Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Zuma se aansoek ‘nie aanval op demokrasie’

Die aansoek deur oudpres. Jacob Zuma om sy vervolging op korrupsieverwante aanklagte permanent op te skort, is nie ’n aanval op die demokrasie nie. Dit is eerder ’n verdediging van die demokrasie, het Zuma se regsverteenwoordiger Maandag in die hooggeregshof in Pietermaritzburg aangevoer.

“Dis (ook) nie ’n aanval op die integriteit van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) nie, dis ’n verweer. Dis nie een of ander Stalingrad-speletjie nie,” het adv. Thabani Masuku voor ’n volbank regters namens Zuma betoog.

Oudpres. Jacob Zuma Maandag in die hooggeregshof in Pietermaritzburg. Foto: Felix Dlangamandla

Zuma (77), wat op 16 aanklagte van korrupsie, bedrog, rampokkery en geldwassery teregstaan, veg vandeesweek vir die soveelste keer teen sy vervolging.

Daar word bespiegel dat hy die “Stalingrad-strategie” volg om vervolging so lank moontlik uit te stel.

Zuma se eintlike verhoordatum is Maandag tot 15 Oktober uitgestel, na gelang van die uitkoms van hierdie aansoek.

In ’n ellelange beëdigde verklaring beweer Zuma hy is ’n slagoffer van ’n polities gemotiveerde aanval deur die NVG.

Adv. Muzi Sikhakhane SC, ook namens Zuma, het aangevoer die feit dat sy kliënt nie destyds saam met die sakeman en sy finansiële raadgewer, Schabir Shaik, vervolg is nie, beteken het dat Zuma hom nie kon kruisondervra nie en as’t ware “in sy afwesigheid verhoor is”. Dit benadeel hom nou, sê Sikhakhane.

News24 berig Shaik is in 2005 skuldig bevind aan bedrog en korrupsie wat verband hou met dieselfde saak en tot prakties 15 jaar tronkstraf gevonnis.

Sikhakhane het transkripsies van die sogenaamde spioenasiebande voorgelees, waarin ’n voormalige vervolgingsbaas, adv. Bulelani Ngcuka, en Leonard McCarthy, oudhoof van die Skerpioene, glo saamgesweer het om Zuma “weens politieke redes” te laat vervolg, sodat hy nie president kan word nie.

Duduzane Zuma ondersteun sy pa Maandag in die hof. Foto: Felix Dlangamandla

Sikhakhane het die NVG beskuldig dat hy ’n boendoehof bedryf “waar ons doen wat ons wil met die mens wat ons verdink”, net omdat hulle nie van Zuma hou nie.

Dis in stryd met die “post-apartheid”-regstelsel, waar mense se grondwetlike regte gerespekteer word, het hy aangevoer.

Hy het verder die NVG geblameer dat die saak al 15 jaar lank sloer.

Sikhakhane en Masuku het aangevoer dat die besluit om Zuma te vervolg nie in ooreenstemming met die NVG-wet gemaak is nie. Voorts het staatsaanklaers glo hul gedragskode oortree omdat hulle volgens Sikhakhane nie sonder vrees, vooroordeel en begunstiging opgetree het nie.

Sikhakhane sê indien die hof sou las die NVG se “onwettige optrede” is aanvaarbaar, hy eintlik sê NVG-amptenare kan maar instruksies van politici kry voordat hulle litigeer.

“Die NVG moet boet vir wat hy gedoen het. Jy kan nie flip-flop as jy soveel mag het nie. Jy moet in die bek geruk word as jy van grondwetlike beginsels afwyk,” het Masuku gesê.

Die hof was Maandag stampvol ondersteuners uit die Zuma-kamp. Foto: Felix Dlangamandla
Ondersteuners sing en dans Maandag buite die hooggeregshof in Pietermaritzburg. Foto: Felix Dlangamandla

Die klagte teen Zuma ’n ‘heksejag’

Zuma het agterna sy ondersteuners in ANC-T-hemde buite die hof in Zoeloe toegespreek. Zuma het gesê as die verhoor ná 15 jaar nog voortduur, dit ’n heksejag sal wees en gesê getuies het teen dié tyd al vergeet wat hulle moet getuig, of is dalk dood.

“Ons kan nie ’n verhoor hierop grond nie. Daar is op my regte getrap . . . (ons) bly stil, want ons is nie populisties nie. Ons respekteer die wet.”

Hy het onder luide toejuiging gesê: “Daar is geen saak teen my nie en daar sal nooit een wees nie. Hulle het vir 15 jaar misluk om my aan te kla.

“Selfs die regters is nuuskierig. Hulle val talle argumente (van sy advokaat) in die rede, want met tye raak hulle ook verward.”

* Die saak hou verband met die wapenskandaal van 1999 en die bewering dat Thales, vroeër bekend as Thomson CSF, ’n kontrak van miljarde rande gekry het om wapenstelsels aan die Suid-Afrikaanse vloot te verskaf. ’n Filiaal van die groep, Thint, is daarvan beskuldig dat hy Zuma R500 000 per jaar, glo via die omstrede sakeman Schabir Shaik, betaal het om die maatskappy te beskerm in die ondersoek na beweerde ongerymdhede in wapenaankope.

* Thales South Africa, ’n filiaal van Thales, word saam met Zuma aangekla. Die saak duur Dinsdag voort met adv. Anton Katz SC wat Thales se soortgelyke aansoek sal bring.

Meer oor:  Oudpres. Jacob Zuma  |  Korrupsieklagte  |  Politiek  |  Hof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.