Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Joost ontroer met sy hulde aan Linee
Tinus Linee se ma, Clara, die minister van sport, Fikile Mbalula en Linee se vrou, Diana. Foto's: Nasief Manie
’n Bewoë Chester Wiliams, tydens sy huldeblyk aan sy boesemvriend, die ontslape Tinus Linee
’n Bewoë Chester Williams ten tyde van die roudiens vir sy boesemvriend Tinus Linee.
Onder die draers was die oud-Bokke Dale Santon en Kobus Wiese, ’n voormalige WP-breier, Jerome Paarwater, en die oud-WP-ligaspeler Quinton Daniels.
Diana Linee by die kis van haar man, die oud-Springbok- en WP-speler, Tinus Linee.

Voel veilig my broer, ons sal almal eendag saam wees. Maak asseblief seker dat ons in dieselfde span is. Jy het my gehelp om sterker te wees. Tot ons weer ontmoet, Joost.

Toe dié huldeblyk van die ­oud-Bok en motorneuronsiekte (MNS)-lyer Joost van der Westhuizen Saterdag in die roudiens vir die oud-Bok en WP-speler ­Tinus Linee deur Gavin Varejes van die SA Rugby Legends voorgelees is, het rouklaers in die stampvol VG kerk Huguenot na hul sakdoeke gegryp.

Die 45-jarige Linee is verlede Maandag ná ’n lang stryd teen MNS oorlede.

In die voorste ry het sy vrou, Diana, langs die minister van sport, Fikile Mbalula, en haar skoonma, Clara (85), gesit.

Links van haar het talle van Linee se oud-spanmaats gesit. Af en toe het van die grotes vooroor geleun, of net met ’n sakdoek of hand oor die oë gevee.

In die kerk was ook die waarnemende Wes-Kaapse premier, Anton Bredell, Kaapstad se burgemeester, Patricia de Lille, die oud-Bokke Francois Pienaar, Kobus Wiese, Wayne Julies en Chris Rossouw, die oud-Protea-speler en rugby-administrateur Dougie Dyers, die voormalige Bok-afrigter Peter de Villiers, die voormalige SA sewes-afrigter Paul Treu, die oud-Bok-bestuurder Arthrob Petersen, en ’n gewese president van Boland-rugby, Francois Davids.

Clara Linee is vorentoe gehelp om ’n kers vir haar seun op te steek.

Ds. Freddie Ayford het uit Psalm 121 voorgelees en onder meer gesê: “Tinus het sy persoonlike pad met die Here aan sy regterkant gestap.

“Hy het, soos die pelgrims, net na die Here geroep. Hy het die berg met God uitgeklim, tot die einde.”

Linee se boesemvriend, die oud-Bok Chester Williams, het in sy spreekbeurt gesê: “Tienie, jy het ons trots gemaak, op en van die veld. Ons het as seuns saam Simba-tjips geëet, vlakkie- rugby gespeel en drome gehad van hoe ons eendag sterre wou word.

“Ons sal jou never say die attitude nooit vergeet nie.”

Mbalula het Linee as “een van die helde van Suid-Afrikaanse sport” beskryf.

Hy het Diana geprys as “ ’n rots en ’n rolmodel vir vroue”.

“Jy het jou man bygestaan deur sy bekendheid én met hom gebly tot op die drumpel van die dood.

Volgens Mbalula is borge gekry vir ’n Tinus Linee-rugbyakademie en word die Steve Tshwete- lewenslange toekenning (postuum) aan Linee toegeken.

Diana het daarna die brandende kers simbolies doodgeblaas.

Linee is in die Klein Parys-begraafplaas begrawe.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.