Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Kaaps is ‘diep en straight met curves’
Erken dié variëteit van Afrikaans
Anders as wat sommiges dink, is Kaaps g’n joke-taal nie, skryf Michael le Cordeur .
Adam Small

DIE jong digter Nathan Trantraal, wat soos Adam Small en Peter Snyders in Kaaps skryf, het hom onlangs sterk uitgelaat oor dié twee digters en beweer hulle het Kaaps “ ’n joke-taal gemaak”.

“Hulle het gedink dis ’n taal waarin jy sing en dans, ’n f****n coon-taal,” het Trantraal gesê.

Ek stem nie saam nie.

Laat ek uit die staanspoor sê dat dit nie gaan oor Kaaps as amptelike taal nie. Dit gaan hier om groter erkenning vir ’n belangrike variëteit van Afrikaans.

Tans heers ’n hewige debat oor die gebruik van taal as medium van onderrig. Dit is geen geheim nie dat Suid-Afrika se leerlinge swak presteer op akademiese gebied. Dit geld ook die leerlinge op die Kaapse Vlakte.

’n Kernaspek in die aflewering van ’n kurrikulum is hoe kennis ontvang, gekonstrueer en oorgedra word.

Navorsing toon dat die Standaardafrikaans waarin die toetse gestel word, die prestasie van leerlinge wat Kaaps praat, benadeel – ondanks ’n beleid wat sê dat taal nie ’n hindernis moet wees vir onderrig en leer nie.

Kaaps, ons kom van ver af

Teen 1701, byna 50 jaar ná Jan van Riebeeck se koms na die Kaap, was daar vier groepe mense aan die Kaap: 1 491 slawe (wat meestal Maleis gepraat het), 1 265 Vryburgers (wat verskillende Europese tale gepraat het), 550 VOC-amptenare (wat Hollandssprekend was) en duisende Khoi-Khoi.

Afrikaans het sy beslag as taal gekry toe slawe van Asië en Afrika, sowel as die Khoi-Khoi Hollands moes aanleer om in ’n groeiende kolonie in interaksie met hul Hollandse meesters en met mekaar te kon oorleef en funksioneer. Afrikaans se wortels lê dus oor drie kontinente versprei: Europa, Asië en Afrika.

Mettertyd is daar drie soorte Afrikaans aan die Kaap gepraat: Kaapse Afrikaans (slawe), Oranjerivier-Afrikaans (Khoi) en Oosgrens-Afrikaans (Vryburgers en veeboere in die binneland). Laasgenoemde variëteit het tot Standaardafrikaans ontwikkel, maar vandag is daar eenstemmigheid dat hoewel dié variëteit vir die hoë funksies (lees- en skryf) gebruik word, dit nie impliseer dat dit ’n meer korrekte (“suiwer”) vorm van Afrikaans is nie. Net so is Kaaps nie “swak Afrikaans” nie, dis ’n ander variëteit.

Kaaps is wyd gepraat

Binne die veeltalige kontaksituasie van die Kaap in die 17de en die 18de eeu het Kaaps gefloreer. Dit kom voor onder die Vryburgerboere, in die dagboek van Louis Trichardt en in die gedigte van Eugène Marais.

Met die vrystelling van slawe in 1838 was Kaaps die dominante taal van die slawe en swart mense. Teen 1808 was Kaapse Afrikaans die huistaal van die meeste Kapenaars, naamlik 63 000. Vandag word dié variëteit gepraat van die Bo-Kaap tot in die Boland, langs die Weskus tot by die Sandveld, en langs die Suidkus tot by die Overberg en die Klein-Karoo.

Kaaps en Standaardafrikaans

Kaaps en ander variëteite van Afrikaans is afgemaak as substandaard (of “swak Afrikaans”). Kinders wat met Kaaps grootgeword het, moes hul skoolwerk in ’n vreemde vorm van Afrikaans doen en voorgeskrewe boeke het ’n ander leefwêreld voorgestel as dit waarmee die kinders vertroud was.

Onlangs moes die minister van basiese onderwys die keuse van Adam Small se drama Krismis van Map Jacobs as voorgeskrewe werk in matriek verdedig nadat ’n parlementslid beswaar gemaak het teen die “rassistiese taal, godslastering, en swak Afrikaans” (!) in die drama. Hy wou weet wat die drama se opvoedkundige waarde en bydrae tot nasiebou is, en of dit wit mense se menswaardigheid benadeel.

In Volksblad se susterkoerant Die Burger van 28 Mei antwoord Johann Maarman hierop. Kortliks kom dit daarop neer dat daar ’n tyd was toe bruin mense nie begryp het waarom hulle die Groot Trek moes leer nie. Vandag weet ons dat húl geskiedenis ook óns geskiedenis is; geweef met swaarkry, dapperheid en uithouvermoë.

Matrikulante wat Krismis van Map Jacobs lees, sal besef dit gaan oor die lot van mense wat deur apartheidswette verskuif is na die Kaapse Vlakte, waar hulle ’n uitsiglose bestaan voer en worstel om hul identiteit te behou. Dit leer ons jeug om nie die foute van die verlede te herhaal nie.

Smal ‘vader van Kaaps’

Dit was Small wat Kaaps vir altyd in die Afrikaanse poësie en drama gevestig het. In ’n onlangse epos aan my skryf die gevierde akteur Anthony Wilson (Speedo): “Adam Small is die grootste eksponent en die vader van Kaaps.” Ná Small se bundel Kitaar My Kruis (1962) was daar heelwat kritiek op die gebruik van Kaaps. Dit sou kwansuis die bruin mense stereotipeer. Small het sy kritici soos volg geantwoord:

Ek sê ek praat met djou in Kaaps /

Here, some van my critics /

het nog never in allie djare/

my taal hierso geperform nie /

ek sê ma net weer net soes lank gelede /

die’s g’n Gamat-taal nie. /

’n straight en diep taal vannie mense /

waar hulle in gebore word.

In die voorwoord tot die herdruk van Kitaar My Kruis skryf Small: “Kaaps is ’n taal, ’n taal in die sin dat dit die volle lot en noodlot van die mense wat dit praat, dra; ’n taal in die sin dat die mense wat dit praat, hul eerste skreeu in die lewe skreeu in hierdie taal, al die transaksies van hul lewens beklink in hierdie taal, en hul doodsroggel roggel in hierdie taal. Kaaps is nie ’n grappigheid of snaaksigheid nie, maar ’n taal.”

Volgens Small is Kaaps dus ’n volwaardige, selfstandige taal; ’n effektiewe taal van verset teen politieke onreg. Kortom: Dis ’n taal wat sy sprekers se diepste gevoelens verwoord.

Peter Snyders se bydrae is net so groot en belangrik. Vir hom was Kaaps nog altyd sy erns, en hy verdedig die taal in sy poësie, drama en kortverhale. ’n Akademikus en skrywer van die Nelson Mandela- Metropolitaanse Universiteit in Port Elizabeth, Robert J. Pearce, skryf in ’n brief op LitNet dat Snyders se gedigte in sy bundels ’n Ordinary Mens (Of hoe?) en Waarskynlike Mens (Moedertaal) van die mooiste gedigte in Kaaps bevat.

Kaaps en Caps

Dit is ook gepas om te verwys na die nuwe Caps-kurrikulum, wat bepaal dat die volgende doelwitte aangeroer word: “(O)m leerlinge, ongeag hul sosiaal-ekonomiese agtergrond, ras, geslag, fisieke of intellektuele vermoë, toe te rus met die kennis, vaardighede en waardes wat nodig is vir selfvervulling en betekenisvolle leer.”

Beginsels van Caps wat met die Small-drama aangeraak word, sluit in sosiale transformasie, menseregte, inklusiwiteit, om sensitief te wees vir kwessies van diversiteit soos armoede, ras, taal en geslag, en waardering vir inheemse kennissisteme.

Transformasie is nodig

Dit bring my by dié vraag: Hoe verreken ons Kaaps in terme van die Grondwet wat sê “elke leerling het die reg op onderrig in die taal van sy keuse, waar dit redelik uitvoerbaar is”?

Ek herinner lesers aan die debat oor moedertaalonderrig waar leerlinge ’n Afrikataal (soos Afrikaans) tuis praat, maar gedwing word om in Engels skool te gaan.

Dieselfde geld Kaaps. Waar variëteite vroeër as minderwaardige vorme beskou is, word dit vandag aanvaar as gelykwaardige onderdele wat die taal verryk. Transformasie is dus nodig. Dit moet by die owerhede begin, maar die sprekers van Kaaps het self ’n kopskuif nodig. Op die lange duur is dit hul kinders wat daaronder ly.

Is dit haalbaar? hoor ek mense vra. Natuurlik! As dit elders in die land aanvaarbaar is as leerlinge “pô” en “mô” gebruik in ’n mondelinge toets, waarom nie dieselfde ruimte vir sprekers van Kaaps gun nie?

In ’n taalhandboek waaraan ek help skryf het, het ek idiome in Kaaps ingesluit. En woorde in Kaaps wat algemeen voorkom, behoort as sinonieme vir die standaardvorme aanvaar te word. Dit kan selfs in woordeboeke opgeneem word.

Die onderrig van werke soos Krismis van Map Jacobs moet uitgebrei word, want dit is steeds relevant om temas soos vergifnis en versoening op skool te onderrig – nie net in terme van Caps nie, maar ook ter wille van nasiebou.

Draer van identiteit

Baie water het sedert 1962 oor die Kaapse Vlakte geloop. Small se werk is uiteindelik in die Lente van 2012 deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns met die Hertzogprys bekroon. Sodoende is nie net aan Small die erkenning gegee wat hom toekom nie. Ook Kaaps, die taal waarin Small gewerk het, het erkenning ontvang van een van die belangrikste gesagstrukture op die gebied van Afrikaans.

Vandag vorm gedigte en dramas in Kaaps deur digters soos Small, Snyders, Marius Titus en ander deel van die skoolkurrikulum, en Sulfa Otto-Allies se Diekie vannie Bo-Kaap word in die senior fase in talle skole gelees en bestudeer.

Taal is nie net ’n middel tot kommunikasie nie. Dit is ryk aan kultuurgoedere; ’n draer van identiteit en waardes. Met Kaaps is dit nie anders nie. Die sentimentele waarde wat aan die werk van Small en Snyders geheg word, die gewildheid van rap- en hip-hop-kunstenaars soos Brasse Vannie Kaap, en die sukses van teaterproduksies soos Joe Barber en Ghoema! is bewys van die intieme wyse waarop die sprekers van Kaaps hulle met hierdie variëteit van Afrikaans vereenselwig.

Sonder twyfel kan gesê word dat dit nie net ’n bepaalde status geniet nie, maar ook ’n energie ontketen by sy sprekers in die arm werkersklas-townships op die Kaapse Vlakte en bruin woongebiede elders.

’n Taal met ‘curves’

Taal is een van die groot uitdagings wat in die pad van akademiese sukses staan. Die vraag is of die taal waardeur die leerplan oorgedra word, geskik is om ’n getransformeerde kurrikulum daar te stel wat sy rol in ’n nuwe Suid-Afrika effektief kan vertolk.

Ek glo die teendeel. Veral die kind wat met Kaaps grootgeword het, word benadeel. Juis daarom behoort ons taal op ’n inklusiewer wyse te bestuur, sodat alle leerlinge sal tuisvoel in ’n ubuntu van taal.

Ons is dit aan ons kinders verskuldig.

Ek sluit af met gebed deur Small vir Kaaps en Afrikaans: ‘‘. . . seën hierie taal oek Here,/Kaaps en Afrikaans / wat, soes ek Djou vertel het / singend is, bestem virrie kitaar: / ’n taal met curves, het ek ei’ Djou gesê, / soes van ’n sexy engel . . .’’

• Dr. Le Cordeur is verbonde aan die Universiteit van Stellenbosch se fakulteit opvoedkunde. Hy is ook voorsitter van die Afrikaanse Taalraad. Hierdie is ’n opsomming van ’n onlangse referaat.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.