Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Hy praat oor die weer, en meer
Johann Schutte, weeraanbieder by die SAUK vir al meer as twee dekades.

Die SAUK-weeraanbieder Johann Schutte bel op pad na die onderhoud: Daar is ’n donderstorm, ry asseblief versigtig.

Schutte lig mense al 22 jaar saans, aan die einde van die Afrikaanse televisienuus, in oor wat die weer vir hulle inhou.

Hy is ook ’n handelsvlieënier, met ’n BSc-graad in ingenieurswese en ’n MBA. Sy vliegopleiding het hy in die Suid-Afrikaanse Lugmag gekry.

“Op ’n dag toe ek inkom om te land, hoor ek iemand soek my dringend.”

Dit was Piet du Plessis, toe ’n uitvoerende vervaardiger by die SAUK.

Du Plessis het ’n weeraanbiederprobleem en vra dat Schutte hom vir twee maande help.

Meer as twee dekades later bespreek Schutte steeds die weersomstandighede, gunstig of ongunstig.

“Ek geniet dit, dis vir my lekker.

“Ek ken die bedryf taamlik goed, en ek vlieg nog heeltyd. My weerkunde-agtergrond kom eintlik ook van my vlieëry.”

Dit is een van die vakke wat ’n mens moet neem in die vliegkursus.

“As jy nie jou weer ken nie, ou maat, sukkel jy met groot probleme. So, ek bied die weer aan en ondervind dit deur die dag as ek in die lug is.

“Dit maak dit vir my makliker. Wanneer ek aanbied, wil ek nie net sê hier gaan dit reën en daar gaan dit warm wees ensovoorts nie. Ek begin altyd met ’n storietjie.”

Schutte woon in Montroux in Johannesburg saam met sy vrou, Sophia. Hy het een seun, Byron.

“Ek het in ’n laat stadium getrou. Ek het eers alles gaan doen wat ek wou doen.

“Vyf jaar ná my troue het Byron aangekom.”

Byron word volgende maand 20. Hy studeer nou in Praag in Tsjeggië.

“Hy is in Januarie hier weg met twee tasse en is nou besig met sy tweede semester.”

Schutte het voorheen ook rolprente vervaardig en lank gelede Rand Films gestig.

Vroeër het hy tien jaar lank in Los Angeles gewoon en het op ’n tyd by Warner Brothers gewerk. Hy het steeds ’n vennoot in die stad.

In 1980 is die rolprent Sing vir die harlekyn, met onder andere Sonja Herholdt, uitgereik waarvan Schutte die vervaardiger was.

“Dit was ’n ondervinding en ’n half daai,” onthou hy.

Die Gereformeerde Kerk wou die première van die rolprent in die Transvalia-teater in Pretoria aanbied.

“Ek het langs ’n man gesit wat in daardie stadium my prokureur was. Die gehoor het nie ’n geluid gemaak nie. Toe die rolprent klaar is, dink ek dis ’n flop.

“Iemand sê toe vir my ek moenie na hierdie gehoor kyk nie – ek moet na die publiek kyk.

“Die volgende aand bel ek die man by die teater. Dis volbespreek.

“En die rolprent loop en loop. ’n Vol huis vir ses weke. Die laaste twee dae het Tukkie-studente in busse aangekom. Ek was so verbaas.”

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.