Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Zuma: Jy betaal alwéér

Swaarbelaste Suid-Afrikaners moet die hand nóg dieper in die sak steek vir die regskoste van oudpres. Jacob Zuma en sommige oudministers wat by staatskaping betrek word of daaroor moet getuig.

Zuma se aansoek aan die staatsprokureur is reeds deur die presidensie goedgekeur. Van die aansoeke van ander van sy oudkollegas wat voor regter Raymond Zondo se kommissie moet verskyn, word ook tans verwerk.

Voorlopige berekeninge deur regslui toon die koste van Zuma se regspan oor die lewensduur van dié kommissie kan ’n astronomiese R24 miljoen tot R30 miljoen beloop.

Dit is benewens die vorige regskoste van Zuma se verdediging in strafregtelike en ander sake wat volgens die DA reeds R15 miljoen beloop. Die EFF bereken dié syfer op R32 miljoen.

Talle gewese kabinetslede en senior amptenare sal na verwagting ook voor Zondo moet getuig, wat ’n enorme koste kan meebring.

R40 000 per dag?.?.?. die koste van Jacob Zuma se senior advokaat.

Boonop maak kommissies nie skuldigbevindings nie, wat beteken dié koste is nie verhaalbaar nie, verneem Rapport. “Wanneer sake na howe verwys word, dring ons aan op ’n getekende onderneming om die geld terug te betaal indien die bevinding teen die applikant of aangeklaagde is,” sê Rodney Isaacs, hoofligitasiebeampte van die departement van justisie en grondwetlike ontwikkeling.

’n Betroubare regeringsbron sê hy verwag ’n toeloop van aansoeke van almal wat by staatskaping betrek word. “ ’n Evaluering word deur die staatsprokureur gedoen. As dit goedgekeur word, word dit betaal en ’n rekening aan die betrokke departement gestuur.”

Die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping, bedrog en korrupsie in die staatsektor gaan vir sowat twee jaar sit.

Willem de Klerk van Willem De Klerk Prokureurs, sê die koste hang af van hoeveel dae regspanne by die Zondo-kommissie deurbring en hoe groot en senior die span is. Zuma gebruik glo ’n senior advokaat (R30 000 tot R40 000 per dag), ’n junior advokaat (R12 000 tot R25 000) en ’n prokureur (R12 000 tot R25 000).

Volgens De Klerk kan die koste tussen R1,8 miljoen en R2 miljoen per maand beloop as so ’n span voltyds by die kommissie sit. “Maar die hele span sal nie teenwoordig wees as hulle net daar is om die saak waar te neem nie.

“Daar is baie veranderlikes wat dit moeilik maak om ’n akkurate skatting te doen oor ’n tydperk van ’n jaar of twee.”

Nog ’n regsgeleerde het Zuma se moontlike regskoste teen R1 miljoen per maand, oftewel R24 miljoen oor twee jaar, geskat.

Isaacs het bevestig dat die koste van Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings wat die afgelope week drie dae lank getuig het, asook dié van Lynne Brown, Gordhan se voorganger, betaal word.

Die departement van kommunikasie het aansoek gedoen dat oudminister Faith Muthambi gehelp word. Oudminister Malusi Gigaba se aansoek is ook nog hangende.

  • James Selfe, senior DA-LP, sê tydens die 15 jaar dat Zuma hom tot die hof wend om te keer dat hy vervolg word, het die staatsprokureur die oudpresident se regskoste gedek op grond daarvan dat hy dit sal terugbetaal indien hy skuldig bevind word.

Daar is egter talle probleme hiermee. Art. 3 van die Wet op die Staatsprokureur lui dat ’n staatsprokureur namens ’n regeringslid mag verskyn. Dit laat nie die staatsprokureur toe om private prokureurs te betaal om dit te doen nie.

Tweedens laat dié wet toe dat regeringslui en staatsamptenare op staatsonkoste verdedig word as hulle in hul amptelike hoedanigheid opgetree het. Dit geld nóg in Zuma se geval nóg diegene wat by staatskaping betrek word.

Cope het gesê die party is bekommerd dat die plundering in regeringsdepartemente net nie stop nie.

Dennis Bloem, Cope-woordvoerder, het gesê dit is ontstellend dat mense soos Vytjie Mentor, oud-ANC-LP, en Barbara Hogan, oudminister, wat ook getuig het, nie deur die staat bygestaan word nie.

Hogan, oudminister van openbare ondernemings, wat oor drie dae getuig het, het bevestig dat sy ’n prokureur op pro bono-basis gebruik en dat sy hom self gekontrakteer het. “Ek het nie vir staatsbefondsing aansoek gedoen nie.”

Ook Mentor, wat in Augustus oor drie dae getuig het en weer gaan verskyn, sê sy gebruik pro bono-regshulp.

Zuma is verlede jaar in Desember vir die eerste keer gelas om die regskoste uit sy sak te betaal vir sy mislukte poging om die vrystelling van adv. Thuli Madonsela, voormalige Openbare Beskermer, se staatskapingsverslag te stop. Hy het geappelleer en het twee weke gelede die saak in die Pretoriase hooggeregshof verloor.

Selfe sê afgesien van die ander argumente is dit grotesk dat, terwyl 10 miljoen Suid-Afrikaners sonder werk is, politici die betaling van hul regsuitgawes kan eis om hulle te beskerm teen potensieel korrupte bedrywighede.

“As hulle niks het om weg te steek nie, het hulle nie regsgeleerdes nodig nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.