Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Zuma sal in hof verskyn ‘as gesondheid dit toelaat’
Oudpres. Jacob Zuma staan Saterdag op die platform agter Oliver Tambo se standbeeld in die ontvangslokaal van die O.R. Tambo-lughawe om sy Radikale Ekonomiese Transformasie-ondersteuners toe te spreek. Foto: Isabel Venter

Oudpres. Jacob Zuma sal sy hofsaak bywoon, maar net as sy gesondheid hom dit toelaat.

So het Carl Niehaus, woordvoerder van die Gautengse Vereniging vir Radikale Ekonomiese Transformasie (RET), ná die voormalige president se terugkoms Saterdag uit Kuba aan Netwerk24 gesê.

Die twee het Saterdagmiddag in Zuma se huis in Johannesburg vergader.

Niehaus, een van Zuma se grootste ondersteuners, sê dit is duidelik dat Zuma “nie homself is nie” en dat hy “sukkel met sy gesondheid”.

Hy was een van die sowat 350 RET-ondersteuners wat Saterdag by die O.R. Tambo- internasionale lughawe opgedaag het om Zuma terug te verwelkom.

Sowat 350 ondersteuners het Saterdag bymekaargekom in die O.R. Tambo-lughawe in Kempton Park om oudpres. Jacob Zuma terug te verwelkom in die land. Hulle het onder meer plakkate met sy en Ace Magashule se gesigte daarop rondgeswaai. Foto: Isabel Venter
Ondersteuners van oudpres. Jacob Zuma het Saterdag te kenne gegee dat hulle siek en sat is vir die “viktimisasie en vervolging” wat hy moet verduur. Foto: Isabel Venter

Ander bekende ondersteuners was Supra Mahumapelo, voormalige premier van Noordwes, Mzwandile Masina, burgemeester van die Ekurhuleni-metro, en Kebby Maphatsoe, president van die MK-veteranevereniging.

Volgens Mahumapelo moet die vervolging van Zuma end kry omdat dit neerkom op viktimisasie.

Hy het onder meer verwys na ’n lasbrief wat vroeër vir Zuma se inhegtenisneming deur die hooggeregshof in Pietermaritzburg uitgereik is.

Mahumapelo het die ondersteuners gevra om in hul massas op te ruk sodat hulle Zuma met sy volgende verskyning kan ondersteun.

Die ondersteuners het geskree hulle sal doodgaan vir Zuma en gedreunsing “We are Zuma, Zuma is us”.

Oudpres. Jacob Zuma praat oor ’n luidspreker met sy ondersteuners. Foto: Isabel Venter
Zuma is ons president.

“Zuma is ons president. Almal weet dat ons gratis onderwys het te danke aan hom en dat ons nooit sy rol in die revolusionêre stryd sal vergeet nie,” het Mahumapelo gesê. Zuma staan tereg op aanklagte van korrupsie wat verband hou met die wapenskandaal van 1999.

’n Siekbrief is op 4 Februarie by die hooggeregshof in Pietermaritzburg ingedien oor hoekom hy nie kan verskyn nie.

Zuma was toe reeds sedert vroeg Januarie in Kuba, waar hy mediese behandeling ontvang het.

Die oudleier het glo die Kubaanse behandeling bo Suid-Afrikaanse behandeling verkies omdat daar meer ervaring en spesialisbehandeling vir Zuma “se spesifieke mediese geval” is.

Niehaus wou nie uitwei oor Zuma se kwaal nie omdat “sy privaatheid gerespekteer moet word”.

Zuma het op die lughawe aan sy ondersteuners in Zoeloe gesê hy dra ’n donkerbril omdat hy twee prosedures aan sy oë ondergaan het en dat dit sensitief vir skerp lig is.

Sy wagte het hom begelei tot by die standbeeld van O.R. Tambo, in die ontvangslokaal, waar hy op die trappies geklim het vir sy toespraak.

“Ek sal nie jok oor my gesondheid net om die howe te vermy nie,” het Zuma gesê.

Verder het Zuma ook gesê hy is nie bang om tronk toe te gaan nie, berig News24.

Sy toespraak was kort en in plaas daarvan om oudergewoonte te dans en sing, het hy dadelik die lughawe verlaat.

“Mens moet in gedagte hou dat hy boonop ’n lang vlug agter die rug gehad het én siek is,” het Niehaus gesê.

Zuma sal sy behandeling nou in Suid-Afrika voortsit.

“En indien sy gesondheid dit toelaat, het hy (Zuma) gesê, sal hy hof toe gaan.”

Regter Dhaya Pillay het gesê Zuma se lasbrief staan oor tot 6 Mei omdat sy vrae het oor sy mediese sertifikaat. Volgens Zuma is sy regspan in kontak met die hof hieroor.

Dr. Llewelyn Curlewis, strafregkenner aan die Universiteit van Pretoria, het vroeër aan Netwerk24 verduidelik dat dit nie vreemd is om ’n lasbrief teen Zuma uit te reik nie.

Hy sal wel aan die hof moet gaan verduidelik en hulle oortuig van sy redes hoekom hy nie in die hof verskyn het nie. Indien die hof tevrede is, kan die lasbrief teruggetrek word.

Adv. Daniel Mantsha, Zuma se regsverteenwoordiger, kon nie dadelik vir kommentaar bereik word nie.

Intussen sal Zuma se program só geskeduleer word dat hy hom nie ooreis nie.

Hy sal na verwagting volgende week na KwaZulu-Natal reis om ondersteuners daar toe te spreek.

“Die program hang natuurlik nog als daarvan af of Zuma se gesondheid dit sal toelaat,” het Niehaus gesê.

Meer oor:  Carl Niehaus  |  Jacob Zuma  |  Hooggeregshof  |  Pietermaritzburg  |  Gesondheid  |  Hofsaak  |  Getuienis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.