Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Zuma is regtig baie siek

Oudpres. Jacob Zuma is inderdaad baie siek en die siekte­sertifikaat wat hy die afgelope Dinsdag by die hooggeregshof in Pietermaritzburg ingedien het, is geen oordrywing nie.

Minstens drie bronne wat onlangs  direkte kontak met die oudpresident gehad het, het teenoor Rapport bevestig dat hy so siek is dat hy reeds twee mediese prosedures – albei daarvan in ’n Suid-Afrikaanse hospitaal – moes ondergaan. Een hiervan was blykbaar ’n operasie. Hy het ook al na Kuba gereis vir behandeling.

Zuma het onlangs aan sommige van sy vertrouelinge gesê hy is weer vergiftig. Sy regsverteenwoordiger, Daniel Mantsha, het Dinsdag aan regter Dhaya Pillay gesê sy kliënt het twee prosedures ondergaan, op 7 Januarie en 9 Januarie.

Mantsha het ’n siektesertifikaat van Zuma by die hof ingehandig wat onderteken is deur dr. Zakes Motene van die weermag (SANW) se mediese eenheid vir baie belangrike persone. Motene, wat ook in beheer was van oudpres. Nelson Mandela se mediese behandeling in die maande voor sy afsterwe, is volgens Mantsha saam met Zuma in Kuba vir verdere behandeling.

Hy probeer om dit weg te steek, maar vir enig- iemand wat in dieselfde vertrek is as hy of wat met hom gesels, is dit duidelik dat hy swaarkry.

Die siektesertifikaat is die dag voor die eerste prosedure uitgereik, maar is vaag oor wat Zuma makeer. Motene beskryf sy kwaal bloot as ’n “mediese toestand”. Dit lui dat Zuma met siekteverlof is tot 30 April. Die sertifikaat is uitgereik op 6 Februarie, maar dit lyk asof die datum verander is van 6 Januarie (die dag voor die eerste prosedure) na 6 Februarie.

“Dis al lank duidelik dat dit nie goed gaan met sy gesondheid nie. Hy probeer sy bes om dit weg te steek, maar vir enigiemand wat in dieselfde vertrek is as hy of wat met hom gesels, is dit duidelik dat hy swaarkry,” het ’n ANC-parlementslid wat gereeld met hom kontak het, aan Rapport gesê.

Hy sou op 23 Januarie saam met dr. Motene na Kuba reis, maar die reis is uitgestel tot 27 Januarie weens prosedures wat hy in Suid-Afrika ondergaan het.

Sommige van Rapport se bronne sê hy het ook in November na Kuba gereis vir mediese behandeling en vroeg in Desember teruggekeer om Kersfees by sy familie op Nkandla te wees.

Sy laaste openbare verskyning was op 26 Desember, toe hy saam met die Umlazi-gospelkoor Kersliedere gesing het op ’n Kerspartytjie by Nkandla.

“Ek is fiks en gesond. Solank ek leef, sal ons elke jaar hierdie Kerspartytjie hou,” het hy toe aan ’n paar dosyn gaste gesê. Hy het ook in Desember foto’s op sy Facebook-blad geplaas van waar hy op ’n kwadmotorfiets sit, en Woensdag nog ’n foto op Twitter geplaas van waar hy met ’n jaggeweer aanlê. Sy seun Edward het gister aan die nuuskanaal eNCA gesê dié foto is sowat twee jaar gelede geneem.

Iemand wat hom in Desember besoek het en meer as ’n uur lank alleen in sy geselskap was, sê hy is deurmekaar en vergeet deurlopend name van mense wat hy goed ken.

Vukile Mathabela, ’n amptenaar van die presidensie wat aan Zuma toegewys is om sy administratiewe assistent en woordvoerder te wees, het by navraag gesê hy kan niks meer oor Zuma se gesondheid sê as Mantsha se mededelings aan die hof nie. “Hy is vir mediese waarneming in Kuba. Ek verwag nie dat hy sal terugkeer voor einde April nie,” het Mathabela gesê.

Die afgelope week was daar baie bespiegelinge oor die “bedenklike siekbrief” wat Zuma se regspan by die hof ingedien het. Die siektebrief was in ’n pro forma-formaat wat deur 1 Militêre Hospitaal in Pretoria gebruik word.

Regter Pillay het veral kopgekrap oor die frase “medical condition” in ’n blokkie langs die term “layman’s diag­nosis (with consent of the patient)”.
Bo-aan die vorm word boonop gesê dis ’n “apteek-afskrif”.

Dr. Motene het nie hierdie week die selfoonnommer wat Rapport vir hom het, beantwoord nie.

Volgens die Raad op Gesondheidsberoepe se register is hy van Centurion en het sy MChD-graad op 30 November 2001 aan Medunsa behaal.

Op sy Facebook-profiel beskryf hy homself as ’n “physician executive”, sedert 1 Februarie 2009 verbonde aan die weermag. In April 2014 het hy ’n foto getwiet waar hy met Zuma bladskud. Hy het destyds geskryf Suid-Afrika is in baie goeie hande.

Meer oor:  Jacob Zuma  |  Zakes Motene  |  Kuba  |  Siektebrief
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.