Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Zuma se doktersbrief: Dr. ZK Motene werk by ‘Uniegebou’
Zakes Motene, Jacob Zuma
Dr. Zakes Motene en oudpres. Jacob Zuma, in hierdie foto wat Motene in April 2014 op sy Facebook-blad gelaai het.

Die dokter wat oudpres. Jacob Zuma se siekbrief onderteken het wat Dinsdag tot omstredenheid gelei het, is blykbaar dr. Zacharia “Zakes” Kagiso Motene, wat by die Gesondheidsraad van Suid-Afrika geregistreer is met die registrasienommer MP 0553425.

Motene het die graad MB ChB op 30 November 2001 aan Medunsa verwerf en is sedert 6 Januarie 2004 gekwalifiseer om as dokter te praktiseer.

Toe probeer is om Motene by 1 Militêre Hospitaal – waar Zuma blykbaar vroeër behandel is – te kontak om kommentaar, het die hospitaal in Thaba Tshwane (Voortrekkerhoogte) gesê Motene was in ’n stadium aan die presidensiële eenheid van die hospitaal verbonde en werk nou “by die Uniegebou”. 

Zuma en sy medeaangeklaagde, die Franse wapenmaatskappy Thales, moes in die hof verskyn op aanklagte wat verband hou met die omstrede wapentransaksie.

Die oë het Dinsdag gerek oor die doktersbrief wat Zuma se regslui by die hooggeregshof in Pietermaritzburg ingedien het as rede vir sy afwesigheid. 

Die doktersbrief het geen stawende dokumente gehad oor wie die dokter is wat die diagnose gedoen het nie. 

Op die siekbrief het bloot gestaan “Z.K. Motene”. Die doktersbrief is ’n standaardvorm wat deur ’n militêre hospitaal uitgereik word. 

Dit lyk of die datum daarop ver­ander is na 6 Januarie. Daniel Mantsha, Zuma se regsverteenwoordiger, kon dit nie in die hof verduidelik nie.

Mantsha het in die hof gesê Zuma het vroeër ’n brief aan die nasionale vervolgingsgesag gestuur om die staat in te lig dat hy nie in die hof sou wees nie omdat hy mediese behandeling in Kuba kry.

Die term “leke-diagnose” word ook in die dokument gebruik. 

Regter Dhaya Pillay en Mantsha het saamgestem dat hulle nie weet wat dit beteken nie. Pillay het gesê dit is “ ’n kopkrapper”. Bowenal is daar nie in die doktersbrief aangedui wat met Zuma skort nie.

Die ANC het Dinsdag in ’n verklaring ’n beroep op Suid-Afrikaners gedoen om “geduldig” met Zuma te wees en hom die geleentheid te gee om aandag aan sy gesondheidstoestand te gee.

Gemoedere loop hoog oor Zuma se gesondheidstatus, met sy stoere ondersteuners wat hom verdedig nadat ’n lasbrief vir sy inhegtenisneming uitgereik is.

Van Zuma se lojaalste ondersteuners – Bathabile Dlamini, president van die ANC-vroueliga, Mzwandile Masina, burgemeester van Ekurhuleni, Carl Niehaus van die MK-veterane, en Edward Zuma, Zuma se seun – het almal laer om hom getrek. 

Dlamini het gesê sy is vas oortuig daar is ’n plan in werking gestel om Zuma “te slag”. Politici en regslui is betrokke by die plan, sê sy. 

“Ons sien daagliks hoe die regbank die regte van pres. Zuma op die altaar van politieke voordeel slag. Dis ’n groepie samesweerders van familie en vriende van politici wat ’n byltjie met kameraad Zuma te slyp het,” sê Dlamini.

Edward sê die lasbrief is onnodig omdat sy pa “nooit die reg sal probeer ontduik nie”.

Daar word al lank oor Zuma se gesondheid bespiegel. Gerugte het opgevlam nadat Zuma se regsverteenwoordigers onlangs aan regter Raymond Zondo gesê het die oudpresi-dent kan nie in Maart voor die kommissie van ondersoek na staatskaping verskyn nie weens “swak gesondheid”.

Meer oor:  Jacob Zuma  |  Siektebrief
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.