Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Zuma-beeldpoetser in hof ná sy restaurant nie betaal

Hoewel die klag teen haar moontlik teruggetrek sal word, moet oudpres. Jacob Zuma se voormalige beeldpoetser en woordvoerder steeds Vrydag op aanklag van ontduiking van betaling in die landdroshof in Hillbrow, Johannesburg, verskyn.

Liesl Göttert is Woensdagnag by The Jolly Roger-restaurant in Parkview, Johannesburg, in hegtenis geneem. Sy het haar in die vroeë oggendure tot Facebook gewend terwyl sy in die polisievangwa gesit het.

“Ek is by Parkview in hegtenis geneem en opgefoeter. In ’n polisievangwa gegooi. Geen verduideliking nie. Ek is op pad na Hillbrow-polisiekantoor (sic),” lui Göttert se een inskrywing wat Donderdag omstreeks 03:00 op Facebook geplaas is.

Liesl Gottert
So het die ander inskrywing op Facebook gelui.

In ’n ander inskrywing skryf sy sy het ’n afspraak gehad om die finansiering van ’n draaiboek wat sy geskryf het te bespreek. Sy het by The Jolly Roger gesit en wag en “twee drankies geniet”, maar niemand het opgedaag nie.

liesl gottert
So het die ander inskrywing op Facebook gelui.

“Hulle (die restaurant) het gevra ek moet die rekening betaal. Ek het aangebied om ’n elektroniese oorbetaling te doen, wat hulle nie aanvaar het nie. Hulle het die polisie gebel. (My) in die vangwa gegooi. Mishandeling, beledigings en ’n gekarnuffel,” lui haar inskrywing.

Liesl Göttert
Liesl Göttert Foto: Facebook

’n Kennis van haar het die inskrywing gesien en haar Donderdagoggend te hulp gesnel om haar borgtog van R1 000 te betaal.

Na verneem word, is sy weens ’n onbetaalde rekening “van R112” in hegtenis geneem.

Sers. Mduduzi Zondo, woordvoerder van die Hillbrow-polisiekantoor, wou nie op die omstandighede rakende die klag uitbrei nie, omdat dit nog ondersoek word. Hy het verder gesê bewerings dat die polisie Göttert aangerand het, is “beslis onwaar”.

Göttert en die restaurant het Donderdagmiddag agter geslote deure ’n ooreenkoms bereik.

Na verneem word, sou die restaurant die klag teen Göttert terugtrek as sy op Facebook om verskoning vra.

Göttert het daarna op Facebook bevestig dat sy ’n vergadering met die bestuur van The Jolly Roger gehad het, waarin ’n “vriendskaplike ooreenkoms” bereik is en dat die “redes wat tot haar inhegtenisneming gelei het, uitgesorteer is”.

“Ons het albei verantwoordelikheid aanvaar vir die rol wat ek sowel as die bestuurder van die restaurant gespeel het en wat ’n geskil oor niebetaling laat eskaleer het. Die restaurant se verteenwoordiger het ingestem om die klag wat laasnag by die polisie ingedien is, terug te trek,” lui die inskrywing.

“Ek wil graag enige negatiewe kommentaar wat ek in persoon en op sosiale media met verwysing na The Jolly Roger gemaak het, terugtrek, aangesien ons ooreengekom het op ons onderskeie verskonings, wat hierna privaat sal bly.”

Göttert hoop dat die saak Vrydag van die hofrol geskrap sal word.

Dr. Llewelyn Curlewis, strafregkenner, sê dit is baie waarskynlik dat ’n saak van die rol geskrap sal word as die klaer nie wil voortgaan nie, maar die onus rus steeds op die staat.

“Die staat kan steeds besluit om met vervolging voort te gaan,” sê hy.

The Jolly Roger het by navraag gesê die geskil is intern opgelos, en wou geen verdere kommentaar lewer nie.

  • In 2015 is berig Göttert se dogter Klara (14) het haar eie lewe geneem deur van die tweede vloer van die Northgate-winkelsentrum in Johannesburg af te spring.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.