Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Jesus se ‘vrou’: Papirus nie vervals
Die antieke stukkie papirus van 4 cm x 8 cm waarop Jesus verwys na sy vrou, sy ma en ’n vrouedissipel genaamd Maria. Navorsers aan die Harvard-universiteit se teologieskool het ná navorsing van twee jaar bevind dit is nie &

Kaapstad. – “Jesus het aan hulle gesê: My vrou . . . ”

Kenners aan die Harvard-universiteit in die VSA se teologieskool het onlangs bevestig die antieke papirus waarop dié woorde geskryf staan, is nie ’n vervalsing nie.

Dit kom ná navorsing van twee jaar waarin die ouderdom van die papirus, ink en die skrif getoets is deur dié universiteit, onafhanklike kenners en die Columbia-universiteit en die Universiteit van Massachusetts.

In die teks word verwys na Jesus se vrou, sy ma en ’n dissipel genaamd Maria, het prof. Karen King van Harvard se teologieskool gesê.

Die fragment, wat in Kopties, ’n taal verwant aan Egipties wat vroeë Christene gebruik het, geskryf is, dateer van tussen 659 n.C. en 859 n.C.

King het in ’n verklaring gesê die teks se oorsprong kon vroeër gewees het, al van die tweede eeu ná Christus. Dit kan ’n afskrif van ’n vroeër Griekse weergawe wees, het sy gesê.

Sy het beklemtoon dat dit nié genoeg bewys is dat Jesus wel ’n vrou gehad het nie.

“Die fragment bevestig net dat vroue wat ma’s en eggenote was, wel dissipels van Jesus kon gewees het. Dit is ’n onderwerp waaroor baie gedebatteer is deur vroeë Christene toe selibaatskap toenemend op prys gestel is,” het sy gesê.

Sy het genoem dat daar ’n ander teks is, die evangelie van Philip, wat onlangs opgespoor is, waarin daar ook na Jesus se vrou verwys word. Daar was vrae oor die egtheid van die teks omdat die oorsprong onbekend is. Daar is op albei kante geskryf.

Sy het dit in 2012 by ’n anonieme private versamelaar opgespoor en die enigste dokumentasie daaroor is ’n koopstrokie uit 1999.

Daarop is ’n verwysing dat iemand dit in 1963 in Egipte saam met vyf ander papirusse gekoop het.

In die teks bespreek die dissipels of Maria werd is om ook een te wees en Jesus antwoord: “Sy kan my dissipel wees.”

King het gesê dit open net ’n debat oor hoe familie, vroue en die huwelik deur die vroeë Christene beskou is.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.