gedrink voordat hy teenoor ’n private speurder gebieg en ’n bekentenis aan die polisie gedoen het.

Hy was gevolglik verward en dit was daarom onvanpas dat die Chris Saunders, die private speurder, hom in dié toestand oor Sharnelle Hough (17) en Marna Engelbrecht (16) se dood ondervra het, het adv. Niven Rai, Bylsma se regsverteenwoordiger, Woensdag in die hooggeregshof in Mmabatho, Noordwes, aangevoer.

Xander Bylsma praat met sy pa, Monté.Foto: Felix Dlangamandla

Bylsma word sedert Dinsdag hier verhoor weens die moorde op Sharnelle, sy voormalige meisie, en Marna, sy kleinniggie. Die staat voer aan hy het hulle in Mei 2018 vermoor deur albei te verwurg. Die twee boesemvriendinne was albei in gr. 11 in die Hoërskool Stella in Noordwes. Die staat beweer die motief was dat Bylsma met Sharnelle wou opmaak, maar sy wou nie, onder meer omdat Marna teen ’n versoening gekant was.

Bylsma het ure nadat die meisies se lyke op 26 Mei 2018 gevind is, ’n bekentenis aan die polisie gedoen. Dít nadat hy kort tevore op die oog af teenoor Saunders gebieg het dat hy die moorde gepleeg het. Saunders het hom daarna na die polisiekantoor in Vryburg gebring waar hy die bekentenis gedoen het.

Rai het aangevoer Bylsma het kort voordat hy teenoor Saunders gebieg het, ’n hele strokie van tien Serdep-tablette geneem. Hy drink gewoonlik net een 50 mg-tablet teen angs.

Xander Bylsma praat met sy prokureur, Adriaan Janse van Rensburg. Niven Rai, sy advokaat, staan links op die foto. Foto: Felix Dlangamandla.

Bylsma ontken nou skuld en voer aan Saunders het hom voorgesê wat om in sy bekentenis te skryf en gedreig hy sal sy ouers vermoor as hy nie gehoorsaam nie.

Sy regspan beveg daarom nou die toelaatbaarheid van die bekentenis.

In ’n bandopname van die biegsessie teenoor Saunders wat Dinsdag in die hof gespeel is, praat Bylsma veral aan die begin van die opname stadig en emosieloos. In die opname kan gehoor word hoe Saunders ’n paar keer vir Bylsma vra wat fout is en hoekom hy “so lyk”.

Ander mense, onder andere Bylsma se pa, Monté, noem in die opname ook dat Bylsma in ’n toestand is en nie homself is nie.

Bylsma sê in die opname niks oor pille nie, maar verklaar sy gedrag met “stres”.

Marna Engelbrecht se ma, Rianet, en kapt. Markus Ferreira, ondersoekbeampte in die Bylsma-saak, in die hof. Foto: Felix Dlangamandla

Rai het Woensdag ook aangehaal uit die opname dat Bylsma gesê het hy was “baie lief” vir Sharnelle en dat hy “die belangrikste ding in sy lewe verloor het”, toe hy kort voor die gesprek met Saunders gehoor het Sharnelle is dood. Hy was dus ontsteld.

Rai het aangevoer die feit dat Bylsma in die bandopname sê hy het nie ’n rybewys nie, al het hy een, bewys hoe verward hy was. Rai het die private speurder ook daarvan beskuldig dat hy “woorde in Bylsma se mond geplaas” het deur leidende vrae te vra. Saunders het byvoorbeeld vir Bylsma gevra waar hy die handsak en tou gekry het waarmee hy die meisies glo verwurg het. Dít nog voordat Bylsma self iets daaroor gesê het.

Rai wou by Saunders weet wat hy gehoop het om uit die gesprek met Bylsma te kry. “Die waarheid,” het Saunders geantwoord. Rai het toe gevra hoekom Saunders dan aangehou het om Bylsma te ondervra, al het hy aanvanklik sy betrokkenheid by die meisies se dood ontken.

Die private speurder Chris Saunders in die getuiebank.Foto: Felix Dlangamandla

“Ek kon nie dadelik alles aanvaar wat hy gesê het nie, ek was besig met ’n ondersoek,” was Saunders se verweer.

Rai het volgehou dit is duidelik uit die bandopname dat Saunders Bylsma gedruk het vir die spesifiek antwoorde wat hy wou gehad het. “Die transkripsie van die eerste opname is 21 bladsye lank, jy het hom in die eerste 16 bladsye aanhou por voordat hy begin bieg het.”

Rai het aangehaal uit die transkripsie waar Saunders teenoor Bylsma te kenne gegee het daar is vingerafdrukke, foto’s en videos wat hom met die meisies se dood verbind, terwyl dit glo nie waar was nie. “Jy wou by Xander die indruk wek dat daar bewyse teen hom is, om hom te laat bieg.”

Meer oor:  Xander Bylsma  |  Marna Engelbrecht  |  Sharnelle Hough  |  Stella-Moorde  |  Hof  |  Getuienis  |  Angsmedisyne
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.