SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Nuus
Jhb-treinbotsing: 1 sterf, sowat 100 beseer
Die ongelukstoneel by die Denver-treinstasie in Johannesburg waar een trein 'n ander van agter getref het. Foto: ER24
Foto: ER24
Foto: ER24

’n Veiligheidswag op een van die treine wat Dinsdagoggend by die Denver-treinstasie in die suide van Johannesburg teen 'n ander trein gebots het, is in dié botsing dood.

Tiyani Rikhotso, woordvoerder van Dipuo Peters, minister van vervoer, het die Metrorail-veiligheidswag se dood bevestig.

“Minister Peters stuur haar medelye aan die familie van die Metrorail-wag wat in die Denver-treinongeluk dood is,” het hy getwiet.

Lillian Mofokeng, woordvoerder van Metrorail, het vroeër bevestig dat een trein omstreeks 07:00 ’n ander trein van agter getref het. Albei treine het van Pretoria af gekom.

Luidens ’n verklaring deur ER24 het die treine gedeeltelik ontspoor en het een van die treine teen die muur van ’n gebou tot stilstand gekom.

Die wrakke van die treine het die treinspore heeltemal blokkeer. Gebuigde metaal en dele van die treine is oor die toneel versprei gelê.

’n Vrou is tussen die trein en die muur vasgekeer.

Reddingswerkers het gespook om haar te bevry. Sy is kritiek beseer en ’n mediese helikopter van ER24 het haar na ’n nabygeleë hospitaal vir dringende mediese behandeling gebring.

Luidens ’n verklaring deur Netcare 911 is omtrent 100 mense in die ongeluk beseer. Hul beserings wissel van matig tot kritiek.

Die pasiënte is van die ongelukstoneel na ’n nabygeleë treinplatform gebring waar hulle deur die verskeie nooddienste behandel is. Hulle sal na verskeie hospitale gebring word.

Volgens Rikhotso is Peters na die toneel onderweg.

Die departement het ’n beroep op die spoorweg-veiligheidsreguleerder (RSR) en passasier-spooragentskap (Prasa) gedoen om die ongeluk te ondersoek.

Peters wag ook op ’n verslag van Metrorail oor die ongeluk.

Dr. Neil Campbell, DA-woordvoerder oor paaie en vervoer in Gauteng, het in ’n verklaring gesê die ongeluk is na bewering veroorsaak deur seinstelsels wat nie behoorlik werk nie.

“Die tragedie kon vermy gewees het as Prasa aandag gegee het aan die skokkende toestand van spoorweginfrastruktuur,” het hy gesê.

Hy meen Gauteng – wat reeds gebuk gaan onder die e-tolstelsel en stygende brandstofpryse – kan nie bekostig dat sy spoornetwerk ineenstort nie.

Campbell het gesê indien dít gebeur, sal baie arm en werkersklasmense sonder vervoer gelaat word en kan hulle moontlik hul werk verloor.

Die implementering van Prasa se herkapitaliseringsplanne moet ’n prioriteit wees vóór Gauteng se ekonomie en spoornetwerk nog meer skade ly, het hy gesê.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.