Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Zak betaal glo R2 miljoen vir Cecilia se ‘weeshuis’

Zak Valentine (34) het glo meer as R2 miljoen oor drie jaar gehoes om Cecilia Steyn (37) se “weeshuis vir kinders van sataniste” te onderhou.

Valentine het Donderdag in die hooggeregshof in Johannesburg getuig.

Hy staan saam met Cecilia en Marcel Steyn (21) tereg op 11 moorde en 21 ander aanklagte wat verband hou met bedrog, korrupsie en rampokkery.

Zak Valentine in die getuiebank.Foto: Felix Dlangamandla

Luidens vorige getuienis was Valentine ’n lid van Electus per Deus (EPD), ’n “Christelike bediening” onder leiding van Cecilia, wat hom glo vir bekeerde sataniste beywer het. Die staat voer aan dié “bediening” was in werklikheid ’n onderneming wat mense vir geld vermoor het.

“Ek het finansieel bygedra tot die huur (van die weeshuis) en die versorging van die kinders,” het Valentine getuig. Sy skenkings is direk in Cecilia se bankrekening inbetaal.

Op adv. Amanda Nel, wat Valentine verteenwoordig, se vraag: “Was jy onder die indruk dat Cecilia dit gebruik het vir die koninkryk van God?” het Valentine instemmend geantwoord.

Niemand mag ooit die kinders in die weeshuis besoek het nie, anders sou die Kerk van Satan hulle vermoor het, het Valentine getuig.

Hy het getuig hy het wél boodskappe gekry, waarin “kinders” hom bedank vir hul kos en klere.

Volgens Valentine het hy ook bygedra tot Cecilia se mediese en sielkundige rekeninge, asook haar chemoterapie.

“Daar (by Cecilia) was altyd gesondheidsprobleme,” aldus Valentine, wat self ’n diabeet is.

Hy het getuig Cecilia was werkloos in daardie tyd en dat haar man, ’n polisiebeampte, nie juis die mas geldelik kon opkom nie.

Valentine het daarom ook gedurende die week gehelp om kos op die Steyns se tafel te sit.

Valentine, wat ’n B.Com-graad het, het voorheen in Londen, by Absa-bank en by Discovery as ’n finansiële raadgewer gewerk. Hy het later sy eie buitelandse valuta-onderneming begin.

Cecilia Steyn en Marcel Steyn.Foto: Felix Dlangamandla

‘Ek is onskuldig’

Valentine het Donderdag enige betrokkenheid by die moorde op sy vrou Mikeila, pastoor Rex Bendixen en Natacha Burger ontken.

Hy het getuig hy het Natacha Burger (33), wat ook Overcomers-kursusse aangebied het, twee keer by Cecilia se huis ontmoet. Burger is op 26 Julie 2012 vermoor. Volgens Valentine het hy in die media van haar moord verneem. Die staat plaas egter Valentine en sy vrou op die toneel van die moord.

Hy het verder getuig hy het Bendixen, wat op 13 Augustus 2012 met mes- en bylwonde in sy tuin aangetref is, nooit persoonlik ontmoet nie.

Valentine het getuig hy het dieselfde dreig-SMSe “van die Kerk van Satan” ontvang om van Cecilia af weg te bly, waaroor ander reeds getuig het.

Valentine het sy huwelik met Mikeila as ’n gelukkige een beskryf. “Ek sou sê dit was ’n normale verhouding. Daar was geen sprake van egskeiding of so iets nie.”

Mikeila is op 4 Oktober 2012 met tientalle meswonde in haar bed gevind – glo omdat sy die groep wou verlaat.

Regter Ellem Jacob Francis het vroeër Donderdag ’n aansoek van Valentine en Marcel vir vryskelding op sekere aanklagte van die hand gewys.

Hulle onderskeie regsverteenwoordigers het aangevoer dat die staat nie op sigwaarde ’n saak teen hulle kliënte het om van die aanklagte nie. Ook dat sommige van die getuienis op hoorsê neerkom.

Francis het gesê hy sal hieroor aan die einde van die verhoor meer sê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.