Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Zuma wil wéér hof toe oor regskoste

As oudpres. Jacob Zuma werklik onskuldig was, sou hy nie by “onbenullige litigasie” betrokke geraak het in ’n poging om die staatskoffers te melk vir sy regskwessies nie.

Hy moet die gevolge van sy eie dade dra, het James Selfe, voorsitter van die DA se federale raad, Woensdag gesê.

Hy het reageer nadat Business Day berig het Zuma gaan hom tot die appèlhof wend teen die beslissing van die hooggeregshof in Pretoria dat hy persoonlik vir sy regskoste moet opdok en al die geld aan die staat moet terugbetaal wat hy die afgelope jare gebruik het om sy regskoste te finansier.

Dié uitspraak in Desember verlede jaar het gevolg op ’n hofaansoek van die DA en die EFF waarin hulle die presidensie se besluit om Zuma se regskoste te betaal, uitgedaag het.

Zuma was na dié uitspraak kniediep in die skuld. Die EFF het vroeër geraam dat sy regskoste in die omgewing van R32 miljoen beloop, terwyl die DA geglo het dit kan aansienlik hoër wees.

Oudpres. Jacob Zuma by die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping in Parktown, Johannesburg. Foto: Felix Dlangamandla

Zuma word ook deur ’n lastereis van R500 000 deur Derek Hanekom, oudminister van toerisme, in die gesig gestaar nadat hy in ’n twiet daarop gesinspeel het dat Hanekom ’n apartheidspioen was.

Selfe het in ’n verklaring gesê die DA meen daar is geen nuwe gronde vir Zuma se jongste aansoek vir verlof tot appèl nie “omdat hy reeds probeer en misluk het”.

“Die waarheid is dat Zuma miljoene rande in regskoste opgehoop het vir die beweerde misdade wat hy begaan het in sy persoonlike hoedanigheid, wat niks te doen gehad het met sy rol as LUR, adjunkpresident of president nie. Hy is dus persoonlik verantwoordelik vir die koste wat aangegaan is en hy moet self daarvoor betaal.

“As Zuma werklik onskuldig was, sou hy nie by onbenullige litigasie betrokke geraak het in ’n poging om die staatskoffers te melk om vir sy regsuitdagings te betaal nie. Dit moet ook die geval wees vir enige staatsamptenaar wat persoonlik by regskwessies betrokke raak.”

Volgens Selfe is die jongste aansoek om verlof tot appèl nie net ’n poging dat die staat Zuma se regskoste moet betaal nie, maar dit blyk “opsetlik ontwerp” te wees om die beslissing van die hooggeregshof te ondermyn.

Zuma het in Mei vanjaar gesê hy word “gedwing om hoede en kouse te verkoop” om sy regskoste te betaal. Hy het dié opmerking luidens AFP buite die hooggeregshof in Pietermaritzburg gemaak waar hy onder meer teregstaan op aanklagte van korrupsie en bedrog wat uit Suid-Afrika se omstrede wapenskandaal spruit.

Meer oor:  Regskoste  |  Derek Hanekom  |  Jacob Zuma
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.