Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Zama-Zamas skuldig aan sluipmoord

“Onwettige mynwerkers bedreig nie net die voortbestaan van mynmaatskappye nie maar ook die lewe van wettige mynwerkers en die land se ekonomie,” sê Ernie van Rensburg, hoof van die veiligheidsmaatskappy Bidvest Protea se bedrywighede by Harmony Gold se myne.

Van Rensburg getuig ter strafverswaring in die rondgaande hof in Virginia. Ses mans word verhoor vir hul aandeel in die sluipmoord op Simphiwe Kubheka (36).

Thabeso Khoase (36), voorheen ’n wettige mynwerker, word as die baasbrein agter die sluipmoord op Simphiwe Kubheka beskou.Foto: Alet van der Walt

Nog ’n man en ’n vrou is Maandag vrygespreek.

Kubheka, ’n streekmynbestuurder van Harmony Gold, is op 28 September 2017 buite Odendaalsrus in die Vrystaat doodgeskiet toe hy die middag die myngebied wou verlaat.

Van Rensburg het aan die hof gesê dit het die mynmaatskappy die afgelope agt jaar R246 miljard gekos om sy werksaamhede in die Mathjabeng- munisipale gebied te beveilig.

“Sindikaatleiers en onwettige mynwerkers beskou Suid-Afrika se regstelsel as ondoeltreffend en die vonnisse wat opgelê word dien nie as ’n afskrikmiddel vir hulle nie,” het Van Rensburg getuig.

“Die armste, kwesbaarste mense word deur sindikate mislei en met beloftes van wettige werk in die mynbedryf na die gebied gelok. Wanneer hulle hier aankom word hul paspoorte gekonfiskeer en word hulle gedwing om as sogenaamde zama-zamas ondergronds te werk.”

Van hulle bly tot twee jaar lank ononderbroke ondergronds.”

Kubheka se harde werk en toewyding om onwettige myners by die Harmony Gold se Phakisa- en Thsepong-myn by Odendaalsrus te bekamp, het volgens die staat tot sy dood gelei.

Regter Celeste Reynders het Maandag in die rondgaande hof uitspraak gegee in die moordverhoor.

Reynders het Tota Mohlabane (26), Pitso Mokeki (29), en twee Lesotho-burgers, Thabeso Khoase (36), en Motlalepule Ramakoane (36), skuldig bevind aan die sluipmoord op Kubheka.

Khoase, wat in diens van Harmony Gold was en as ’n klipboor-operateur in die myn gewerk het, word as die baasbrein in die sluipmoord beskou. Hy het ná die moord na Lesotho gevlug en is deur dié land se owerhede aan Suid-Afrika uitgelewer.

Kefewu Serobanyane (21) is onskuldig bevind op die moordklag maar saam met Mohlabane en Mokeki skuldig bevind aan oortredings van die Vuurwapenwet.

Nyasha Nyamunda (22) is aan ontvoering skuldig bevind nadat hy Agnes Ditsoane ontvoer en gedreig het.

Ditsoane is twee dae voor Kubheka vermoor is deur Nyamunda ontvoer en aangesê om ’n boodskap aan die mynbestuur oor te dra dat hulle moet ophou om die zama-zamas te vervolg.

Herbert Maphosa (20), ’n Zimbabwiese burger, wat ook daarvan aangekla was dat hy gehelp het om Ditsoane te ontvoer, is onskuldig bevind.

Maqophello Ratia (34), ook van Lesotho, wat daarvan aangekla was dat sy die moordwapen en ammunisie ná die moord versteek het, is onskuldig bevind op al die aanklagte teen haar.

Die hof sal moontlik nog tot Vrydag getuienis ter strafverswaring aanhoor.

Meer oor:  Harmony Gold  |  Hof  |  Zama-Zamas  |  Sluipmoord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.