Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
FEDSAS WIL LUR STRYD AANSÊ
Hofgeveg dreig oor taal in skole

Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) oorweeg regstappe ter beskerming van skole se toelatings- en taalbeleid.

Paul Colditz, uitvoerende hoof van Fedsas, het gesê hulle is in gesprek met hul regspan oor die Gautengse LUR vir onderwys se voorstelle om verskeie enkel­mediumskole in parallelmedium om te skakel.

“Dit kan wees dat daar hier en daar skole is wat nie ten volle benut word nie. As dit werklik die LUR se bedoeling is om uitdagings oor ruimte en onderbenutting te pak, verstaan ons dit en sal ons moet help, al beteken dit dat taalbeleid hersien word,” het Colditz gesê.

Wat Colditz egter bekommer, is dat Panyaza Lesufi, die LUR, se voorstelle tot dusver in die media aangekondig is en dalk ook met skoolhoofde bespreek is, maar nog nie met beheerliggame nie.

“Dis beheerliggame se prerogatief om hul skole se taalbeleid te verander. Die onderwysdepartement moet hulle dus hieroor nader en dit lyk nie of dié proses al gevolg is nie. Dit sal deel wees van ons gesprek vanmiddag met ons regspan.”

Ted Townsend, kommunikasiebeampte van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), het gesê die unie is ook bekommerd oor hoe Lesufi se voorstelle beheerliggame se rol gaan raak.

“Dit raak ook die grondwetlike reg op taal.”

Die SAOU is volgens Towns­end “huiwerig” om die LUR se voorstelle te vertolk omdat die redes daarvoor “nie duidelik” is nie.

“Ons sou ’n meer spesifieke benadering wou sien omdat dit lyk of die voorstelle baie omvattende gevolge kan hê. Ons wil die saak daarom behoorlik ondersoek, ook om seker te maak daar steek nie dalk meer in die voorstelle as wat gesê word nie.”

Die SAOU sal later vandeesweek vollediger op die voorstelle reageer.

Basil Manuel, president van die onderwysersvakbond Naptosa, het gesê die skepping van ’n parallelmediumskool is ’n moontlike oplossing wanneer skole wel onderbenut word.

“Aan die ander kant is dit egter ook ’n feit dat skole waar die kinders in hul moedertaal onderrig word, beter presteer.

“Afrikaanse skole het om dié rede juis beter uitslae. Is die oplossing dan nie eerder om moedertaalskole te vermeerder nie?”

Manuel is ook bekommerd oor die emosionele uitwerking wat ­Lesufi se voorstelle op ’n sekere deel van die gemeenskap kan hê. “Al is dit nie die LUR se bedoeling, kan dit vir hierdie groep lyk asof hulle geteiken word.”

Hulle lees eers in Beeld van plan

Enige verandering of besluit om ’n skool se taal- en toelatings­beleid te verander, bly die verantwoordelikheid van ’n skool se beheerliggaam en nie dié van die departement nie.

So meen verskeie skole in Gauteng wat Maandag om kommentaar genader is oor die planne van Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys, om talle skole se onderrigmedium aan te pas om die druk op ander skole te verlig.

Francois Naudé, beheerraadvoorsitter van die Laerskool Anton van Wouw in Pretoria, het gesê hy stem glad nie met Lesufi saam dat dié laerskool onder­benut word of dat die demografiese profiel verander het nie.

“Die afgelope vier jaar het die skool jaarliks gemiddeld met 35 leerlinge gegroei. Moedertaalonderrig is ontsettend belangrik. Ons gaan Afrikaans bly.”

Julian Uys, voorsitter van die Hoër Volkskool Heidelberg se beheerliggaam, het gesê ’n proses sal gevolg moet word, want die skool se beheerliggaam besluit oor sy toelatings- en taalbeleid.

Jaco de Bruin, voorsitter van Laerskool Wierdapark in Centu­rion, het dít beaam. De Bruin het gesê twee weke gelede was hulle nie op die departement van onderwys se lys van skole wat aangedui word vir omskakeling na ’n parallel­mediumskool nie.

Die hoof van ’n hoërskool in Pretoria wat anoniem wil bly, het gesê daar was geen konsultasie met sy skool nie.

“Ons lees in die koerante van al die planne. Dit is regtig moeilik om te reageer as niemand met jou praat nie. Om te sê dat die skole se kapasiteit nie ten volle benut word nie, is moeilik, want die skool is meer as vol.”

Die skool het deur die berig Saterdag in Beeld van die departement se planne bewus geword.

“Dit is ’n sprekende voorbeeld van politiek wat bo leerlinge se belange gestel word. Die onderwysstelsel is onder geweldige druk en dit is ’n feit dat die Gautengse departement van onderwys nie in staat is om die geweldige instroming van leerlinge te hanteer nie.” – Seugnet van Zyl

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.