Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Zurenah kry borgtog in moordsaak, maar bly in aanhouding

Die vuurwapensaak teen Zurenah Smit (55) en Derek Sait (56) in die landdroshof in Stellenbosch, het ’n stokkie voor hul vrylating gesteek.

Borgtog van R10 000 elk is Maandag aan hulle toegestaan in die saak waarin hulle teregstaan vir die moord op Stefan Smit (62), Zurenah se man.

Hulle is egter nie onmiddellik vrygelaat nie omdat hulle Dinsdag in die einste hof op aanklagte van diefstal en die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie moet verskyn.

Dié aanklagte hou verband met die twee vuurwapens wat in Sait se kluis gevind is nadat hy op 10 Desember by sy huis in Leonsdale, Elsiesrivier, in hegtenis geneem is.

Die vuurwapens is na bewering dieselfde twee vuurwapens wat in Februarie of Maart 2019 uit Smit se kluis op die wynlandgoed Louiesenhof buite Stellenbosch gesteel is.

Smit is vermoedelik vermoor met een van die twee 9 mm-pistole wat uit die kluis in die wynkelder op die plaas gesteel is.

Zurenah en Sait, een van die mense wat Smit in 2018 as deel van ’n veiligheidspan op sy plaas aangestel het, het op 18 Desember vir die eerste keer in verband met dié diefstal in die hof verskyn.

Derek Sait, Steven Damons en Zurenah Smit Maandag in die landdroshof in Stellenbosch. Foto: Jaco Marais

Zurenah se regsverteenwoordiger het Dinsdag aan die hof gevra om die saak tot 3 Februarie uit te stel vir ’n moontlike formele borgtogaansoek. Hy het aan die hof gesê dat hulle reeds die uitspraak in die borgtogaansoek in die moordsaak aan die kantoor van die direktoraat van openbare vervolging gestuur het.

Hy sê die aanklagte van diefstal en die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie is ’n wesenlike deel van die moordsaak.

Hy het ook aan die hof genoem daar is aanvanklik in die moordsaak gesê borgtog in die diefstalsaak is afhanklik van die borgtoguitspraak in die moordsaak.

Die hof het ook gehoor dat as die staat borgtog in die diefstalsaak teenstaan, Zurenah en Sait nie gaan getuig nie, maar net verklarings by die hof sal indien.

Zurenah het by monde van haar regsverteenwoordiger ook die hof gevra om die bestuur van die Pollsmoor-gevangenis, waar sy aangehou word, te beveel dat sy haar medikasie kry. Sy sukkel glo om haar medikasie te kry.

Sait en sy swaer Steven Damons is op 10 Desember onderskeidelik by hul huise in Elsiesrivier en Bellville in verband met die Smit-moord in hegtenis geneem. Zurenah is die daaropvolgende Maandag in hegtenis geneem nadat sy haar by die polisie in Stellenbosch oorgegee het.

Bronne sê die polisie het die reeksnommers van die twee vuurwapens nagegaan. Die een pistool behoort na bewering aan Smit se gewese vrou en die ander een aan sy oorlede ma.

Vriende van Smit sê hy het die twee vuurwapens baie jare lank in die kluis gehou.

Daar is tydens die diefstal van die vuurwapens glo ook sowat R250 000 en buitelandse geld uit die kluis gesteel.

Vriende van Smit het kort nadat hy vermoor is, gesê hy het aan hulle gesê hy vermoed hy is slaappille gevoer die aand toe die vuurwapens gesteel is, het Netwerk24 vroeër berig. Hy kon dit egter volgens die vriende, wat gevra het om anoniem te bly, nooit bevestig nie.

Smit is die aand van 2 Junie 2019 drie keer met twee verskillende vuurwapens – ’n 9 mm-pistool en ’n .38-rewolwer – geskiet. Hy is een keer in die keel, een keer in die kop en een keer in die bors geskiet. Hy is op die toneel dood. Daar is glo tydens die lykskouing twee koeëls uit sy liggaam gehaal. Een hiervan was glo die koeël van ’n 9 mm-pistool.

Zurenah en Sait bly in aanhouding tot 3 Februarie. Hulle word albei by die Pollsmoor-gevangenis aangehou. Damons het nie om borgtog aansoek gedoen nie.

Meer oor:  Zurenah Smit  |  Derek Sait  |  Stefan Smit  |  Stellenbosch  |  Louiesenhof  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.