Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Zuma betreur staat se optrede in sy korrupsie-verhoor

Oudpres. Jacob Zuma beskuldig die staat daarvan dat hy klandestiene samesprekings voer met regter Achmat Jappie, regterpresident van KwaZulu-Natal, oor kwessies wat met Zuma se korrupsieverhoor verband hou.

Oudpres. Jacob Zuma se regspan beskuldig die staat van “onvanpaste korrespondensie” met KwaZulu-Natal se regterpresident, regter Achmat Jappie, oor kwessies wat met sy korrupsieverhoor verband hou. Foto: Felix Dlangamandla

Die Jacob Zuma-stigting het Maandag in ’n verklaring die staat se hoofaanklaer in sy korrupsiesaak, adv. Billy Downer SC, daarvan beskuldig dat hy kwessies wat met sy verhoordatum en die duur van die verhoor verband hou, met Jappie bespreek het sonder dat Zuma se regspan daarvan bewus was.

“Die mees ontstellende aspek hiervan is dat adv. Downer nie net die aanwysing van ’n verhoordatum in 2021 wou onderhandel nie, maar ook die meriete van die saak met regterpresident Jappie wat in hierdie stadium geen rol in die administrasie van die saak het nie aangesien dit deur adjunkregterpresident (Mjabuliseni) Madondo gehanteer word.”

Zuma voel verontreg dat die staat korrespondensie met Jappie het oor die uitstel van sy verhoor van 23 Junie vanjaar tot Februarie aanstaande jaar, sonder dat sy verdedigingspan deel van die besprekings was, lui die verklaring.

Zuma se dogter Duduzile het onlangs ’n e-pos van Zuma se prokureur, Eric Mabuza, op Twitter gedeel waarin hy sy kommer teenoor Jappie en Madondo lug.

“Ons verwys na die e-pos gedateer 21 Mei wat gerig was aan die edelagbare Jappie deur die staatsadvokaat Downer SC. Die e-pos is na bewering gestuur ‘ingevolge u versoek om ingelig te word oor die verwagte duur van die verhoor en ’n voorgestelde verhoordatum’,” lui Mabuza se e-pos.

“Ons wil dit vir die rekord stel dat ons nie ingesluit is in hierdie korrespondensie nie en dat ons nie ingelig is oor die redes, regverdiging en presiese aard van die ex parte-besprekings tussen die agbare regterpresident en adv. Downer nie en of daar ander besprekings van dié aard was nie.”

Die nasionale vervolgingsgesag kan bevestig dat die korrespondensie in die normale verloop van sake gedoen is.

Die Jacob Zuma-stigting sê hy het aan Jappie geskryf om sy “beswaar” oor die staat se optrede aan te teken en het die hoofregter en die Regsdienskommissie gevra om die kwessie te ondersoek.

Adv. Elaine Zungu, direkteur van openbare vervolging in KwaZulu-Natal, het die korrespondensie tussen Downer en Jappie Dinsdag egter as “normaal” beskryf.

“Die nasionale vervolgingsgesag kan bevestig dat die korrespondensie in die normale verloop van sake gedoen is. Enige kwessies wat te berde kom, sal tydens die verrigtinge gehanteer word; die meriete van die saak is nie bespreek nie omdat dit sub judice is,” het Zungu gesê.

Nathi Mncube, woordvoerder van die regterpresident se kantoor, het Dinsdag net bevestig dat Jappie Zuma se beswaar gesien het.

Meer oor:  Jacob Zuma
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.