Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Zuma wil net tyd mors, hoor hoogste hof

Oudpres. Jacob Zuma het net een doel voor oë: om genoeg tyd te mors sodat hy nooit voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping hoef te verskyn nie.

So is Dinsdag in die konstitusionele hof in Johannesburg betoog in ’n dringende aansoek deur die kommissie.

Zuma het nie deelgeneem aan die aanlyn aansoek nie.

Die kommissie het onder meer gevra Zuma moet gedwing word om volgende jaar weer voor die kommissie te verskyn, en dat die hof ’n bevel uitvaardig dat Zuma nie sy swygreg kan gebruik as vrywaring nie.

Oudpres. Jacob Zuma het nog net een keer voor die Zondo-kommissie getuig. Dit was in 2019. Foto: Melinda Stuurman

Eric Mabuza, Zuma se prokureur, het vroeër aan die konstitusionele hof gesê dat Zuma nie aan die verrigtinge sal deelneem nie. Volgens Mabuza sal Zuma sy swygreg gebruik, sou hy gevra word om te getuig.

Adv. Tembeka Ngcukaitobi het betoog die aansoek is dringend omdat Zuma net ten doel het om die kommissie se tyd te mors.

“Sy enigste doel is om terug te staan tot die kommissie se ampstermyn in Maart eindig. Hy sal dan nie nodig hê om te getuig nie en sodoende enige aanspreeklikheid vir sy beweerde misdade vryspring,” het Ngcukaitobi gesê.

Regters Chris Jafta en Mbuyiseli Madlanga wou weet of die kommissie nie self ook tyd verspil het nie. Die regters was ook bekommerd dat die aansoek oorbodig is omdat daar ’n reeds ’n subpoena uitgereik is – wat Zuma verplig om voor die kommissie te verskyn.

Zuma is die enigste getuie wat gedagvaar is nadat ’n deeglike aansoek ingedien is, het die regters verder gesê.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsittende beampte van die kommissie, het eers nadat hy die betoë van albei kante gehoor het, op 3 Desember bekend gemaak dat Zuma weer gedagvaar moet word.

Luidens dié dagvaarding sal Zuma van 18 tot 22 Januarie en van 15 tot 19 Februarie voor die kommissie moet verskyn.

Zuma is vroeër reeds deur die kommissie gedagvaar om in November te getuig. Hy het egter uit die sitting gestap kort nadat sy aansoek dat Zondo homself as voorsitter van die kommissie onttrek, afgekeur is.

Hy word persoonlik en direk betrek en dit is daarom belangrik dat hy moet getuig.

Ngcukaitobi het volgehou Zuma “se opsies raak op” – vandaar al die onnodige aansoeke.

“Regter Zondo het sy bes gedoen om Zuma genoeg kans te gee om sy regte uit te oefen, maar Zuma het dit duidelik gemaak dat hy botweg sal weier om sy samewerking te gee toe hy die sitting verlaat het,” sê Ngcukaitobi.

Zuma het voorheen ook 36 kennisgewings om te verskyn, geïgnoreer. Dit het gelei tot die eerste en nou die tweede dagvaarding, sê Ngcukaitobi.

“Die feite wys op Zuma se minagting en ondermyning van die oppergesag van die gereg.

“Die publiek is geregtig op die inligting wat die kommissie van Zuma verlang. Juis daarom moet ’n bevel uitgevaardig word wat Zuma se swygreg opskort. Zuma is nie ’n beskuldigde nie, maar net ’n gewone getuie.”

Hy het ook daarop gewys dat hy deur meer as 30 getuies direk aan beweerde korrupte bedrywighede verbind word.

“Hy word persoonlik en direk betrek en dit is daarom belangrik dat hy moet getuig,” het Ngcukaitobi gesê.

Die hof het uitspraak voorbehou in die saak.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.