Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Jeff Radebe: As pendelaars nie tolgeld kan bekostig, moet hulle trek
Jeff Radebe, voormalige minister van vervoer. Foto: Argief
Nazir Alli, uitvoerende hoof van Sanral. Foto: Argief

 Indien pendelaars nie tolgeld kan bekostig nie, moet hulle trek.

Dié voorstel is deur Sanral aan Jeff Radebe, voormalige minister van vervoer, gemaak toe aansoek gedoen is dat die Wynlande-tolprojek op ministeriële vlak goedgekeur word.

Sanral het ook dieselfde voorstel gedoen in sy aansoek om ministeriële toestemming vir die Gautengse e-tolprojek.

Dié aansoeke wat deur Nazir Alli, uitvoerende hoof van Sanral, aan die minister van vervoer gestuur is, is van die hofdokumente wat by die Wes-Kaapse hooggeregshof ingedien is in die Kaapse stadsraad se aansoek om die Wynland-tolprojek onwettig te laat verklaar.

In die Sanral-aansoek aan die minister van vervoer staan: “Huidige padgebruikers wat nie die voorgestelde tol kan bekostig nie, of hul toluitgawes wil beperk, het die keuse om alternatiewe roetes te ry, openbare vervoer te gebruik, saamrygeleenthede te skep of nader te trek aan die eindbestemmings waar hulle wil wees.”

Lees ook: ‘Paaie nie so sleg soos wat Sanral sê

Maar kundiges wat die uitwerking van die voorgestelde tolprojek vir die Kaapse stadsraad ondersoek, sê “nee”. Arm en middelklas-inwoners kan nie bekostig om bloot te trek na ander woonbuurte nie.

Die verslag van Tony Barbour, ’n omgewingsimpak-konsultant wat die uitwerking van die voorgestelde Wynland-tolprojek namens die Kaapse stadsraad ondersoek het, is deel van die bondel dokumente wat by die hof ingedien is.

Volgens Barbour wys Sanral dat hy “nié die vermoëns van huishoudings met lae inkomste in ag neem” om verhoogde vervoeruitgawes te kan bekostig wat met die tolheffings gepaard gaan nie.

Prof. Bernal Floor, ’n vervoerekonoom wat ook ’n studie vir die Kaapse stadsraad gedoen het, voer aan dat Sanral “beperkte inligting” aan die minister verskaf het oor die bekostigbaarheid van die toltariewe of die gewilligheid van pendelaars om te betaal.

“Daar is geen inligting verskaf oor kwesbare padgebruikers se vermoë om enigsins tolgelde te kan bekostig nie,” volgens Floor se studie.

Hy verwys verder na ’n inkomste-studie wat in November 2000 deur Protea Parkways-konsortium (die voorkeur-bieër vir die Wynland-tolprojek) gedoen is.

Volgens Floor het dit nie die publiek se weerstand teen die tolprojek in ag geneem nie. 

Lees ook: ​Sanral moet sê waar dié bewyse is

“ ’n Studie wat in 2010 deur die konsortium gedoen is, het bevind 75% van padgebruikers is gekant daarteen dat die N1 en N2 getol word,” is deur Floor aangevoer.

Hy meen die inligting wat Sanral aan die minister gegee het om sy toestemming vir die Wynland-tolprojek te gee, was onvoldoende.

In Sanral se repliek op die Kaapse stadsraad se beëdigde verklaring in sy hofaansoek, noem Alli dat die stadsraad aanvoer omdat die tol van Gautengse paaie nie gewild was nie, die projek heroorweeg moes word.

“Om paaie te tol was ongewild sedert dit in die 1980’s in Suid-Afrika ingestel is. Sanral kan nié gekortwiek word om sy statutêre mandaat uit te voer omdat sy besluite ongewild is nie,” word in Alli se beëdigde verklaring (wat op 8 April 2013 gemaak is) aangevoer.

“Sanral kan nie deur openbare sentiment gedikteer word nie,” volgens Alli. Hy het toe aangevoer dat Gautengse padgebruikers besig is om teen ’n vinnig pas e-skyfies aan te skaf.  

 

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.