Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
‘Zuma het die reg om in hof te wees’

Dit is onregverdig dat oudpres. Jacob Zuma vanuit ’n gevangenis die hofverrigtinge in die wapenskandaal-hofsaak slegs op ’n televisieskerm kan dophou.

Daarom moet die hooggeregshof in Pietermaritzburg die saak vir drie weke uitstel.

Oudpres. Jacob Zuma luister vanuit die Estcourt-gevangenis na die hofverrigtinge. Foto: Skermgreep

Dit was Maandag Zuma se regspan se betoog in sy aansoek dat die saak uitgestel word sodat hy fisiek in die hof kan wees, eerder as om deel van ’n virtuele verhoor te wees.

Regter Piet Koen sal Dinsdag om 10:00 uitspraak lewer.

Adv. Dali Mpofu SC, vir Zuma, het aangevoer die virtuele manier waarop die hofsaak voortgaan, is onregmatig.

“Elke aangeklaagde het die reg op ’n openbare verhoor en het die reg om self in ’n verhoor teenwoordig te wees.”

Verder het Zuma die reg op toegang tot ’n regsverteenwoordiger en hulle het sedert sy tronkstraf nie voldoende geleentheid gehad om te konsulteer nie, het Mpofu aangevoer.

Zuma, wat sy gevangenisstraf van 15 maande in die Estcourt-gevangenis vir minagting van die hof uitdien, het oudiovisueel by die verrigtinge ingeskakel. Hy was in ’n pak klere en ’n rooi das geklee. Zuma was slegs ingeskakel om die verrigtinge te volg en nie om enigiets te sê nie.

Mpofu het aangevoer Zuma se reg op openbare hofverrigtinge word in die huidige omstandighede beperk.

Die oudiovisuele hofverrigtinge met oudpres. Jacob Zuma (links), adv. Dali Mpofu SC (regs bo), en regter Piet Koen van die hooggeregshof in Pietermaritzburg. Foto: Skermgreep

Koen het uitgewys die kern van die saak is dat dit hier gaan oor spesiale aansoek wat Zuma bring. Zuma voer aan dat adv. Billy Downer SC, die nasionale vervolgingsgesag se hoofaanklaer, nie onpartydig en onafhanklik sal wees om te verseker dat hy regverdig vervolg word nie en doen aansoek dat hy as die staatsaanklaer verwyder word.

Koen het verwys na die grondwetlike regte van ’n voorsittende beampte in ’n hof en het gevra of hy nie die voorsittende beampte in sy eie hof is wat kan bepaal dat die aansoek virtueel voortgaan nie.

Mpofu het aangevoer Zuma het ’n baie negatiewe ervaring gehad in die laaste 20 dae ten opsigte van sy reg op ’n regverdige verhoor. Hy het verwys na Zuma se argument dat hy sonder ’n behoorlike verhoor tronk toe gestuur is vir minagting van die hof.

Adv. Wim Trengove SC, namens die nasionale vervolgingsgesag, het aangevoer oudiovisuele tegnologie kan gebruik word indien die voorsittende beampte van die hof dit goedkeur.

Waar sake van korrupsie aangehoor word, kan dit as ’n geval van ’n saak van prioriteit beskou word. Ook vir sake wat reg is vir verhoor, wat die geval hier is, volgens Trengove.

Die oudiovisuele hofverrigtinge met oudpres. Jacob Zuma (links), adv. Dali Mpofu SC, regs bo, en regter Piet Koen van die hooggeregshof in Pietermaritzburg, regs onder. Foto: Skermgreep

Die publiek het toegang tot die virtuele verhoor. Die aangeklaagde het ook toegang tot die platform. Die hofprosedure is wettig wanneer dit op ’n virtuele platform gehou word, het Trengove aangevoer.

“Mnr. Zuma is teenwoordig in hierdie verhoor, net soos enigeen van ons. Net soveel as wat hy in ’n verhoor in ’n hof sou wees,” het Trengove gesê.

Adv. Thabani Masuku SC, wat namens Zuma op Trengove se argumente repliek gelewer het, het aangevoer al wat die hof moet besluit, is wat die voordele en nadele van ’n virtuele verhoor is en daarvolgens of die saak uitgestel moet word.

Masuku het gesê ’n aangeklaagde persoon het die reg om gebeure in die hof te ervaar en nie op ’n televisieskerm dop te hou nie.

Masuku het aangevoer indien Koen nou toelaat dat die saak virtueel voortgaan, sal ’n presedent geskep word dat die res van die verhoor ook virtueel kan voortgaan.

Hy het gesê ander verhore wat Maandag in die hooggeregshof in Pietermaritzburg aangehoor sou word, het nie voortgegaan nie. Die impak van Covid-19 moet in ag geneem word. Die fisieke beperkings wat ’n virtuele verhoor plaas, is ’n werklikheid.

Daar is potensiële grondwetlike klagtes wat hieruit kan spruit in ag genome die impak van die virus en ook die feit dat Zuma nie in die hof is nie. Zuma sal kan aanvoer dat hy benadeel word om vanuit ’n gevangenis na die saak te luister, het Masuku gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.