Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Zimbabwiër ontken skuld op 6 moordklagte

’n Zimbabwiese man wat daarvan beskuldig word dat hy vroue met die belofte van werk gelok en hulle vermoor het, het skuld op ses moordklagte ontken.

Bryan George Mudyiwayana (34) het Woensdag in die hof in Swellendam verskyn. Hy staan tereg op die ses moordklagte, een aanklag van roof met verswarende omstandighede, een van verkragting en twee aanklagte van die oortreding van die Immigrasiewet.

Die beweerde voorvalle het in Swellendam, Bredasdorp, Worcester en Mosselbaai plaasgevind waar hy in Februarie 2019 deur die polisie van Da Gamaskop vasgetrek is.

Die sake is saamgevoeg en na die hooggeregshof in Kaapstad oorgeplaas. Omdat die meeste van die getuies van Swellendam is, sit die hof as rondgaande hof in Swellendam.

Mudyiwayana het in 2009 die land binnegekom met ’n tydelike asielpermit wat op 1 Julie 2010 verstryk het.

Hy het dit nie hernu nie, maar in 2015 by die departement van binnelandse sake onder ’n vals naam vir ’n nuwe permit aansoek gedoen. Dié permit is uitgereik en het in 2016 verval waarna hy glo onwettig in die land gebly het.

Hy het Woensdag skuld beken op die aanklagte dat hy die Immigrasiewet oortree het.

Die ses moordklagte

Die staat beweer hy het Moleboheng Mafata in April 2016 naby Wolseley vermoor. Hy het na bewering ’n vriend genader en gesê hy is op soek na mense om vir R3 500 by ’n “dieretuin” te werk. Dié het hom na haar skoonsuster, Mafata, verwys en hulle is op 9 April na die “dieretuin” toe. Mafata is nooit weer gesien nie.

Haar lyk is op 28 April in ’n veld tussen Railton en die N2 naby Swellendam gekry. Luidens die lykskouingsverslag is sy aan ’n kopbesering dood.

Die tweede vrou wat Mudyiwayana na bewering vermoor het, is Gladys Ntondini. Hulle was in ’n verhouding en hy het haar glo in Julie 2016 in Swellendam vermoor.

Hulle is glo Kaapstad toe, maar hy het sonder haar teruggekeer. Haar lyk is in November 2016 tussen bosse op die plaas Kluitjieskraal naby Swellendam ontdek. Sy is ook aan ’n kopbesering dood.

Grace Nyasha Hondo is hierna in Julie 2016 in Worcester vermoor.

Mudyiwayana het haar ook na bewering met ’n werkgeleentheid by ’n “oord” gelok. Haar lyk is in Mei 2017 langs die N2 naby Bredasdorp ontdek. Luidens die lykskouingsverslag is sy in die bors gesteek.

Naume Gwengwe van Worcester is glo deur Mudyiwayana oorreed om saam met hom na Ashton te gaan ook omdat daar glo ’n werkgeleentheid vir haar was. Hulle is op 2 September 2017 na Ashton en Gwengwe is nooit weer gesien nie.

Haar oorskot is eers op 6 September verlede jaar agter die Overberg-brandweerstasie naby die R60 ontdek. Sy is ook aan ’n kopbesering dood.

Michael Pekaan het alleen in sy huis op die Vergenoegd-plaas buite De Doorns gewoon.

Luidens die klagstaat is Mudyiwayana op 19 November 2017 gesien toe hy glo meubels van Pekaan op ’n bakkie gelaai het. Hy is vroeër deur getuies in Pekaan se huis gesien. Twee dae later is Pekaan se lyk in sy huis ontdek.

Die staat beweer Mudyiwayana het Pekaan met ’n byl doodgeslaan en ’n yskas, televisie en ’n DVD-speler by hom gesteel.

Lungelwa Dangtya is op 18 Desember 2017 in Mosselbaai vermoor. Mudyiwayana was glo die dag by haar huis, waarna haar lyk op 19 Desember ontdek is. Sy is dood aan ’n kopbesering.

Mudyiwayana het Woensdag skuld op al dié moordklagte ontken. Die verhoor duur Donderdag voort.

Meer oor:  Swellendam  |  Moordklagte  |  Skuld  |  Ontken
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.