Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
‘Zuma had klein kans op sukses’
Oudpres. Jacob ZumaFoto: Argief

Oudpres. Jacob Zuma se kans op sukses was baie klein.

Só sê Lawson Naidoo van die Grondwet-waghondorganisasie Casac nadat ’n volbank regters van die hooggeregshof in Pretoria Vrydag Zuma se aansoek om verlof tot appèl teen ’n uitspraak van dié hof van die hand gewys het.

Die uitspraak waarteen Zuma wou appelleer, het bepaal dat hy self die kostes moet betaal vir die saak waarin hy gevra het vir die hersiening van adv. Thuli Madonsela, die vorige openbare beskermer (OB), se verslag oor staatskaping.

Die hof het sy aansoek van die hand gewys en beslis Zuma moet wel die koste betaal.

“Ons verwelkom die hof se beslissing. Ons hoop oudpres. Zuma sal nou sy verpligtinge nakom en die koste betaal,” het Naidoo gesê.

“Hy het ook met sy aansoek om die staatskapingverslag op hersiening te neem, ’n baie klein kans op sukses gehad.”

James Selfe, federale voorsitter van die DA, het in sy reaksie gesê die hof se beslissing is nie net ’n oorwinning vir die DA nie, maar ook vir die land se belastingbetalers.

Die DA was een van die partye wat verlede jaar Zuma se aansoek oor die OB-verslag teengestaan het.

Die EFF, wat dit ook teengestaan het, het ook die hof se besluit verwelkom.

“Die motief vir Zuma se litigasie was om die OB se bevindinge te verdoesel en haar remediërende aksies, spesifiek oor die daarstelling van ’n kommissie van ondersoek na staatskaping, te kortwiek,” sê Selfe.

Die motief vir Zuma se litigasie was om die OB se bevindinge te verdoesel en haar remediërende aksies, spesifiek oor die daarstelling van ’n kommissie van ondersoek na staatskaping, te kortwiek.

“Hy (Zuma) het dit doelbewus gedoen omdat hy geweet as só ’n kommissie daargestel sou word, sal hy, sy familie en dié wat polities aan hom gekoppel is, geïmpliseer word.”

Volgens Selfe stuur die hof se beslissing ’n sterk boodskap aan die regeringsamptenare en lede van die kabinet dat hulle nie staatsbronne kan gebruik om na willekeur te litigeer nie.

Die uitspraak oor Zuma se aansoek om Madonsela se staatskapingverslag op hersiening te neem, is verlede jaar gemaak kort voor die ANC se nasionale konferensie in Johannesburg waar pres. Cyril Ramaphosa tot president van die ANC verkies is.

Emeritus-professor Pieter Labuschagne, ’n regs- en politieke kenner van Unisa, sê hy weet nog nie op presies watter gronde die beslissing oor kostes van die staatskapingsverslag geneem is nie.

“Maar bloot in die algemeen dink ek dat die regters argumenteer dat Zuma nie in goeder trou opgetree het nie.

“Hy wou net die saak uitrek en die howe meen dat dit die ooreenkoms (dat die staat die kostes sal dra) dan ophef.”

Zuma se probleme kan nog groter word indien ’n ander volbank regters wat vandeesweek ’n aansoek van die DA en die EFF aangehoor het, beslis dat hy al die geld terugbetaal wat die staat tot dusver vir sy regskoste opgedok het.

Die uitspraak in dié saak word voor die einde van die jaar verwag.

Adv. Thabani Masuku SC, vir Zuma, het Dinsdag in die hof aangevoer die aansoek wat die DA en die EFF teen Zuma gebring het, is niks anders nie as ’n poging om die strafregtelike saak teen hom te beïnvloed.

Zuma verskyn later vandeesmaand weer in die hooggeregshof in Pietermaritzburg op 16 aanklagte wat korrupsie insluit.

Masuku het aan die hooggeregshof in Pretoria gesê as die hof teen Zuma beslis, sal dit ’n invloed op sy voorbereiding vir die saak in Pietermaritzburg hê, omdat hy ook vir dié saak geld sal moet vind.

Meer oor:  Jacob Zuma
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.