Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Zuma: ‘Getuie kan só uit graf sê’

Die sekretaresse wat Schabir Shaik se doppie geklink het en ’n sleutelgetuie is in die beplande korrupsieverhoor teen oudpres. Jacob Zuma, is aan kanker dood.

Susan Delique (72), destydse sekretaresse van die Franse wapenmaatskappy Thomson-CSF (nou Thales), het in 2004 die staat se troefkaart teen Shaik uitgepluk toe sy getuig het hoe sy persoonlik ’n opdrag uitgevoer het om ’n “gekodeerde faks” te tik en te stuur wat swart-op-wit notuleer dat Zuma R500 000 omkoopgeld moes kry om die maatskappy teen vervolging te beskerm.

Oudpres. Jacob Zuma die afgelope week in die hof in Pietermaritzburg. Foto: Felix Dlangamandla

Haar baas, Alain Thétard, het destyds geweier om saam te werk en het die bestaan van die faks ontken. In ’n stadium het hy selfs beweer dit was maar net ’n gekrabbel om sy gedagtes op papier neer te pen.

Die hof het eerder vir Delique geglo.

City Press het in 2017 berig die nasionale vervolgingsgesag beskou haar as ’n sleutelgetuie in die saak.

Omdat daar al so ’n lang tyd verloop het sedert die beweerde omkopery van Zuma, is etlike getuies al dood of nie meer beskikbaar nie.

Zuma het die afgelope week juis in die hooggeregshof in Pietermaritzburg aangevoer dít is een van die redes waarom hy nie vervolg moet word nie.

Zuma se verklaring lui: “Thétard is nou dood en kan nie die vervolgingsgesag of vir my help om die faks eens en vir altyd te verduidelik nie.”

Donderdag het dit toe weer aan die lig gekom dat Thétard springlewendig in Europa is, berig News24.

Maar adv. Wim Trengove, namens die staat, het die afgelope week aan die hof gesê hy het pas verneem De­lique is wel dood.

Inwoners van ’n ouetehuis in Montgomery Park in Johannesburg, waar Delique gewoon het, het Vrydag aan Rapport gesê sy is al meer as ’n jaar gelede dood.

“Daar bestaan by my geen twyfel nie dat sy sou saamwerk as sy nog geleef het,” het ’n buurvrou van haar gesê.

Die vrou, wat nie haar naam genoem wil hê nie, sê Delique was baie passievol oor die saak.

“Sy het gereeld met my daaroor gepraat. Sy was oortuig daar was korrupsie. Sy het Zuma en ander hooggeplaastes by die naam genoem.

“Haar stories het vir my soos iets uit ’n James Bond-fliek geklink. Ek het eers gedink sy is mallerig, totdat ek die stories op TV gesien het. Dit het toe alles vir my sin gemaak.”

Volgens die buurvrou het Delique by die ouetehuis kom wegkruip.

“Familielede het haar destyds help trek, maar sy was daarna ’n kluisenaar.

“Sy was histeries toe ’n wit man – wat blykbaar ’n ondersoekbeampte was – so twee jaar gelede aan haar deur kom klop het. Sy was woedend dat die man hier toegelaat is. Ek onthou hoe sy ’n veiligheidsbeampte só daaroor uitgetrap het dat hy selfs in trane was.

“Sy besoek was vir haar ’n keerpunt. Daar was niks met haar gesondheid verkeerd nie, maar ná sy besoek het sy vinnig agteruitgegaan,” sê die buurvrou.

Prof. Wium de Villiers, ’n strafregkenner aan die Universiteit van Pretoria, sê hoewel Delique se dood ’n slag vir die vervolgingsgesag is, beteken dit nie haar vorige getuienis is heeltemal verlore nie.

“Die staat kan deur ’n ander getuie die bestaan van die dokument (gekodeerde faks) onder die hof se aandag bring. Delique se getuienis onder eed (in Shaik se verhoor) kan in kruisverhoor aan Zuma gestel word sodat hy daarop kan reageer.”

Trengove het Donderdag in die hof gesê die staat glo hy het “ ’n sterk saak” teen Zuma. Hy het gesê as Zuma nie vervolg word nie, sal dit as ’n spesiale guns beskou word omdat hy ’n belangrike en magtige man is.

Meer oor:  Jacob Zuma  |  Thales  |  Omkopery  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.