Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Zuma se span veg voort vir uitstel

Hy wil getuig oor hoekom hy vrygespreek moet word op die aanklagte van korrupsie in die wapenskandaal sonder om daaroor verhoor te word – as deel van ’n aansoek ter elfder ure om sy verhoor uit te stel, het oudpres. Jacob Zuma se regspan bekend gemaak.

Sy prokureur, Bethuel Thusini, het Saterdagmiddag ’n aansoek ingedien vir die uitstel van Zuma se verhoor nadat regter Piet Koen in die hooggeregshof in Pietermaritzburg opdrag gegee het dat argumente oor Zuma se aansoek om ’n “spesiale pleidooi” ingevolge art. 106 (1) (h) van die Strafproseswet virtueel aangehoor moet word.

Thusini het aan die hooggeregshof gesê dat Zuma afstand doen van sy grondwetlike reg op ’n regverdige verhoor, aangesien hy “nie in die huidige omstandighede gedwing kan word om sy verhoor op ’n virtuele platform of in sy afwesigheid te laat geskied nie”.

Koen het verlede Dinsdag al die regsverteenwoordigers wat by die saak betrokke is, per e-pos versoek om die moontlikheid van ’n virtuele verhoor te ondersoek. Suid-Afrika is steeds onder vlak 4 van Covid-19-inperkings, wat reis en byeenkomste beperk.

Koen het daarop gewys dat byna al die advokate in die saak van Gauteng kom en dat verhore in die hooggeregshof “in die verlede baie mense gelok het wat dit bywoon, binne en buite die hof”. Hy het gesê dat hy ’n virtuele sitting oorweeg “aangesien dit slegs regsargumente sal behels”.

“Ek is baie bedag daarop dat, hoewel net argumente aangehoor sal word, dit ’n strafregtelike verhoor bly, wat gewoonlik bywoning deur die beskuldigde vereis,” het Koen gesê.

Hy het bygevoeg dat hy korrektiewe dienste gevra het of daar geriewe in die Estcourt-gevangenis, waar Zuma aangehou word, is wat hom in staat sal stel om die verrigtinge virtueel te volg.

Thusini sê dat hy aansoek doen vir uitstel van die verhoor sodat Zuma “dit kan bywoon en in die hof kan wees wanneer die saak aangehoor word, en – die belangrikste – wil getuig oor die saak wat aangehoor word oor die pleit wat ingedien is ingevolge art. 106 (1) (h)”.

Volgens Thusini het Zuma die uitstel gevra nadat sy advokaat, adv. Dali Mpofu SC, adv. Wim Trengove van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) gebel het en voorgestel het dat die partye ’n ooreenkoms bereik om almal die geleentheid te gee om idees oor voorwaardes uit te ruil vir die hantering van die “sensitiewe verhoor”.

“Die NVG het geweier om in te stem tot ’n uitstel, wat vereis dat ons ’n formele aansoek om uitstel indien wat die NVG sou teëstaan,” sê hy.

Zuma dring daarop aan dat hy vrygespreek word op grond van sy “spesiale pleidooi”, dat die NVG hom nie kan vervolg vir beweerde wapenkorrupsie nie weens vooroordeel en ’n gebrek aan onafhanklikheid.

Die NVG hou egter vol dat Zuma se klagtes oor misbruike en politieke sameswering teen die staat grotendeels deur die howe behandel is – soos toe ’n volbank van die hooggeregshof sy aansoek om die staking van vervolging in 2019 van die hand gewys het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.