Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Kamfersdam en sy flaminke op pad na herstel

KIMBERLEY. – Ná vele maande se negatiewe nuus oor die gehalte van die water in Kamfersdam, is daar nou hoop.

AfriForum het die Sol Plaatje-munisipaliteit gister gelukgewens met die verbetering van die gehalte van die water wat uit die Homevale-rioolaanleg in Kamfersdam gepomp word.

Kobus van den Berg, plaaslike voorsitter van AfriForum, sê hulle het gesien water word nie meer op groot skaal in die Kamfersdam gepomp nie. Die watervlakke is besig om te daal en die broei-eiland vir flaminke is weer oop. Dit is die mensgemaakte eiland waarop die voëls altyd gebroei het voordat dit onder die water verdwyn het.

“Daar is nog besoedelde water wat voorheen ingepomp is. Volkome rehabilitasie sal tyd neem, maar die vordering is reeds sigbaar. Dit is verblydend dat die munisipaliteit die probleem wil oplos.

“Voorheen is verskeie prosesse in die rioolaanleg nie gevolg nie. Die aanleg het ook nie die kapasiteit gehad om al die riool te hanteer nie,” sê Van den Berg.

Kamfersdam is een van die min flamink-teelgebiede in Suid-Afrika.

“Die gebied om die dam het plek-plek in ’n stink moeras verander wat nadelige gevolge vir mens en dier ingehou het. Flaminkgetalle het drasties afgeneem en Transnet moes selfs sy treinspoor naby die N12-roete versterk.”

Die munisipaliteit het intussen baie geld bestee om die rioolaanleg te herstel. Met AfriForum se nasionale Blou-en-Groendruppel-takprojek is 120 dorpe se drink- en rioolwater getoets. AfriForum het toe besef die pompe by die aanleg werk weer.

Ingeligtes sê die raad het bekwame amptenare aangestel wat die aanleg voortdurend monitor en toesien dat die regte prosesse gevolg word. Die chloorprosesse, wat sedert Januarie gebruik word, verseker dat die rioolwater nou korrek behandel word.

Herbert Booth, wat langs die dam boer, sê hy kan sien die watergehalte het verbeter. Die eiland is al meer sigbaar omdat die watervlakke daal. Die watervoëls gaan rus reeds op die platform. Hy reken die eiland sal binne twee weke heeltemal uitsteek.

Die eiland is jare gelede deur Mark Anderson, bekende in bewaringskringe wat toe by die departement van natuurbewaring gewerk het, en skenkers gebou sodat die kleinflaminke kan broei.

Sello Matsie, munisipale woordvoerder, sê hul watergehalte is goed.

“Ons verkoop reeds jare ons gesuiwerde water aan diamantmyne. Baie van die water word ook nou weggepomp van Kamfersdam na ’n pan naby Langleg. “Al ons masjiene en pompe werk perfek. Die opgaardamme is ook skoon- en reggemaak. Ons het oor ’n paar jaar baie geld bestee en is tevrede dat die aanleg goed funksioneer. Ons sal dit ook so hou.”

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.