Oudpres. Jacob Zuma gaan hom regstreeks tot die appèlhof in Bloemfontein wend nadat die hooggeregshof in Pietermaritzburg Donderdag sy aansoek om te appelleer teen ’n beslissing van dié hof oor sy omstrede Hanekom-twiet, met koste van die hand gewys het.
Die 77-jarige oudpresident se plasing waarin hy Hanekom, ’n oudminister wat in sy kabinet gedien het, daarvan beskuldig het dat hy ’n “bekende agent van die vyand was”, was Vrydagmiddag laat steeds op sy amptelike Twitter-rekening.

Oudpres. Jacob ZumaFoto: Argief
Regter Dhaya Pillay het Donderdag gelas dat hy die plasing binne 24 uur verwyder.
Zuma het Hanekom ook nog nie om verskoning gevra soos Pillay beveel het nie.
Netwerk24 het by ’n betroubare bron verneem Zuma sou hom Vrydag regstreeks tot die appèlhof wend.
Pillay het nog nie geskrewe redes vir haar beslissing verskaf nie.
Pillay het ook gelas Zuma moet skadevergoeding aan Hanekom betaal, maar die bedrag moet nog bepaal word.
Die voormalige minister van toerisme het R500 000 geëis.
Hanekom het ná die uitspraak in ’n verklaring gesê hy hoop die kwessie, wat volgens hom onnodige verdeeldheid en pyn veroorsaak het, kan nou uiteindelik afgesluit word.
Zuma se Twitterplasing het gespruit uit onthullings dat Hanekom in 2017 met die EFF vergader het om planne te bespreek om Zuma in ’n wantrouemosie in die parlement uit die kussings te lig.
“Ek is nie verbaas oor @Julius_S_Malema se onthullings ten opsigte van @Derek_Hanekom nie. Dit is deel van die plan wat ek by die Zondo-kommissie genoem het. @Derek_Hanekom is ’n bekende agent van die vyand,” lui die plasing.
Hanekom en sy regspan kon nie vir kommentaar bereik word nie. Ook nie Zuma s’n nie.
* IOL het Vrydagmiddag laat berig Zuma is vandeesweek in ’n hospitaal opgeneem. Dit is onbekend waarvoor hy behandel is.
Die oudpresident se regspan het die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping, waar Zuma aanvanklik van Maandag af sou getuig, vroeër in kennis gestel hy is siek.
Dudu Myeni, voorsitter van die Jacob Zuma-stigting, kon nog nie bereik word vir bevestiging nie, ook nie Vukile Mathabula, Zuma se woordvoerder, nie.