Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Zondo pak Zuma nou in hoogste hof

Oudpres. Jacob Zuma versuim nie net om voor die Zondo-kommissie te getuig nie, maar val ook aktief die wettigheid en geloofwaardigheid van die kommissie, sy voorsitter én werksaamhede aan.

Zuma word só deur prof. Itumeleng Mosala, sekretaris van die Zondo-kommissie van ondersoek, in hofstukke getakel in die dringende aansoek wat die kommissie Donderdag teen Zuma by die konstitusionele hof in Johannesburg ingedien het.

Die kommissie wil daarmee hê die hof moet Zuma dwing om van 18 tot 22 Januarie, sowel as van 15 tot 19 Februarie, voor die kommissie te verskyn om te getuig. Twee nuwe dagvaardings daarvoor is verlede week op Zuma beteken.

Mosala noem in die hofstukke dat die kommissie die konstitusionele hof direk nader weens tydsdruk omdat die kommissie sy mondelingse getuienis teen einde Februarie volgende jaar moet afhandel om sy werk teen 31 Maart 2021 voltooi te kan hê.

Volgens Mosala het Zuma se weiering om voor die kommissie te verskyn ’n “ernstige situasie” laat ontstaan en skend Zuma sy grondwetlike plig as oudstaatshoof deur nie te wil antwoord op bewerings van staatskaping teen hom tydens sy presidensiële termyn nie.

Daar word in die hofstukke aangevoer dat Zuma, benewens sy versuim om te getuig, ook die kommissie aktief aanval. Daar word hier verwys na onder meer die verklaring van die Jacob Zuma-stigting van 19 November – die dag toe Zuma sonder toestemming uit die kommissie se sitting gestap het – waarin die stigting sê dat Zuma “eerder tronk toe sal gaan as om toe te laat dat hy deur ’n onregmatige, gemanipuleerde en onwettige proses geboelie word”.

Mosala voer aan dat Zuma die stigter en beskermheer van die stigting is, wat namens hom praat, maar dat hy nog nie die stigting se uitlating openlik teengestaan het nie en dat hom dus daarmee vereenselwig.

Daarbenewens het Zuma volgens Mosala ook versuim om te reageer op 36 versoeke van die kommissie dat hy moet reageer op die bewerings van ander getuies wat hom voor die kommissie geïmpliseer het.

Dit “illustreer die aard en omvang van die bewerings rakende mnr. Zuma”.

“As sekretaris van die kommissie is ek ook op die punt om strafregtelike klagte by die polisie teen mnr. Zuma in te dien vir sy versuim om op 19 November vanjaar teenwoordig te bly by die verrigtinge van die kommissie, alvorens hy deur die voorsitter verskoon is, en omdat hy nie die volgende dag se verrigtinge bygewoon het nie.

“Mnr. Zuma het versuim en geweier om tot op datum met die kommissie saam te werk.

“Dit ten spyte van die samewerkende benadering wat die kommissie teenoor hom ingeneem het – totdat dit nodig geword het om hom te dagvaar.

“Die beste poging deur mnr. Zuma was sy gewilligheid om tydens die week van 15 Julie 2019 voor die kommissie te verskyn. Ten spyte van daardie verskyning het hy nog nie ’n wesenlike weergawe en antwoord vir die materiële bewerings teen hom gegee nie.”

Mosala voer verder aan dat Zuma se versuim of weiering om voor die kommissie te verskyn, die kommissie reeds vyf weke se geskeduleerde verhoortyd gekos het. “Dit is benewens die datum van 16 tot 20 November vanjaar wat ook verlore is weens Zuma se laat aansoek vir die onttrekking van die voorsitter (Zondo) en sy uitstap uit daardie verrigtinge.”

Mosala voer aan dat Zuma nog nooit ’n formele betoog ingedien het oor waarom hy nie aan Zondo se opdragte gehoor gee nie.

Die kommissie vra ’n bestraffende kostebevel teen Zuma indien hy die aansoek in die konstitusionele hof sou teenstaan.

Meer oor:  Zondo-Kommissie  |  Jacob Zuma
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.